Raadslid Hamersma se voorvinger wys wes
Marius Ackermann
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869193201
Toe dié satiriese roman op my leestafel beland, besluit ek om eers met juffrou H te gesels, net ingeval ek nie so op hoogte is met die genre as wat ek wil glo nie (juffrou H synde ’n selferkende kenner op die gebied van satire).
Satire verdien respek slegs wanneer dit as wapen gebruik word teen byvoorbeeld hoogmoed, onderdrukking, onbeholpenheid, doodgewone domheid en ander euwels, aldus juffrou H. Goeie satire is onverskrokke en genadeloos. Dis daarop uit om die wêreld ’n beter plek te probeer maak deur onregte te help afbreek of ten minste onder die naïewes se aandag te bring. Goeie satire is méér as ’n gedig, prosawerk, musiekvertoning, ensovoorts wat al spottende vermaak.
Die probleem met Raadslid Hamersma se voorvinger wys wes, vermoed juffrou H, is dat dit met groot uitgelatenheid met die apartheidsera hekel, maar na alle kante toe spot. Die skrywer was daarop uit om ’n spesifieke tydsgreep in Suid-Afrika belaglik te maak, en nie die destydse regering, die polisie, weermag, regse groeperinge, linkses óf vredemakers word ontsien nie. Die gevolg is “swak” satire. Daar is nie ruimte vir onpartydigheid in hierdie genre nie: die skrywer móét kant kies.
Al het Raadslid Hamersma (byvoorbeeld) die NP-regering as teiken gehad, sou die boek niks meer wees as oppervlakkige vermaak nie, omdat dit afspeel in ’n era wat lankal verby is. Hoekom jou visier op die apartheidsregering instel as dié nie meer met ons nie? Kyk byvoorbeeld na André Brink se Oom Kootjie Emmer en die Nuwe Bedeling. Dis nou satire wat respek verdien! Oom Kootjie het apartheid ordentlik aan die knaters beetgekry – juis toe PW Botha stewig in die saal was.
Maar Oom Kootjie is pas heruitgegee. Kan die heruitgawe van die boekie wat oorspronklik groot lof gekry het, afgemaak word as irrelevant en doelloos omdat dit ’n bestel wat lankal nie meer met ons is nie, as teiken het? Is die heruitgawe by verstek “slegte” satire bloot as gevolg van die verskyningsdatum? Uitgewers is opportunisties, maar ’n gerespekteerde en ervare skrywer soos Brink behoort te weet dat wat eens ’n meesterstuk was, jare later as ’n prul afgemaak kan word.
Of is Brink so verleë oor ’n geldjie, wonder juffrou H, dat hy sy beginsels sal verkwansel, ten spyte van die tjekkies wat destyds met eentonige reëlmaat van oorsee gestuur is om hom vir sy bydrae in die stryd teen apartheid te beloon?
Marius Ackerman, advokaat in Pretoria, staan pa vir verskeie tydskrifverhale, twee radiodramas wat op RSG uitgesaai is, en Grootraad Makedaan en die Bobbejaantrop van Donkerberg wat in 2008 deur Protea Boekhuis gepubliseer is. Grootraad Makedaan draai – soos die titel beloof – om ’n trop bobbejane en hul leier wat sy lyf mens probeer hou en hom selfs in die politiek begeef. Dié roman lees besonder lekker, het groot indruk gemaak, en die grondslag vir Raadslid Hamersma gelê.
In laasgenoemde word lesers algaande aan ’n wye groep karakters voorgestel. Die “main peanut” in die pakkie is Wessel Wessels, ’n joernalis wat na ’n naamlose dorpie gestuur word om ou wonde oop te krap. Dis vyftien jaar nadat die dorpie – ná groot drama, vele intriges en selfs geweld – oorgegaan het na ’n volle demokratiese bestel, maar ’n mens weet nooit of daar steeds êrens ’n storie skuil nie. (Jy hoef nie ’n sogenaamde kenner te wees om gou te besef dié dorpie is ’n mikrokosmos van Suid-Afrika kort voor die afskaffing van apartheid nie.)
Naas Wessels is daar die Burgemeester met ’n gesaghebbende Pik Botha-snor en ’n handvol “sidekicks”, soos Snor de Beer, die katoolse Rian Roux, Kryg Roelofse en die Polisiekommasaris. Dan is daar is Helena en Skor wat gereeld by die Purple Turtle rondhang, die polisie se Kaptein Smit en AO Bos Fourie, die sakeman Stoof Theron, die Rooibaarde, Maryville se Maruma en Mal Mary en vele ander. Die geheimsinnige Duiweman wat omtrent altyd op die Hamerplein aangetref word, moet ook genoem word. Dis ’n kleurryke versameling karakters en elkeen het ’n rol om te speel: saam sorg hulle vir baie aksie. Een ding wat ’n mens Ackerman ter ere moet gee, is dat daar nie ’n enkele vervelende oomblik in sy tweede roman is nie.
Kort nadat hy op die dorpie aangekom en begin snuffel het, verdwyn Wessel feitlik heeltemal uit die verhaal. Die grootste deel van die storie speel hom regstreeks in die dorpie se oorgangsjare af. Al is hy die protagonis, word Wessel Wessels beperk tot die aanvang en afloop van die boek. Dis groot pret om te sien hoe Wessel naarstig by die waarheid van wat alles destyds gebeur het, probeer uitkom – terwyl dié waarheid reeds dramaties aan lesers onthul is.
Natuurlik het die skrywer die aanvang en afloop van die verhaal in die hede laat afspeel om ’n tikkie aktualiteit en relevansie aan die boek te probeer gee. Of kenners soos juffrou H daarmee tevrede gaan wees, is ’n ope vraag.
Juffrou H en kie sal bly wees dat daar ook op suiwer tegniese gebied besware teen Raadslid Hamersma ingebring kan word. Die eerste is dat daar dwarsdeur die boek paragrawe wat bloot opsommend is. Dit geld veral dialoog – karakters word dikwels nie toegelaat om self te sê wat hulle wil sê nie. Show, don’t tell, meneer Ackermann! (Ek moet bysê dat dit bloot ’n tegniese beswaar is. Ten spyte van dié onhebbelikheid lees die roman vlot.)
Soms gaan die skrywer oorboord met sy beskrywings, soos op bladsy 91: "Die Maryville-nag ontvang die besoeker soos ’n swart fluweelhandskoen." Op bladsy 99 makeer daar sowaar ’n komma. En hoe gemaak met ’n frase soos "... lag Shakira laggend" op bladsy 76?
Aan die pluskant: die boek lees, soos gesê, vlot en boeiend. Min skrywers kan soveel karakters – elk met ’n eie agenda – en intriges saamklits sonder om lesers te verwar of vaart in te boet.
Die teks is gepeper met tong-in-die-kies opmerkings en beskrywings, soos op bladsy 71: "Die gevolg is voortgesette ontmoetings tussen Bos en Sizwe, weliswaar op ’n versigtige trant, amper soos twee skerpioene wat langarm dans."
Wat relevansie betref: dit pla nie regtig dat Raadslid Hamersma hoofsaaklik in die verlede afspeel nie. Om die reis na demokrasie te herleef is nodig, veral wanneer dit met soveel vernuf en pret aangebied word.
Die meeste karakters is stereotiep en tog voel hulle vir die leser “werklik” – ’n besondere prestasie vir ’n boek soos hierdie.
Ek is seker ’n paar verwysings na Don Quichot sou ’n groot aanwins vir hierdie resensie wees. Maar aangesien ek nie ’n eksemplaar van dié boek in die hande kon kry nie, moet ek hou by Oom Kootjie Emmer en die Nuwe Bedeling: André Brink kan sy ou skoene agterna gooi. Selfs met inagneming van ’n “kenner” se notas oor satire, word Raadslid Hamersma se voorvinger wys wes onvoorwaardelik aanbeveel vir enigiemand wat Afrikaans kan lees.


