Beste Dirk
Jy het al voorheen jou irritasie te kenne gegee oor my “late tackles” en die feit dat ek nie kommentaar onderaan die briewe waarop ek reageer, plaas nie. Wat die laatgeid betref, ek is maar stadig; kom eers in die aande laat by die briewe uit, ek het geen bybedoelings daarby nie. Die kommentaar gee ek maar as ’n aparte brief want dan is dit makliker om op te spoor – wanneer mens kommentaar tov kommentaar het gee dit ’n gedelwery van die eerste water af om dit te kry; jy kan nie aan die opskrif van ’n brief sien wie het watter kommentaar onderaan gelewer nie.
Ook, ek het al van my kommentaar onderaan ’n brief gesien wat lyk of die stuk verkort is en daar is geen manier om te sien of dit wel die geval is nie, vandaar my neiging om dit maar in die vorm van ’n brief te gee dan het mens darem ’n rekord.
Die wette en regulasies tov tweetaligheid dui juis daarop dat instansies dit nie nodig geag het om Afrikaans te praat nie. Hulle het dit nie nodig geag nie want die Afrikaanssprekendes het maar te graag Engels gepraat (en selfs daardie tyd al het Afrikaanse mense hulle kinders in Engelse skole gesit). So, Afrikaans was juis NIE in ’n dominante posisie nie, vandaar die regulasie en dus my verleentheid – hierdie regulasies het bevestig dat Afrikaners weer aan die agteroor buig is. Terloops, ek dink dieselfde ding gebeur in Kanada tov Frans – ook tweetaligheidsreëls om te verhoed dat Frans verswelg word.
Churchill se “lies, damn lies and statistics” het baie te doen met wat jy voorgehou het – in een opsig word statistiek gebruik om te wys hoe sterk Afrikaans staan en jy gebruik dieselfde statistiek om te verduidelik hoekom Afrikaans aan die agtertiet suig.
Jy’t gesê ons het nie gaan lê nie, dis nie ons wat verantwoordelik is vir die agteruitgang van Afrikaans nie maar die ekonomie; so al asof die ekonomie ’n bose fisiese entiteit is soos Brolloks. Wel, die ekonomie is nie, die ekonomie is ’n weerspieëling van die aard van die bestuur van die land en die werkywer (en -etiek) van die landsburgers. Die 6% groei van die ekonomie “jare gelede” soos jy dit stel het gedui op goeie regering. My stelling was dat as jy die ekonomie beskuldig vir die agteruitgang van Afrikaans, hoekom het daardie ekonomie van “jare gelede” dan nie ook Afrikaans benadeel nie; Afrikaans was toe mos, volgens jou, in ’n dominante posisie.
Die storie gaan oor die agteruitgang van Afrikaans en jy voer aan dat jou hoofbetoog, waarop ek niks sou gesê het nie, die feit is dat Afrikaanssprekendes nou nie meer die hoofspelers in die ekonomie is nie. Dit is dus nog steeds die ekonomie en ek het mos nou al baie daaroor gesê, onthou jy, Brolloks ens ens? Buitendien, was Afrikaanssprekendes ooit die hoofspelers in die ekonomie?
En nog ’n buitendien; as Afrikaanssprekendes nie die hoofspelers is nie, is hulle bydrae proporsioneel BAIE groter as wat tans weerspieël word deur die Afrikaans op blikkies, pakkies, uithangborde en in skole, universiteite, parke en die openbare sektor. As jy die burgerlike belasting in ag neem wat deur Afrikaanssprekende swartes, Indiërs, bruines en wittes betaal word dan is hulle ’n uiters beduidende speler in die ekonomie. Dit is juis my betoog van die begin af – Afrikaans word afgejak omdat Afrikaanssprekendes nie tel nie en hulle tel nie omdat hulle hulself nie laat geld nie; hulle het gaan lê en is tevrede om op getrap te word.
Wat die leedvermakerigheid betref, ek is jammer en verheug as dit in jou geval nie geld nie. Die indruk wat ek egter kry is dat, die wat apologete vir die kwyning van Afrikaans is, daardie houding het.
Jy wil weet wat ek wil hê ons moet doen. Wel, jy doen dit reeds; ek haal aan: “Ek [Dirk] praat en skryf Afrikaans so suiwer moontlik en so veel as moontlik. Ek praat altyd eerste Afrikaans waar ek ook al kom en buig nie agteroor om Engels ter wille te wees nie.” Bravo Dirk, as almal van ons dit doen sal dit ’n groot faktor wees om die teenswoordige agteruitgang van Afrikaans te stuit.
Verder moet ons ons misnoeë demonstreer oor die afjak van Afrikaans; dit nie gelate aanvaar soos tans die geval is nie. Ek stel nie voor dat ons so ver gaan as om bande te brand en karre met klippe te gooi nie maar ons moet dit net op een of ander manier duidelik maak dat ons nie te vinde is vir die afjak van Afrikaans en Afrikaanssprekendes nie.
Dit sluit in dat die aanvaarding van die status quo allermins sinoniem is met “aanbeweeg”.
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Ek lees graag wat jy en Dirk skrywe, en soos jy seker al agtergekom het, of dalk nog nie agtergekom het nie, ek plaas alles onder die loep. Graag wil ek weet wat jy met bogenoemde sin bedoel: "Dit sluit in dat die aanvaarding van die status quo allermins sinoniem is met ‘aanbeweeg’".
Ek neem aan jy bedoel die status quo van Afrikaans. Waar plaas jy die status quo van Afrikaans? Wat bedoel jy met die status quo (van Afrikaans)?
Die status quo is staties en nog nooit was Afrikaans of enige ander taal staties nie.
Die aanvaarding van die status quo, (wat dit ook al beteken ) kan ook nie sinoniem wees met "aanbeweeg" nie, want die een is staties en die ander dinamies.
Dan kan jy ook dalk bedoel dat "aanvaarding van die status quo" op sy minste sinoniem is met "aanbeweeg"; en dit kan ook nie wees nie.
Homonimie in taal is nogal 'n interessante linguistiese onderwerp wat nog nie deeglik in Afrikaans bestudeer is nie. Ai, die grammatika darem!
Groete,
Angus
Beste Angus
Ek haal my hoed af vir mense wat alles onder die loep neem; dit is die regte ding om te doen en ek sê vir jou bravo, hou so aan; dit hou mense op hulle tone.
Terug na 'status quo' wat Latyn is vir die heersende toedrag van sake. Destyds, met die 'ja-nee'-referendum was die 'nee'-stemmers daarvan beskuldig dat hulle die destydse staus quo aangehang het. Hulle wil nie aanbeweeg nie, hulle beweeg nie met die tye nie, hulle wil met ossewaens ry het die 'ja'-stemmers hulle van beskuldig.
Wel, die staus quo hét toe verander want daar is 'aanbeweeg' na 'n nuwe heersende toedrag van sake; daar is nou veranderde sosiale en politieke kwessies (en die verandering was volgens my nie ten goede nie). Onder andere het Afrikaans verdwyn uit groot dele van die samelewing en die bietjie wat oor is, is nog onder beleg ook. Indien Dirk dit as 'aanbeweeg' beskou is dit ongerymd, belaglik en onsinnig.
Beste Jan,
Selfs na jou verduideliking verstaan ek nog nie wat jy bedoel met "Dit sluit in dat die aanvaarding van die status quo allermins sinoniem is met 'aanbeweeg'” nie.
Wie het die status quo aanvaar, en wie het gedink dat omdat hy dit aanvaar het, dat dit gelyk is aan aanbeweeg? Wat bedoel jy met aanbeweeg? As iemand in 'n land van sonskyn is, en verder aan beland hy in die grammadoelas, het hy nie ook maar aanbeweeg nie?
Kortom, as iemand die status quo aanvaar, (wat dit ook al beteken), hoe de joos kan hy dink dat dit sinoniem is met aanbeweeg?
Groete,
Angus