Reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 0

Hier’s jou kans om met presies 1 001 woorde vir jou ’n lekker tamaaie reisprys los te skryf. Dié skryfkompetisie is verder ook uniek, want as jy wen, kan jy een van twee pryse as jou wenprys kies. Dis omdat reis so uiteenlopend is en nie alle reisigers mos dieselfde reis nie.

Opsie 1 is ’n avontuurlike Groot Vyf-bergfietstoer van drie dae in die Mthimkhulu-gebied van die Groter Krugerwildtuin. Twee spesialisgidse neem jou op ’n onvergeetlike reis. Akkommodasie en etes ingesluit. Opsie 2 is ’n ander tipe Groot Vyf-ervaring, of dan ’n Groot Vyfster-ervaring: twee nagte in Coopmanhuijs-vyfsterhotel in Stellenbosch vir die wenner en ’n metgesel. Plus aandete en ontbyt. Plus ’n spabehandeling vir elk.

As meriete-prys word ’n boekpakkie met vier lekkerleesboeke toegeken.

Die uitdaging vir skrywers is om LitNet-lesers na enige bestemming op reis te neem en enigiets op die pad daarheen, of by die bestemming, te laat gebeur – van adrenalien of tragedie tot komedie. Of net stilsit en dink om dalk daarna so ietsie meer te verstaan van die lewe. Maar soos die 1 001 Arabiese Nagte het ook jy net 1 001 woorde om jou reis te laat begin, lyf te gee en volsirkel te laat eindig.

“Wat is reis?” sou ’n mens dalk wil vra.

Goeie vraag, want die konsep het so baie dimensies. Om te skryf oor iets soos jou vakansie verlede jaar wildtuin toe is die mees basiese vorm van reisskryf, maar jy kan verder gaan en ’n verbeeldingsvlug in jou storie onderneem. Of ’n nostalgiese terugreis uit jou kindertyd herleef. Jy kan, in plaas van om net iets soos die uitklim van Kilimandjaro te beskryf, dit verder voer en die sielkundige ervaring daaragter blootlê. Die effek op die psigiese as gevolg van die fisiese. Vat die leser op reis deur jou kop en jou emosies. Hoe jy ryper geword het deur ’n uitdaging te oorkom is ook ’n reis. ’n Reis in jou kop en ’n reis vir jou siel.

Gerrit Rautenbach, stigtersredakteur van die reistydskrif mooiloop en skrywer van twee bundels reisverhale (Kopreis, Queillerie 2011en Hartepad, Queillerie 2013) en samesteller van mooiloop – mooiste reisstories (LAPA 2014) is die gasredakteur vir hierdie reisskryfkompetisie.

Jy is vry om te skryf net wat jy wil en daar is net een voorwaarde: jou verhaal moet presies 1 001 woorde lank wees – nie een woord meer of een woord minder nie.

“Die wêreld is ’n boek, en diegene wat nie reis nie, lees net ’n enkele bladsy,” is die wyse woorde van St Augustine. Hier is jou kans om daardie boek nog voller te skryf.

Reëls en voorwaardes:

  • Stuur jou bydraes na reis@litnet.co.za.
  • Die sluitingsdatum is 31 Maart 2015.
  • Die verhaal se titel vorm deel van die 1 001 woorde.
  • Let wel: Weens proeflees en redigering kan die woordgetal van jou verhaal verander in die weergawe wat op LitNet gepubliseer word. Jou inskrywing moet egter presies 1 001 woorde lank wees om vir die prys te kwalifiseer.
  • Jy mag tot drie verhale instuur, maar stuur eerder jou beste.
  • Jy is welkom om gepaste foto's in te sluit.
  • Inskrywings moet oorspronklike werk wees, en nie voorheen gepubliseer wees of verwerkings wees van enige materiaal wat voorheen gepubliseer is nie.
  • Dui op jou inskrywing aan of jy Opsie 1 (Bergfietstoer) of Opsie 2 (Coopmanhuijs-hotel) verkies. Die omvang van die pryse word hier onder beskryf.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie of gesprek sal daaroor gevoer word nie.
  • LitNet, die borge en organiseerders van die kompetisie word gevrywaar teen enige eise of voorvalle wat uit die kompetisie of die benutting van pryse mag voortspruit. Die wenner moet 'n vrywaring teken voor die prys in ontvangs geneem word.

Meer oor die prys-opsies

Opsie 1: Groot Vyf-bergfietstoer van drie dae in die Mthimkhulu-gebied van die Groter Krugerwildtuin

Toerboer is ’n avontuurtoerorganisasie en die aanbieders van hierdie toer. Vir meer inligting, besoek www.toerboer.co.za. Die prys se waarde is R10 500 (R5 250 x 2 persone wat deel) en sluit die volgende in:

– 3 nagte akkommodasie
(2 nagte kampering, alles ingesluit, in die Mthimkhulu-natuurreservaat en 1 nag lodgeverblyf by Selwane-natuurreservaat se Leadwood Lodge)
– alle etes terwyl op toer
– 2 spesialisgidse,

Uitgesluit:

– fietse (kan gehuur word)
– vervoer na en van Selwane-natuurreservaat (begin- en eindpunt van toer)
– verblyf die aand voor toer by Leadwood Lodge (aanbeveel).

Daar word gemiddeld 40 km per dag op ’n mengsel van enkelpad (“single track”) en tweespoorpaaie getrap.

Mthimkhulu is aangrensend aan die Nasionale Krugerwildtuin (geen heinings) en op die samevloeiing van die Klein en Groot Letabariviere. Dis Groot Vyf-terrein, maar die gidse weet hoe om jou daardeur te kry.

Akkommodasie is in gemaklike koepeltente met die slaapgoed voorsien. Alle etes en eetgerei word ook voorsien en daar is ook ’n lekker warm stort saans. Bring ’n paar rand vir ietsie kouds uit die boskroeg.

Ontspan – jy vat net ’n klein sakkie saam met jou op die fiets en die res van jou bagasie word saam met die onderhoudsvoertuig en personeel vooruit gestuur.

Die kompetisiewenner en Toerboer moet gesamentlik op ’n geskikte datum vir die toer besluit. Die prys is geldig tot November 2015.

Opsie 2: Coopmanshuijs-vyfsterhotel in Stellenbosch

As jy nie ’n avontuurlustige adrenalienvraat is nie, is hierdie opsie beslis joune. Twee nagte se vyfsterpamperlang in Stellenbosch se mees gesogte hotel.

Ene Heer Coopman het vir hom in 1713 ’n indrukwekkende huis gebou. Vandag, 302 jaar later, kan jy twee nagte in die nasionale monument wat daaruit gespruit het, kom bly. Plus aandetes en ontbyt geniet in die wêreldklas Helena’s Restaurant. En om alles te kroon wag daar ’n spabehandeling vir jou en jou maat.

Dié ikoniese boetiekhotel en spa word konstant aangegee as Nommer Een in Stellenbosch op TripAdvisor en het hul sertifikaat van uitnemendheid die laaste drie jaar sonder uitsondering gewen, wat Coopmanhuijs sodoende in die top 10% van hotelle wêreldwyd plaas. Aldus TripAdvisor. Vir meer oor die hotel besoek www.coopmanhuijs.co.za.

Die prys, ter waarde van R8 000, is vir twee mense wat deel en moet geneem word buite seisoen en wanneer daar plek beskikbaar is. Die prys is geldig tot 30 November 2015. Vervoer na en van die hotel en drankies in die hotel is vir die wenner se rekening.  

Die boekpakkie wat as meriete-prys toegeken word, sluit in:

Die vierde stem
Francois Bloemhof

Uitgegee deur Human & Rousseau

Koop Die vierdie stem by Kalahari.com.

When in Broad Daylight I Open my Eyes
Greg Lazarus

Uitgegee deur Kwela

Koop When in Broad Daylight I Open my Eyes by Kalahari.com.

Kaalkop 3
Nataniël

Uitgegee deur Human & Rousseau

Koop Kaalkop 3 by Kalahari.com.

Beseringstyd
FJ Labuschagne

Uitgegee deur Naledi

Koop Beseringstyd by Kalahari.com.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top