Rede genoeg?

  • 0

In 1984, vertel ‘n kollega, het hy ‘n geskenk by die werk gekry. Net om dankie te sê vir ‘n jaar se goeie pligsgetroue arbeid, gee hulle daardie Desember vir hom en sy gesin ‘n weeklange betaalde vakansie in Durban. Hy, vroutjie en hul drie kinders vlieg die Vrydagmiddag van die Kaap af, word afgehaal by die lughawe en na die eens gewilde Four Seasons Hotel geneem. Koffers, sakke en kinders in die voorportaal.

Dit is toe hier waar ‘n probleempie ontstaan.

Die verblyf se bespreking en die vooruitbetaling is in sy naam gedoen. Mnr E Valentine. Die Four Seasons Hotel het aangeneem onse Mnr Valentine is blank; welke hy nie is nie. Dus, aangesien hulle ‘n “whites only” hotel was, moes die bestuurder skielik ‘n plan maak met die sensitiewe glipsie. Die Valentine-gesin kry toe ‘n alternatiewe “besemkas”-kamer vir die nag, kry hul ete slegs in die kamer afgelewer en die res van die bespreekte tyd beëindig. Om die onsmaaklikheid behoorlik karakter te gee, word die normale bed-en-ontbyt tarief, ekstra fooi vir die kamer bediening én ‘n ononderhandelbare vroeë kansellasie heffing, van die terugbetaling afgetrek!

Vandag is kollega nie kwaad of haatdraend teenoor iemand of iets wat hierdie onregte meegebring en toegepas het nie. Inteendeel, hy is gelukkig in sy vel en het vrede met die res van ons.

Gisteroggend karring die verkeer tussen Durbanville en Bellville teen ‘n slak se pas. Op een spesifieke kruising staan daar elke more ‘n effens oorvoede vrou met ‘n bont romp en ‘n kartonbord wat ‘n geldjie vra. Wanneer ek die oggend ‘n geldjie het én langs haar tot stilstand kom, dan gee ek ‘n geldjie. Mens dink altyd, dit kon jou vrou of ma of wie-ookal gewees het wat daar staan. Hier en daar het ek ook al ander verkeersitters gesien geldjie gee. Die oggend egter nie. Ek was redelik ver terug in die verkeerstrein en dus kon ek duidelik sien hoe haar glimlag stadig verdwyn, terwyl sy van die verkeerslig af al op die witlyn, hier na agtertoe beweeg. “Haar” mense in hul versorgde waens gee nie vandag om nie. Sy stop egter by ‘n minibus taxi. Voor aan die punt van die swartarm wat by die taxi uitleun, is ‘n noot. Net vir haar en haar 3 kinders – of so sê die bord ten minste. Terug is die glimlag.

Vandag, toe dink ek: baie van ons het redelik genoeg rede om moeilik te wees. Daar is gronde vir liefdeloosheid; selfs vir haat. Baie van ons hoef nie vir iemand anders om te gee nie, juis omdat die iemande dít nie verdien nie. Maar tog, is daar mense wat omgee ten spyte van wie hulle is; en ander wat omgee uit dankbaarheid vir wie hulle is.

Soms moet mens dit egter eers kan raaksien, voor jy dit mag waardeer.

Selah.

Hennie Fritz

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top