Reaksie op Jaco se brief oor rassisme

  • 5

Daar is kort-kort ’n oproep, vir oor die 20 jaar al, dat rassisme moet end kry. So, hoekom na 20 jaar, is dit nog nie uitgeroei nie? Die antwoord is eenvoudig; niemand weet wát om uit te roei nie.
Indien rassisme diskriminasie teen iemand is op grond van velkleur dan is daar in hierdie land wel diskriminasie maar sleg teenoor blankes (universiteitstoelating, bevordering, beskikbaarheid van poste, toeken van staatskontrakte ens).

Indien rassisme die hekel is wat een persoon in ’n ander het op grond van velkleur dan is daar niks aan te doen nie behalwe nou as dit manifesteer in ’n oortreding van die wet (insluitend die grondwet). Rassisme is ’n kopding; die gevolg van jaloesie of stereotipes en dié weer is die gevolg van data verkeerdelik of onvolledig verwerk. En jy kan tog nie jaloesie, of die onvermoë om data te verwerk, kriminaliseer nie of hoe?

Rassisme in die NSA het egter ‘n ander definisie gekry naamlik enige kritiek deur blankes teenoor swartes en dit lyk my dít is wat hulle nou ’n kriminele oortreding wil maak. En dis absurd.

Daar is ’n probleem met hierdie oproepe tot brugbou want dit impliseer die bestaan van ’n kloof tussen groepe wat daar nie eintlik was nie. Selfde met hierdie gedurige soeke na kamtige versoening; dit impliseer ’n bestaande vyandskap en mense wat heeltemal gemaklik was met mekaar word nou onder die aandag gebring dat daar fout is; ons is eintlik vyande. As jy vir jou vrou ’n bossie blomme bring en haar onder die indruk bring dat dit ’n opmaakgeskenkie is gaan sy dadelik wonder wat jy verkeerd gedoen het. Niks fout met ’n bossie blomme nie, maar dan sê jy dis sommer net vir haar oor sy so oulik is. Dit verstewig ’n reeds bestaande goeie verhouding.

Hierdie gedurige verskoningvraery is dus niks anders as ’n gekrap waar dit nie jeuk nie; veral as die indruk geskep word dat dit veral van blanke kant moet kom soos Jaco se briefopskrif impliseer. Dit dui op ’n skuldgevoel wat voortspruit uit onheilige optrede uit die verlede en maak die ander groep briesend soos gesien kan word in byvoorbeeld die wreedheid waarmee plaasaanvalle gepaard gaan.

Jaco het wel ’n goeie voorstel wat betref die aanleer van ’n swart taal; dit is ’n bossie blomme vir die regte rede. Dit sal net moeilik wees want, benewens die feit dat die swartes Engels verkies, is daar soveel swart tale dat die een wat jy geleer het so te sê nutteloos gaan wees as jy verhuis.

Jan Rap

  • 5

Kommentaar

  • Jan
    Wat jy hierbo sê, is ek merendeels met jou eens, soos jy in die trant van my brief sal kan agterkom.
    Feitlik. Die blankes is 'n uiters kwesbare minderheid in hierdie land. Dit hoef net 'n vonk te vat om die meerderheid bevolking teenoor die blankes xenofobies en gewelddadig, onder die dekmantel van hulle sogenaamde stryd vir ekonomiese vryheid, aan te rand, tensy die aangeblaasde wanpersepsies onder hulle geneutraliseer word nie. Die enigste wat sodanig wanpersepsies sal kan neutraliseer sal nie die swartes wees nie, wel uitsluitlik die blankes.
    Die onlangse skielike en onverwagte xenofobie teenoor non-Suid-Afrikaanse swartes is 'n tipiese voorbeeld hiervan. Dan moet ons vanuit die geskiedkundige "Kristalnag" leer, toe die gepeupel uit jaloesie, nydigheid en haat die Jode, hulle wonings, en besighede aangeval en verwoes het.
    Brue onderling moet gebou word vir vreedsame samesyn in hierdie land. Heftige vyande, nl Japanners vs Amerikaners en Duitsers vs Europeërs het dit reggekry tot wedersydse welvaart, hoekom dan ons ook nie?

    • Om 'n probleem op te los moet hy eers geïdentifiseer word - jy kan nie appels met 'n raat vir pere behandel nie. Die grondliggende probleem is die saamgooi van verskillende kulture (nasies om presies te wees) in 'n gegewe grondgebied wat 'n resep vir konflik is. Daar is geen nasietrots nie, want om die ding te laat werk moet mense nou met 'n nuwe, kunsmatige, nasie identifiseer (vandaar bv RSG se 'missie' om Engels in ons almal se kele af te druk). Dit werk ooglopend nie soos gesien kan word aan die gedurige emigrasie van blankes. Die gevolg is dan onder andere al hoe minder werksgeleenthede wat die land nog verder kniehalter (en verdere emigrasie veroorsaak; bose kringloop). Voeg daarby die daaglikse toestroming van immigrante en die verhouding blank tot swart word nog minder en die toestand dus nog gevaarliker. Dit is duidelik dat die oplossing van hierdie probleem NIE lê by gatlek en -kruip nie; om die waarheid te sê, dit vererger net die probleem want dit verf net die blankes met 'n pateetkleur en veral die swartes het nie agting vir patete nie.

  • Om 'n swart taal te leer sal gesien word as nog 'n "victory" en as 'n swakheid van die verloorder. Elke keer as iets uitgewys word wat verkeerd gedoen word, word daar geskree" rassisme". Dit is die standaard en effektiewe skerm waaragter die aanjaers wegkruip sodat hul oneffektiewe, onvoldoende, onbekwame onbeholpenheid nie die opskrif is nie.
    Ai, ek wens ek kon hierdie waarheid aanvaarbaar verf, verdraai sodat dit nie rassisties klink nie sonder om die boodskap te verwring.

    Duitswester

    • Jy het wel 'n punt daar beet Duitswester. Dit geld egter net as die aanleer van sodanige taal as 'n steekpenning gesien word. In die nie te ou tyd nie, in die tyd van die vorige bedelings, het baie van ons mense 'n swart taal as tweede of derde taal gehad, nie spesiaal geleer nie maar as 'n natuurlike gevolg van lewe op 'n plaas. Hierdie vermoë het definitief 'n neerslag, ten goede, in die onderlinge gesindheid gehad.

  • Jan
    Jy skryf: "Die grondliggende probleem is die saamgooi van verskillende kulture (nasies om presies te wees) in 'n gegewe grondgebied wat 'n resep vir konflik is."
    Dis nou 'n vervelige en uitgediende klagte, 'n onomkeerbare situasie, 'n "fait accompli." Daar is niks wat enigiemand daaraan sal kan doen om dit ongedaan te maak nie.
    VANDAG se grondliggende probleem vir die Afrikaner is die onderwerp van my brief wat jy nie aanspreek nie, nl dat die Afrikaner se vyande hom van rassisme beskuldig asook finansiële bevoorregting agv apartheid, welke beskuldiging in aangeblaasde persepsie onder die massas begin posvat, wat vir die Afrikaner daadwerklike gevaar inhou en waarvoor Afrikaners 'n strategie in werking sal moet stel om sodanige persepsies te neutraliseer.
    Om daarvoor blind te staan, en weereens oor die verlede te kibbel, is naïef.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top