Beste Angus
Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 19 deser.
Jy reken dis my mening dat iemand slegs mengeltaal kan verstaan indien hy die tale, waaruit die mengsel bestaan, verstaan. Jy’s verkeerd … ‘skuus, ek’t vergeet jy’s sensitief vir ‘verkeerd’ … jy het nie gelyk nie. Ek het dit as ’n feit konstateer, dis nie bloot my mening nie.
As jy met my Afrikaans praat en die helfte van die woorde is, sê, Hongaars, en ek ken nie Hongaars nie, gaan ek nie verstaan wat jy sê nie. Of jou bewering korrek is of nie dat ek nou nie baie oor taal sou gedink het al dan nie is glad nie van toepassing nie; dis bloot logika.
Jy kan dit wetenskaplik toets: Neem ’n stuk Afrikaanse teks, onderstreep op lukrake wyse so 40% van die woorde en gaan vra iemand by die Hongaarse ambassade om al hierdie onderstreepte woorde in Hongaars oor te sit. Neem nou hierdie Afrikaans-Hongaarsmengsel na 10 lukraakgekose Afrikaanssprekendes toe en kyk hoeveel van die 10 verstaan wat daar geskryf is. Doen dieselfde met 10 Hongare in Budapest. Indien 9 uit die 10 Afrikaanssprekers vir jou sê hulle verstaan dit goed, trouens, hulle verstaan dit BETER as suiwer Afrikaans en hulle dink die brokkies Hongaars tussenin maak Afrikaans ryker, en 9 uit die 10 Hongare sê vir jou hulle verstaan dit, trouens, hulle verstaan dit BETER as suiwer Hongaars en hulle dink hierdie brokkies Afrikaans tussenin maak Hongaars ryker dan is jy reg, naamlik dat mengeltaal deur ALMAL verstaan word en dat dit boonop enige taal verryk.
Slegs die feit dat Engels so in ons kele afgedruk word maak dat ons die soort Afrikaans, wat met so 40%-plus Engelse woorde besmet is, kan verstaan. Terloops, om terug te kom na die eksperiment hierbo – indien jy reg is sal jy ook ’n verklaring moet gee hoekom die Engelssprekendes in hierdie land hardnekkig weier om hulle taal te ‘verryk’ met so 40%-plus Afrikaanse woorde in elke stuk teks/spraak.
Jy vertel vir my dit is nie vir ’n Afrikaanssprekende nodig om Nederlands, Engels, en Maleis-Portugees magtig te wees om Afrikaans te verstaan nie want “Afrikaans is ook ’n mengeltaal” en wel van hierdie voorafgenoemde tale. “Trouens,” sê jy, “daar is nie ’n taal in die wêreld wat nie ’n mengeltaal is nie.”
Angus (en nou moet jy sterk wees), jy’s verkeerd. Alle tale in die wêreld kan wel beïnvloed wees deur ander tale maar hulle is nie mengeltale nie. Die woorde, segswyses, wat ook al uit ander tale kom is al so ingeburger in die onderskeie tale dat die sprekers meeste van die tyd nie eers weet wanneer hulle ’n woord gebruik wat vanuit ’n ander taal ontleen is nie. Ek het dit al voorheen vir jou gesê (gaan kyk maar vorige briewe), meeste Afrikaanssprekendes wat byvoorbeeld die woord ‘piering’ gebruik sal nie eers weet dit kom uit Maleis nie.
So dis oorbodig om vir my te sê Afrikaanssprekendes hoef nie Portugees, Maleis ens magtig te wees om dit te verstaan nie want ek het dit lankal vir jou gesê juis om die verskil tussen leenwoorde en mengelwoorde uit te wys. So jy is (vasbyt nou) totaal verkeerd wanneer jy sê ALLE tale op aarde is mengeltale; alle tale het miskien leenwoorde van ander tale maar dit beteken nie hulle sprekers meng hulle taal op ’n daaglikse basis met daardie tale waaruit die leenwoorde kom nie (soos baie van ons met Engels maak). Die bewys hiervoor, weer eens, is eenvoudig; jy hoef nie taal X EN taal Y te ken om taal X te verstaan as hy leenwoorde van Y het nie maar jy moet wel taal X EN taal Y ken om te verstaan as iemand die twee gemengd praat.
Jy wil hê, omdat ek beweer mengeltaal is nie ’n taal nie, dat ek ‘taal’ vir jou moet definieer. Dit is nie eers nodig nie want gewone logika kan weer eens ingespan word: Russies gemeng met Fins is nie Russies nie en ook nie Fins nie. Wat is dit, Russins? Finsies? Daar is nie sulke tale nie. Selfde met Afrikaans en Engels, daar bestaan nie ’n taal soos Engfrikaans, of Afrengels, nie. As ’n kind Russins of Finsies by sy ouers hoor gaan hy, sodra hy skoolgaan, of met ander Russe/Finne deurmekaar raak, gou agterkom daar is wel ’n taal soos Russies of Fins. Selfde geld ten opsigte van Afrikaans en Engels.
Wat die vissermanne se taal betref: Die gruwelsin wat ek, soos versoek deur jou, in gewone Afrikaans omgesit het, het jy beweer is domineetaal; vissermanne praat nie so nie. Nou hoe praat hulle dan; kry mens nie Afrikaanssprekende vissermanne nie?
Jy sê alweer mens kan enige woord van enige ander taal in enige taal gebruik. Mens KAN seker, soos ek al gesê het, grammatikareëls is nie statutêr nie, jy gaan nie gearresteer word nie, maar jy MAG nie volgens grammatikareëls nie. As mens mag doen wat jy hier beweer hoef ’n Engelsman wat wil Duits leer nie “Teach yourself German” te koop nie; hy gebruik sommer net die Engelse woorde. As ’n Duitser hom nie verstaan nie sê hy net vir die Duitser “jy MOET my verstaan, Angus sê so.”
Ek dink Angus, jou hele probleem is dat jy dink ’n leenwoord en ’n mengelwoord is dieselfde ding.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap,
Oor mengtaal. Dankie vir 'n duidelike- logiese beredenering oor dié saak.
Groete,
Et1
Beste Jan,
Vergeet tog maar van jou flouerige “taalreël” wat jy probeer invoer, nl. dat ʼn Afrikaanssprekende wat ʼn vreemde woord gebruik, juis die taal (Engels) “magtig” moet wees vanwaar die woord kom. Dit kan so wees, maar dit is nie altyd noodwendig so nie. In jou onwaarskynlike voorbeeld waar ʼn spreker Hongaarse woorde gebruik, het die hoorder slegs nodig om die betekenisse van die woorde te ken, om te verstaan. Afrikaansprekendes wat geen kennis van Japannees het nie, weet wat gebeur as iemand harakiri. In elk geval is jou Hongaarse voorbeeld ʼn strooipop, want ons bespreek die invloed van Engels op Afrikaans. Ons kan hipotetiese gevalle vir later bêre; laat ons liewer die werklikheid onder oë neem.
So ʼn werklikheid is die sogenaamde Kaaps. Dit het grotendeels dieselfde struktuur as Afrikaans met hoofsaaklik Afrikaans/Engels as woordeskat. Dit is die moedertaal van baie mense, en kinders leer dit aan vanaf babastadium. Hulle het nie nodig om spesifiek Engels en Afrikaans te leer om dit te verstaan nie. (Stem jy daarmee saam? Indien nie, gee jou redes.)
Kan jy asseblief vir my sê of jy Kaaps as mengeltaal beskou, of nie?
Kan jy ook asseblief vir my sê wat jy onder “taal” verstaan? (Ek vra dit na aanleiding van jou bewering dat ʼn mengeltaal nie taal is nie, en ek neem aan dat jy Kaaps as mengeltaal sal beskou.)
Ek gaan hou by hierdie drie vrae om te verhoed dat jy weer Hongaars, Russies en Finse strooipoppe stormloop.
Groete,
Angus
Beste Angus
Die Afrikaans wat in die Kaap en sommige dele van Suid-Afrika gepraat word
is 'n dialek, 'n woord wat tog afkomstige is van 'n Griekse woord wat - as ek dit reg onthou -saampraat beteken.
Daar is dus 'n Kaapse dialek van Afrikaans wat dan eie is aan 'n besondere streek en groep.
Daarteenoor staan Afrikaans as 'n amptelike taal, soos dit gebruik word as 'n regs-en-wetenskaplike en onderrig taal.
As die dag aanbreek dat 'n regter sy uitspraak in 'n dialek of mengeltaal begin lewer
is dit tyd dat elkeen wat lief is vir Afrikaans sy goedjies moet begin pak en elders oor begin.
Afrikaans moet tog 'n taal wees waarin jy jou diepste gevoelens kan uitspreek en op skrif plaas sonder om woorde van ander tale te gebruik.