Rassisme ... dis in ons bloed, sê hulle

  • 3

Dis in ons bloed beteken seker dis in ons gene. Nou wil ek weet of diegene wat so iets beweer, met of sonder vraagteken, enige kennis het van die menslike genoom? Watter navorsing het hulle al gedoen?

Dit is so dat daar rasseverskille is, en daar is so iets soos rassisme; trouens, daar is g'n mens op aarde wat nie ʼn rassis is nie. Die woord ras is egter ʼn politiese konstruk; biologies is Homo sapiens een spesie, en ras kan nie biologies gedefinieer word nie. Die verskil in rasse lê wel in die gene, maar so ook die verskille tussen mense: nie twee mense lyk presies dieselfde nie, selfs nie identiese tweelinge nie.

Die vraag is nou waarom is daar dan rasseverskille en waarom dan rassisme? Om die vraag te beantwoord, moet ons by die vader van die evolusieteorie, Charles Darwin, gaan aanklop, en hoor wat hy te sê het oor ras, en ook sommer kyk watter navorsing hy gedoen het. Darwin het beweer dat die mens een spesie is, en dat natuurlike seleksie nie verdeling kan veroorsaak nie. Tydens sy besoek aan die Galapagos-eilande het hy die interessante ontdekking gemaak dat vinke van die verskillende eilande nie met mekaar kan paar nie, en dus as verskillende vinkspesies beskou kan word. Die vinke is deur die eeue heen deur die eilande van mekaar geskei wat hierdie “vervreemding” veroorsaak het.

Darwin het natuurlik niks van genetika af geweet nie. Met die toetrede van die genetika is ontdek dat die gene so ingestel is dat dit reageer op die omgewing. As lede van ʼn spesie geografies geskei word, sal nuwe spesies mettertyd ontstaan, wat niks met mekaar te doene wil hê nie.

My oupa het my vertel van die ontgroening op universiteit toe hy nog jonk was. As ʼn groentjie gevang word dat hy rook, het hy voor die hof van Hades verskyn. Sy “advokaat” vir die verdediging, ʼn Hollandse meneer, het hom dan verdedig met die woorde: “Kan een miskoek dan helpt dat hij rookte?”

Nou vra ek maar net: “Kan ʼn mens help dat hy ʼn rassis is?”

Angus

  • 3

Kommentaar

  • Beste Angus

    So terloops 'n miskoek is 'n harde stuk mis van 'n dier. Jy moet dus net soos 'n sigaret of enige ander rookdingetjie dit aan die brand steek, wat dan dui dit op 'n voorbedagte daad.

  • Beste FC Boot,
    Stadskinders sal dit nie verstaan nie. As die veld afgebrand het waar beeste gewei het, sien jy orals sulke bondeltjies rookwalms waar die beeste gemis het. Die lomp verdediging dui maar net op die hopeloosheid van die saak.
    Groete,
    Angus

  • Die 'rook' van 'n miskoek is wanneer hy nog warm is. Destyds, in die winter, het jy die miskoeke uitgesoek wat nog rook om in te loop (om jou voete warm te hou). Streng gesproke is dit dus nie rook nie maar wasem. Koeltorings van 'n kragstasie stuur ook waterdamp die lug in maar almal praat van die rook wat dit natuurlik nie is nie - dis maar populêre taal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top