Reënboognasie
Ons nuwe reënboognasie
kom sing en dans met my
‘n Mengelmoes van kleure
en nou eers waarlik vry
Ons is ‘n reënboognasie
die Heer ‘t ons hier gesaai
soos Namakwaland se blomme
hul kleurprag son toe draai
Waar ons al vandaan kom
van nasies oor die see
Of hier ons wortels het
net Afrika kon dit ons gee
Klopse met hul kleure
sien ons so dan en wan
Basoeto en die Tsongas
en dan ook nog die San
Zoeloes is daar baie
die Xhosas nog daarby
Sepedi en groepe Tswanas
dié sal jy oral kry
Vendas en Ndebeles
die skilder kleurvol mooi
maak deel uit van die nasie
in kleure-prag getooi
Ken jy die Namariel
as hul so stof opskop?
Die Swazi met sy spies
dié hou hy bo sy kop
Sal U dan met ons wees
God seën tog Afrika
ons hele reënboognasie
as ons U leiding vra


