Reaksie op Raed-na-Gael se “liedjies” van 26 April 2017

  • 4

Beste Raed-na-Gael

Jy sê Angus het my aangepor om jou met “ . . .  ‘literariese’ geweld van die af te skryf” nadat jy gesê het Afrikaans hom nie tot liedjies leen nie (21-12-2016).  Dis nie waar nie, Angus het bloot gesê “as Jan Rap jou tune sal jy sonder die Gael wees.”  Ek weet nie presies wat hy daarmee bedoel het nie, maar dit was beslis nie ‘n versoek dat Raed-na-Gael ‘van die Sê afgeskryf’ moet word nie.

Verder sê jy ‘van die Sê afskryf het nie gebeur nie.’  Natuurlik nie; daar was nooit so ’n versoek nie en hoe word so iets in elk geval gedoen? 

Jy sê ‘Jan het instemmend geswyg’.  As jy daarmee bedoel dat ek nie op jou briefie reageer het waar jy beweer dat Afrikaans lomp is, en hom nie tot liedjies leen nie, is dit weer nie die waarheid nie.  Op 17-1-2017 gee ek uitgebreid kommentaar op jou mening van 21-12-2017 onder die opskrif ‘Kommentaar vir Raed-na-Gael op sy brief van 21 Desember 2012’.  Ek het onder andere vir jou vertel dat mense wat ’n taal lomp vind dit bloot uit hoofde van hulle gebrekkige kennis van daardie taal is.  Die táál is nie lomp nie, die taalvaardigheid van die persoon is nie op standaard nie. Gaan lees maar weer; lyk my jy’t die brief misgekyk.

Ewentwel en hoe dit ook al sy, terug na die Afrikaanse liedjies.  As jy en Deon Maas (wie’s Deon Maas?) nie daarvan hou nie is dit ’n kwessie van smaak en julle saak; julle kan egter nie gaan staan en algemene stellings maak soos dat die Afrikaanse liedjie net ’n ‘gedoef-doef en ’n verleentheid’ is nie. 

Daar is baie mooi Afrikaanse musiek en ek het nog nooit gehoor dat enige van Koos Doep of Lucas Maree (of Coenie, Laurika, Mynie, Karen Hougaard, Anton Goossen, Richard vd Westhuizen, Louis van Rensburg, Matthys, Danie Niehaus, Steve Hofmeyr, Koos Kombuis, Theuns Jordaan, Chris Chameleon, Juanita Claassens, Rina Hugo, Karen Zoid en nog vele ander) se liedjies met ’n ‘gedoef-doef’ gehoor of dat hulle met jou ‘êêêê/hieêêhieêêê’ eindig nie.

Ek kan ook nie verstaan hoekom Deon Maas sê daar is nie ’n Afrikaanse liedjiegenre nie; daar is tog baie genres in Afrikaanse musiek – daar is die luisterliedjie, Boeremusiek, ligte Afrikaanse musiek (soos Nico Carstens, selfs Bert Kaempfert of was dit nou Hans Last het van sy musiek ‘gesteel’) ens ens.  Battery 9, Fokofpolisiekar en Die Antwoord moet ook verskillende genres wees.  Miskien verstaan ek verkeerd; ek is nie ’n musiekkenner nie maar ek dink Deon Maas praat net omdat praat praat is.

Ek onthou nou wie Deon Maas is – RSG (of was dit nou KykNET?) het hom ook ingespan om, soos Max du Preez, vir die volk te vertel hoe utopies die nuwe bedeling is/gaan wees en hoe boos en sleg die Afrikaner is wat die vorige bedeling daargestel het.  Ek kan onthou hy’t op ’n kol ’n onderhoud met iemand van AfriForum gehad en wou toe weet waar is Zoeloeforum en Tswanaforum (of so iets), so al asof dit die Afrikaner se plig is om na ander se tale ook om te sien as hy so vermetel wil wees om sy eie te red.

Ja-nee, Deon Maas is ‘n Boerebasher by uitstek.  Jy moenie na hom luister nie; hy sal enigiets wat Afrikaans is afkraak.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 4

Kommentaar

  • Lyk my Jan Rap gaan met oog(r)klappe aan deur die 'Afrikaanse' lewe - met tonnelvisie. Die "Afrikaanse liedjie-genreboere" wat hy noem met die uitsondering van Kombuis (selferkende 'medikasie-geassisteerde' komponis) en Steve (daai DKW-pampoending) mag binne my 20% val wat ek moontlik kan uitsonder as luisterbare Afrikaanse liedjieboere.
    Wat van die ander 80% Jan?

  • Raed-na-Gael ek sien jy ignoreer gemaklikheidshalwe my reaksie op jou vals aantygings. Hoe anders, want wat kan jy nou eintlik sê?
    Die feit dat net 20% van die Afrikaanse liedjies val is, soos ek gesê het, jou saak - dis jou smaak (en blykbaar daardie anglofiliese en Boerebasher Deon Maas s'n ook) en niemand kan mos voorskryf waarvan jy moet hou en nie hou nie; dis jou (of julle) saak. Nie een van die sangers of sangeresse wat ek genoem het se liedjies eindig met 'n êêêhieêêê soos jy beweer het nie; jy praat sommer net omdat praat praat is.
    Die kans is goed as JY nou die liedjies lys wat vir jou mooi is ek net so gly daarin sal vang as soos jy tov die Afrikaanse liedjies. Ek sal egter nie, soos jy gemaak het, op 'n sendingtog gaan en vertel hoe kak die liedjies is waarna jy luister nie want a) smaak verskil en b) wie de fok is enigeen om te oordeel.

  • Jan,
    Ek luister gereeld tussen 6 en 8 soggens na RSG. En die ouens wie jy uitlig se liedjies word by die uiterse uitsondering gehoor. Dis alles in die lyn van Snotkop, Fokofkarre en Heuwels en dies meer. Vir Afrikaans beteken dié janne se bydrae vir my Afrikaanse siel niks.
    Dis teen hierdie "alternatiewe genre" waaraan ek 'n broertjie dood het. En dit lyk my jy speel dit soggens in jou kar op pad werk toe en in die aande terug. Ek hét al genoem dat die Afrikaner self 'n groot aandeel in die 'toestand' van ons taal het.
    Nou lyk dit my asof jyself ook 'n aandeel het daarin. Dis nie 'n kwessie van smaak nie.
    Jy noem twee ouens, Kombuis van Voëlvry-faam en Steve van Ander-faam, in een asem. Sê my, wie van hulle se liedjies bevorder die gemaklike gebruik en agting vir Afrikaans?
    En, ek gebruik nie agterplaas Afrikaans met jou nie. So tipies, slaan oor in 'n krasse platvloerse redekaweling.

  • Raed,
    'Platvloerse gerdekawel'? As ek gesê het 'wie de joos' in plaas van 'wie de fok' sou dit nog 'n geredekawel gewees het? Jy sê niks van die stelling nie maar fokus op 'n enkele woordjie - dit is 'n gegryp na strooihalms by gebrek aan sinvolle argumente.
    Jy het beswaar oor ek Koos en Steve in dieselfde asem noem en te oordeel aan die trant van jou brief is Koos van Voëlvry-faam die ou wie se liedjies 'die gemaklike gebruik en agting vir Afrikaans [bevorder]'. Snaaks, komende van jou, want vergelyk nou byvoorbeeld Koos se 'Die Fokkol Song' met Steve se, sê, 'Amper'. As jy gril vir platvloersgeit dan moes jy mos nooit daardie stelling gemaak het nie.
    Terloops, ek's gek na Koos se 'Die Fokkol Song'; platvloersgeit pla my nie want ek is platvloers.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top