Reaksie op Herman Wiid se resensie van Die boek van Ester

  • 0

Verlede week het LitNet 'n resensie van Wilna Adriaanse se jongste boek, Die boek van Ester, uit die pen van Herman Wiid gepubliseer.

Wiid se (aanvanklike) invalshoek was dat, hoewel dié werk meriete het, dit steeds niks meer as 'n hygroman is nie.

Sover my kennis strek, het Adriaanse haarself nog nooit uitgegee as 'n swaargewig literêre toffie nie. En hoewel Ester 'n liefdesroman is, is sy allermins en by uitstek 'n hýgroman.

Later daardie dag, 4 Desember is alle verwysings na "hygroman" word met "liefdesroman" vervang ... Dít sonder dat daar in daardie stadium enige reaksie op die resensie op LitNet verskyn het.

Nee, ek was nie op een of ander verbeeldingsvlug nie - dis presies wat gebeur het. Buitendien het ander ook die metamorfose meegemaak.

Verskoon my wiskundige beeldjie, maar wat my óók verstom, is dat Wiid met oënskynlik meer positiewe somme uiteindelik 'n negatiewe antwoord bereik het. Hy slaag daarin om die positiewe elemente wat hy uitlig sorgvuldig te staaf aan die hand van voorbeelde. Die uitgesproke kritiek word egter nie voldoende ondersteun nie. En dit maak sy resensie uiteindelik 'n onafgeronde geheel.

'n Ingeligte resensent het in 'n stadium tereg opgemerk 'n resensie bly 'n (eerste) mening van 'n hopelik ingeligte en aktiewe leser (van ten minste die genre ter sprake).

Hiernaas moet ek my ook by "Malene" skaar wat die afgelope week geskryf het Wiid gee "te veel van die storie weg" in sy resensie.

Is dit moontlik om vir ons te verduidelik hoe "resensente" gekies word?

Nuuskierig die uwe

Agie

NS: In die gees van die feesgety, wil ek almal aanmoedig om nie altyd te probeer om 'n boek in 'n spesifieke (literêre) doos te dwíng nie. Sit gerus agteroor en verlustig jou in 'n moer lekker storie.

(LitNet het ongelukkig die verkeerde weergawe van die betrokke resensie geplaas; die finale weergawe is later op die betrokke dag geplaas. Ons vra verskoning vir enige ongerief in dié verband.

Met die Biebouw-resensies is een van ons oogmerke om jong opkomende resensente te help ontwikkel en ʼn publikasiegeleentheid te gee. Ons maak ook, in mindere mate, gebruik van gevestigde resensente. Op dié manier hoop ons om ʼn bydrae te lewer tot die ontwikkeling van resensiekunde.

Dankie vir jou kommentaar.

Melt Myburgh)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top