
Foto: Canva
Reëngedagtes
Op ’n reënerige aand onder ’n sambreel
glinster die teer in neonligte se skyn
druppels wat sag plons op die pad
waar my voetstappe in die nag verdwyn
ek leen my ore genotvol uit
aan die reën se sagte fluister
dis doodstil in die nag
net ek en die stilte wat luister
ek dink aan ander wandelinge
Hogsback en sy digte mis
al steunende op teen die Alpe
en die seesand by die kus
ek het lankal die name vergeet
van strate in ou Europese stede
maar ek staan weer by die Akropolis
weggevoer na die verlede
die nou keisteen straatjies van Plaka
met winkeltjies vol interessante ware
bekoorlik in die oë van my
jonk, ongekunsteld, onervare
’n onvergeetlike rit deur die Peloponnese
verby plate rooi papawers langs die pad
en die verruklike kusdorpie van Napflion
wat bruisend aan my herinneringe vat
my soeke na die Arc de Triomphe
en die onverwagse vonds
van swane in ’n Paryse voorstad
waar ek ligvoets deur die strate bons