
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (die SA Akademie), rig hiermee 'n ernstige beroep op die Suid-Afrikaanse Ruimteagentskap (Sansa) om sy voorgestelde amptelike taalbeleid te hersien deur ook Afrikaans daarby in te sluit. Met alle respek beskou die SA Akademie Sansa se voorneme om slegs Engels, isiZulu en Sepedi as amptelike tale te aanvaar as ’n terugwaartse stap, juis omdat Afrikaanssprekendes se kundigheid so ’n groot rol gespeel het om die terrein van ruimtenavorsing in Suid-Afrika gevestig te kry.
Dissiplines waarop ruimtenavorsing steun, soos toegepaste wiskunde, fisika (ingesluit astro-fisika), astronomie (sterrekunde), elektronika en elektroniese ingenieurswese word aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite deur ’n beduidende aantal Afrikaans-sprekende studente bestudeer en nagevors. Hiervan dien die ontwikkeling en lansering van die Universiteit van Stellenbosch (US) se Sunsat-sateliet en die voortgesette ontwikkeling van nano-sateliete by die US as voorbeelde.
’n Verdere belangrike aspek wat in ag geneem behoort te word, is Afrikaanssprekendes se algemene belang by ruimte- en astronomie-aspekte. Enersyds put vele Afrikaanssprekendes beroepsbelang uit die voordele wat uit die ruimtekunde spruit, soos weervoorspellings, navigasiestelsels en die landmeetkunde (vir landmeters); en andersyds stel Afrikaanssprekendes bloot intellektueel belang in die ruimtewese en sterrekunde. Hiervan getuig byvoorbeeld die groot gewildheid van die RSG-radioprogram "Sterre en planete" en die Afrikaanse radiopraatjies van dr Japie van Zyl, wat ’n seniorposisie by NASA in die VSA beklee as voorbeelde.
’n Derde aspek wat in ag geneem behoort te word, is dat verskeie van Sansa-verwante en ander soortgelyke instellings in gebiede geleë is wat oorwegend Afrikaans-sprekende inwoners het, byvoorbeeld Hermanus, Bloemfontein, Sutherland en Hartbeeshoek. Die personeel en navorsers by hierdie werkplekke is vermoedelik dikwels met hulle familielede, vriendekringe, kollegas en blote belangstellendes in gesprek oor aspekte van die ruimtekunde en astronomie. ’n Bate vir Suid-Afrika is dat sulke gesprekke in Afrikaans kan plaasvind.
’n Vierde aspek wat in ag geneem behoort te word, is die feit dat verskeie Afrikaanssprekende wetenskaplikes en navorsers oor aspekte van die ruimtekunde en astronomie met Europese kollegas kan kommunikeer in tale anders as Engels, veral in België, Duitsland en Nederland. ’n Verdere aspek om in gedagte te hou is dat verskeie Afrikaanssprekende wetenskaplikes in die werksgebied wat Sansa raak, in Noord-Amerika en Europa werksaam is en gereelde kontak met plaaslike Afrikaanssprekende wetenskaplikes het.
Benewens die bevordering van wetenskapsbeoefening en -navorsing, hou die SA Akademie hom besig met die voortgesette standaardisering en beskrywing van Afrikaans met inbegrip van die spelling, skryfwyse, punktuasie en grammatika daarvan. Hierdie werksaamhede sluit advies en voorligting oor Standaardafrikaans aan die breë publiek en instansies soos Sansa, in. ʼn Voertuig waardeur hierdie oogmerk ten dele verwesenlik word, is die SA Akademie se uitgee van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS), waarvan die eerste uitgawe in 1917 verskyn het.
Dit is bloot natuurlik dat die woordeskat van ’n dinamiese taal soos Afrikaans voortdurend verander en uitbrei. Die SA Akademie hou hiermee rekening en het daarom reeds met werksaamhede begin wat daarop gemik is om ’n byderwetse elfde uitgawe in 2017 die lig te laat sien – ’n eeu ná die eerste uitgawe. Die SA Akademie streef die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans na. Daarom is die SA Akademie deeglik onder die besef dat die AWS moet omsien na die standaardisering en bereëling van die Afrikaans soos gebesig deur alle Afrikaans-gebruikers, daarom ook in dissiplines soos die ruimtewese. Die SA Akademie het onlangs begin met die ontwikkeling en grootskaalse uitbreiding van ’n elektroniese formaat van die AWS, waarmee die SA Akademie nog beter in staat sal wees om Sansa met enige werksaamhede taalkundig in Afrikaans by te staan.
Indien Sansa bereid is om Afrikaans as een van sy amptelike tale te aanvaar, sal die SA Akademie Sansa gretig in sy gebruik van die taal onderteun en hulp verleen. Die SA Akademie sal graag met Sansa gesprek wil voer hieroor.
Met beste wense
Prof WJ (Wessel) Pienaar
Voorsitter: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

