Sabbat Sjalom.
Die streng voorstaan van sekere oortuiginge gegrond op wonderdadige werkings of verskynsels kom die mensdom reeds deur eons heen met pyn oor.
'n Mens lees byna daagliks in die nuus van renosters wat gemaai word vir hul "magiese horing". Ter wille van politieke korrektheid word daar verswyg hoeveel maagde daagliks aan Mzansi verkrag word om glo HIV/VIGS te genees. Dan is daar die malles wat in geboue vas vlieg met stralers vol onskuldige mense in hul waan dat 'n harem vol maagde in die hiernamaals as beloning op hul bose daad wag ...
Maar dan is daar die kreasionisme.
Op die oog lyk die spulletjie heel onskadelik totdat jy hul voetspoor op ons planeet begin ondersoek.
My eerste te doen met die kreasionisme was baie jare gelede met die "red St Lucia" veldtog. Daar is gereeld openbare vergaderings gehou om mynbedrywighede wat die duine van Mapelane tot anderkant Cape Vidal sou omdolwe te bespreek.
Ek is baie lief vir die plek en ek was gereed om myself voor die eerste stootskraper te gooi.
Wat my verstom het was die naïwiteit van 'n groepie besigheidsmense op St Lucia wat heel ten gunste was vir die vernietiging van die duine. Boonop was hulle ook diep godsdienstig. Hulle het hul rede gevoer dat dit die mense in die omgewing van werk sou voorsien en dat dit die hele geldprentjie in die omgewing sou verryk.
Daardie jare was die vooruitsig van St Lucia as wêrelderfenisgebied nog nie so duidelik nie. Die keuse was dus tussen myne of armoede vir die klomp wat in ieder geval besig was om die Dukuduku Woud sonder enige hart af te kap.
Die kreasioniste se mening was onwrikbaar; God het die hele kosmos in ses dae geskape. Niks wat die mens hier op aarde doen kan die skepping ongedaan maak nie. Naasteliefde eis dat ons ook aan ons medemens se finansiële voorspoed moet dink en daarom die myners moet laat begaan.
(Hel, dis seer om bloot die boonste sinnetjie te tik - dalk is ek nog nie gereed na al my trauma oor die saak destyds nie).
Nietemin, ek het die titel ateïs met oorgawe op myself geneem solank hulle net nie die duine myn nie.
Sinnebeelde oor hoe deeglik ons Almagtige Skepper tyd neem en hoe GOD oor biljoene jare heen die wonder om ons geskep het (en steeds skep), kon nie in hul plataarde koppe vastrapplek kry nie.
Hoekom moes GOD so haastig wees om als in 'n aardse week die hele Kosmos te skep? Wat is so besonders aan ons blou spikkeltjie om as verwysingspunt in vyftien biljoen jaar se Skepping te dien? Is ewigheid tot in ewigheid nie vanself 'n groot genoeg wonder nie? Daar is mos meer as genoeg tyd in alle ewigheid om te laat geskied wat God wil laat geskied!
Nou ja, God het die wonder in guns van die ateïste laat sied.
St Lucia se duine is gespaar.
Nie dat ek enigsins gerus voel oor die saak nie. Die kreasioniste se kapitalistiese meesters weet tye sal verander en dat hulle genoeg intussen het om hulle tussen Richardsbaai en Mapelane besig te hou totdat die tyd weer ryp is. 'n Mens kan net bid dat St Lucia se wêrelderfenis status 'n stok in hul mynmasjinerie sal bly.
St Lucia is nie eens 'n roering op die Richterskaal nie. 'n Mens sien die kapitaliste se verwoesting met kreasioniste se waanheil daarop reg rondom op onse Moederaarde.
Die feitelike onmeetlike tydruimtes waaroor lewe, grond en water op aarde gedy en evolueer, kan volgens kreasioniste in 'n enkele aardse dag in God se Almag herskep word - "so why worry?".
Ek is ook oortuig van God se almag. Maar hoekom moet die mens God troef deur die genade wat ons in die skepping om ons het te versmaai ter wille van gedrukte papier? Is sulke illusie van rykdom meer werd as 'n boom of 'n ander se hart?
Daar is seker menige voorbeeld om die onsin aan kapitalisme te demonstreer. Die punt is dat geen ideologie sonder 'n bepaalde vorm van godsdiens kan bestaan nie. Kapitalistiese oorlogshond ideologie is reeds eeue aan't werk. Die hoeksteen daarvan is die soort fundamentele kreasionisme waarmee die werf die afgelope ruk met onsin soos "Darwin se evolusieleer" geteister word.
Mag Jesus Christus ons Almagtige Lewende Skepper wat in die oomblik voor die Oerknal reeds daar was, self die Skeppingsmag in 'n ieder se hart wees wat hier lees.
Namaste!
Futuristiese Abrahamitiese Hindoe en Boeddhistiese katolieke liefde,
Cornelius Henn

