Reënboog in die nag

  • 0

Foto: Canva

Reënboog in die nag

In donker vou die wêreld toe sonder geluid.
Reënboë dryf onsigbaar deur die nag se stilte,
strale gebreek in kleure wat my sinne weier.

Ek reik na die rooi van ’n roos,
maar my vingers sluit om die doring –
’n kleur wat elders oopvou en vergaan.

Die klokke lui in vreemde toonaarde,
klank splinter voor dit my vel tref.
Ek staan roerloos in die dans se hart
waar voete reëls volg wat ek nie kan lees nie,
doof drywend deur die ritme van saamwees.

Tussen spore van ongeskrewe wette
gly my voet, val ek uit die maat.
Hulle draai om, blus die kerse een vir een.
Ek bly agter – skadu tussen skadu’s,
self die kleur wat ek nie kan vang nie.

Die pyn is my strydmat, geweef van dowwe dreuning,
te veel lig, te min sin vir hulle.
Op daardie mat vlieg ek na my eie wêreld –
leë kamers sluit my in sonder oë,
sonder die gewig van verwagting
wat ek nooit kon optel nie.

Hoe lank nog hierdie nag?
Hoe lank dryf die reënboog mooi en onmoontlik,
net buite my greep –
tot ek self die lig word
wat dit dwing om te breek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top