Reistog na die wildevy

  • 0

Ek verheug my aan die herfslug hoewel die bosveldson steeds bloedig steek in die middel van die dag. Ek begin my staptog met ‘n kinderlike opgewondenheid.       

 Ek was lanklaas by die krans; ek kan nie wag om te sien of die wildevy al begin verkleur het nie. Die kwêvoël skinder oor my teenwoordigheid in die veld. Ek stop 'n oomblik by die groot olienhoutboom; die kinders se toorboom. Hoeveel ure het ons nie onder hierdie boom omgedroom nie!

Die hartseer in kinderogies toe ons een Desember hier kom en die boom is totaal verdroog. Hulle toorboom was dood ... Maar so wonderlik is God se skepping, want skaars drie weke later na 'n ordentlike reënbui, staan dieselfde boom oortrek met groen blare.

My voete neem my deur die droë sloot waar vroeër 'n leivoor was. Ek strompel versigtig oor die klippe en stompe. Ek weet wat ek doen is so dwaas, maar ek weier om op te gee. Vorentoe moet ek deur ‘n stywe draad kruip en my rug protesteer kwaai.

'n Reuse-veldspinnekop wag my in waar die paadjie tussen twee doringbosse deur kronkel. Ek kyk rond vir ‘n lang tak, sien die wilde pienk vingerhoedjies en begin rondkyk vir nog veldblomme. Op die grond rank donkerpers blommetjies. Klein, volmaak en ongelooflik mooi. Ek sit op my hurke en kyk en kan amper nie weer opkom nie.

 Die web van die spinnekop is so kunstig geweef, ek staan en kyk in verwondering voordat ek 'n ompad begin soek. Die takke krap my bloedhale oor my arms, maar eindelik is ek weer terug in die paadjie.

Nog 'n draad en nou kan ek in die droë rivierbedding begin afstap tot by die krans. Stadig en versigtig oor die groot klippe klim. Ek sou wat wou gee dat die kinders hier kon wees. Ek verbeel my ek hoor hulle stemme. Daar lê die klippies waarmee hulle altyd op die groot klippe geskryf het.

"Kyk, Ma! Hierdie een skryf geel.”

“Die een skryf blou!”

 “Myne is die mooiste, dit skryf pienk!”

Al drie is so lief vir die natuur. Sou hulle ook ons uitstappies so baie mis soos ek? Die kwêvoël skree reg bokant my en ek wip soos ek skrik. Ek sit op 'n groot klip en kyk na die klipvaring wat teen die walle van die rivierbedding groei. Die klipvaring is 'n taai plantjie. Net so taai soos die mense van hierdie omgewing.

Is ek nog taai? Taai soos vroeër? Toe ek al die skoppe en dwarsklappe van die lewe kon hanteer? Ek trek my skouers op. Ek weet wraggies nie. Ek voel nie meer taai nie. As pyne jou baas word, is jy seker maar aan die sawwe kant.

 Die klippe raak minder en ek trek my skoene uit. My tone voel tuis in die riviersand. Ek stap stadig in die droë rivierbedding af. Dis nie meer ver nie; ek stap stadig en al kuierende in die koel klam sand af. Teen die wal sien ek die mooiste purperwinde en ek stop om die mooi kleure in te drink. “Morning Gloria’s”, sal die meeste mense dit noem; vir my altyd nog purperwinde, want dit is hoe Ma dit genoem het. Vir haar was dit nooit 'n parasietplant nie, maar iets wat sy ook in haar tuin wou plant.

'n Vleiloerie gesels uit die dieptes van die bome terwyl ek stilstaan en ek maak aanstaltes. Skielik besef ek hoe baie soorte voëls hier in die omgewing van die riviertjie is. Ma het ook eens gesê voëltjies sing psalmies, onthou ek nou. 'n Diep sug val hard uit my borskas uit. Ma is lankal weg; ons kameraderie iets van die verlede.

Eindelik! Ek sien die krans. My gunstelingplek. Aan die voet van die krans lê die groot ronde klippe soos 'n soliede klipvloer. 'n Meesterstuk uit 'n Meester se hand geskep. My oë soek al langs die krans af vir die wildewy.

Ek voel my keel dik raak. Die wildevy is morsdood. Ek stap nader so vinnig soos my moeë bene my toelaat. Hoe nader ek kom, hoe groter die sekerheid. Die ranke teen die krans is net dooie stukke hout wat plek-plek al afgebreek het.

Ek gaan sit op die rand van die rivierbedding met my rug na die krans. My tone boor in die sand. Skielik buk ek vooroor en grou soos ‘n besetene tot daar ‘n poeletjie water vorm. Met my voete in die water gaan sit ek met my oë toe. 

Ek sien die krans met die wildevy oortrek met herfsblare. Rooi, bruin, groen en hier en daar steek die droë stam teen die grys klippe af. Oral tussen die vy groei plakkies en oranjerooi blommetjies pryk spoggerig tussen die herfskleure van die wildevy. Hier en daar steek ‘n klipvaring kop uit en dra by om die prentjie volmaak af te rond.

 Ek bly sit met toe oë. Hoe lank weet ek nie. 'n Krieweling langs my ruggraat vertel my iemand staar na my. Ek loer versigtig deur my wimpers. 'n Klein blouapie sit oorkant my op 'n kareetak en kyk stip na my. Ek maak my oë heeltemal oop en glimlag onwillekeurig. Die beweging is genoeg om hom te verskrik. Hy retireer en skielik roer ‘n hele klomp ape in die bome langsaan. Ek staan moeisaam op en wonder hoe ek tuis gaan kom.

 Hy staan met ‘n skewe glimlag twee treë agter my.

“Ek het jou kom haal,” sê hy.

My man, my vriend, my redder soos vandag. Ek stap in sy arms in.

"Het jy gesien die wildevy is dood?” my stem is dik van ongehuilde trane.

"Ek het so lank gekeer dat jy hier moes kom. Ek wou jou spaar,” troos hy. “Jy weet daar sal weer nuwe plantjies wees, nè?”

“Vir ons kinders en hulle kinders om te geniet,” stem ek saam, “hulle sal hier kom piekniek hou en die wildevy in al sy prag sien groei.”

“Kom,” sê my beste vriend, “ons gaan huis toe.”

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top