"Die politieke teologie van apartheid"

  • 2

Albert Venter het onlangs as politieke wetenskaplike afgetree, maar hy wil blykbaar nou sy ekstra tyd gebruik om politiek-korrek sy posisie as openbare intellektueel te bestendig. Die jongste voorbeeld is sy artikel onder die opskrif: "Verskonings vir die onverskoonbare" (Die Burger, By, 2 deser, p 5). Dit handel oor wat hy "die politieke teologie van apartheid" noem. Hy val daarin direk en woordeliks aan wat ek verkondig, naamlik dat apartheid "nie net sleg was nie." Volgens Venter dus: Apartheid was net sleg; vir 'n wetenskaplike die huldiging van 'n nogal uiterste standpunt.

Ek matig my nie aan om te glo dat Venter op my skrywes gereageer het nie. Ek verwerdig my nie om die spreekwoordelike arm man se Albert Venter te probeer wees nie. Daar is die storie van toe aan die verwaande veldmaarskalk Bernard Montgomery gevra is watter drie veldhere die suksesvolste was, hy gesê het: Die ander twee is Alexander die Grote en Napoleon. As ek myself oorskat het en daar gevra word wie die bekendste Johannes is, kon ek antwoord dat die ander twee Johannes die Doper en Johannes die Apostel is. Ek sou nooit daarop aanspraak maak dat Johannesburg na my genoem is nie, maar dit verhoed my nie om die nuwe bewindhebbers te verkwalik omdat hulle die naam tot Joburg (Engels uitgespreek) verwring het nie. Insgelyks, hoewel ek nie daarop aanspraak maak dat ek 'n politieke wetenskaplike is of 'n openbare intellektueel probeer wees nie, volg hier 'n aantal kritiese opmerkings oor Venter se artikel.

Venter ontken kategories dat daar "hoegenaamd 'n morele grondslag vir apartheid was." ("Apartheid" word hier gebruik as die omvattende term wat al sy vorme, bv rasse-segregasie en afsonderlike ontwikkeling, insluit.) Daar was glo 'n "meerderwaardigheidskultuur onder wit mense" en die grensoorloë het "rassevooroordeel" en 'n "eksistensiële vrees oor swart oorheersing by wit Afrikaners laat ontstaan." "Bestaansonsekerheid" is volgens Venter "deel van ... menswees." Dat daar grade van hierdie soort onsekerheid kan wees (bv wat is die kanse dat 'n boer in Europa vermoor sal word in vergelyking met Suid-Afrika) bring hy nie te berde nie. Hy verskuif die aandag na 'n "politieke teologie" wat 'n onrealistiese "absolute sekerheid" as ideaal het; 'n teologie wat daarop aanspraak maak dat die doel van die geskiedenis bekend is en dat 'n vrederyk of utopie op aarde bewerkstellig kan word.

Venter verwys na die uiterste standpunte van EP Groenewald, Geoff Cronjé, PJ Meyer en Nic Diederichs. Daarna noem hy Hendrik Verwoerd se "groot apartheid" wat selfbeskikking aan volke gegun het en dat "slegs 13% van die grondgebied van Suid-Afrika" vir "die sogenaamde tuislande" bewillig is. (Vir omvattender en meer gebalanseerde inligting oor die grondvraagstuk, kyk SêNet, 4 deser.)

Venter kies sy inligting sodat hy by sy verlangde gevolgtrekking kan uitkom, naamlik dat apartheid verkeerd was en onverskoonbaar is. Diegene wat apartheid ondersteun het, was dus in 'n dwaal en diegene wat die leiding gegee het, was gek of dwaas. Venter kan dus nie verstaan waarom daar steeds die onwilligheid of onvermoë by sommige mense is om gewoon te erken dat apartheid verkeerd was nie. Die aanleiding vir sy artikel was FW de Klerk se onlangse erkenning dat hy eens in die morele grondslag van apartheid geglo het.

Waaruit put Venter die morele verwerplikheid van apartheid? Dit was "die beskerming van ongeregverdigde bevoorregting." Apartheid kry die skuld vir "bloedvergieting" en "geweld"; nie die teenstanders se geweldadigheid nie. Die apartheidondersteuners "verlang na die ekonomiese voordele wat geput is uit die instandhouding van 'n illusie." Dit is wat die "hunkering na die kwansuis 'goeie ou dae'" behels.

Die teologiese regverdiging van apartheid het inderdaad in sommige kringe aanhang geniet. Venter gee prominensie daaraan omdat dit hom help om by sy gevolgtrekking uit te kom. In werklikheid kan apartheid suiwer empiries geëvalueer word. Dan hoef ons nie dogmaties te wees en die doel van die geskiedenis te ken en 'n utopie in die onvolmaakte hede of toekoms te begeer nie. Ons kan bloot probeer om 'n beter hede en toekoms te skep. Dan word die hunkering na die goeie in die verlede verstaanbaar en is dit eerder die groter wordende chaos van die nuwe Suid-Afrika wat onverskoonbaar is.

Op een van die eerste byeenkomste van die organisasie wat nou die Afrika-Unie genoem word, is besluit om die koloniale grense te behou. Dit is algemeen bekend dat daardie grense kunsmatig getrek is; dat volke en ander groepe as gevolg daarvan verdeel is en dat hulle dus steeds onder verskillende lande ressorteer. Die daarstelling van sinvoller landsgrense kon die hoofbydrae van Afrika-lande tot hulle vrede en voorspoed gewees het. Maar iedere Afrika-regering verkies om te bly klou aan al die grondgebied wat in sy skoot geval het. Daar is ook die bedenklike gewoonte om Westerse lande en veral die eertydse koloniale moondhede te beskuldig vir allerhande dinge wat deur eie toedoen in onafhanklike Afrika-lande verkeerd geloop het. In die nuwe Suid-Afrika neem dit die vorm aan van apartheid en dus die wittes wat vir die onbeholpenheid en erger van die ANC-regering die skuld kry.

In Europe is daar gepoog om nasie-state as onafhanklike lande tot stand te bring. Monokulturaliteit is 'n sinvolle ideaal met die oog op vrede en voorspoed. Dit is bv die rede waarom in 1993 besluit is om Tsjeggo-Slowakye in Tsjeggië en Slowakye te verdeel. Elke land kan dan besluit in hoeverre hy sy monokulturaliteit met multikulturaliteit wil verdun deur immigrante toe te laat. Elders word daar algemeen besef dat multikulturaliteit nie iets is om jou oor te verbly soos graag in die nuwe Suid-Afrika beweer word nie. Multikulturaliteit is 'n situasie waarin die beste van 'n slegte opset gemaak moet word. Oor die wenslikheid van die tradisionele kookpotbenadering in die VSA is daar al hoe meer bedenkinge namate die tyd nader kom dat die wittes daar in die minderheid gaan wees.

Dit moet veral vir Verwoerd ter ere gegee word dat hy groepe wat bv etnies en kultureel bymekaar hoort, bymekaar wou bring. Hy wou dus volgens die Europese model bewerkstellig waarvoor die Afrika-Unie vanweë onbekwaamheid of selfsug nie kans sien nie. Groot apartheid (of afsonderlike ontwikkeling) was sekerlik 'n idealistiese en ambisieuse projek. In die uitvoering is daar foute gemaak, bv deur te min en ook nie-aaneengeslote grond vir die tuislande te bewillig en nie ontwikkelingskapitaal van blankes daar toe te laat nie. Maar dit was ten minste teoreties 'n sinvolle poging; nie onverskoonbare of onverklaarbare en immorele dwaasheid soos Venter te kenne gee nie. Dit kon slaag as die kiesers tot selfs groter opoffering bereid was en die binnelandse swartes saamgewerk en buitelandse moondhede dit ondersteun het.

In beginsel was groot apartheid nie immoreel nie. Klein apartheid kon aanstoot gee, maar wat is beter vir wittes en swartes: Om in twee rye op doeltreffende diens te wag, of om baie langer in een ry te staan en geen of vrot diens te ontvang? Werkafbakening ter beskerming van blankes was wél immoreel. Maar in baie (dalk die meeste) gevalle is bekwame mense (selfs die bekwaamste beskikbaar) aangestel. Deesdae word daar baie dikwels (dalk selfs in die meeste gevalle) onbekwame of minder bekwame mense op grond van ras en geslag (dus demografies en regstellend) aangestel en selfs eerder buitelandse nie-wittes as uiters bekwame plaaslike wittes; en dan word daar terselfdertyd gekla oor 'n tekort aan kundigheid. Is dit die resep vir 'n suksesvolle land of vir 'n mislukte staat?

Die wittes se vrees vir meerderheidsregering was klaarblyklik nie ongegrond nie. Daardie vrees het sekerlik ook nie uitsluitlik op rassevooroordeel berus nie. Maar ek beperk my verdere aandag by wat Venter die wittes se "meerderwaardigheidskultuur" noem. Venter dateer dit terug tot 1652. Hy het reg in die sin dat rasse-segregasie plaaslik eeue lank die tradisionele beleid was, wat dit nogal onwaarskynlik maak dat immorele dwaasheid geslag na geslag geseëvier het totdat die ondeurdagte en radikaal-opportunistiese inisiatiewe van FW de Klerk die morele daeraad oor Suid-Afrika laat breek het.

Die hoek waarin Venter hom vasverf, is deesdae oorbevolk. Die gewilde en politiek-korrekte standpunt is dat ons almal gelyk en selfs eenders is. Dit is dus eintlik om't ewe of A of B in 'n pos aangestel word. Die deur is dus oop vir die ongebreidelde vulling van kwotas. In die praktyk lyk dit egter asof almal nie gelyk is nie; dat swartes eintlik beter as wittes is omdat hulle jonk-jonk, met min ondervinding en dikwels sonder formele kwalifikasies, in groot poste aangestel word; poste wat voorheen deur wittes eers na dekades se ondervinding en gerugsteun deur behoorlike kwalifikasies beklee is.

Êrens is daar fout. Dit word algemeen aanvaar dat party diere in 'n spesie beter as ander is; vandaar die wetenskaplik gefundeerde teelprogramme vir plaasdiere. Ingevolge darwinistiese biologiese ewolusie is die mens 'n dier. Dit is dus hoogs onwaarskynlik dat mense, anders as ander diere, almal gelyk en selfs in tersaaklike opsigte eenders is. Soos in die tweede paragraaf hierbo gestel is, het ek subjektief of temperamenteel geen behae daarin om my bo ander mense te verhef nie. Maar dit is moontlik dat die kategoriese ontkenning van enige groepsmeerderwaardigheid by mense 'n foefie is wat as 'n politieke hefboom gebruik word om bv 'n begaafde plaaslike minderheid onder te ploeg. Daar is die moontlikheid dat party groepe (en sekerlik indiwidue) beter as ander is. Dat dit meer as 'n teoretiese moontlikheid is, blyk uit die feit dat wittes wêreldwyd reeds eeue lank suksesvoller as swartes is.

Twee gevolgtrekkings kan hieruit gemaak word. Eerstens kan die uitsonderlike prestasie van blankes wêreldwyd nie sonder meer aan apartheid toegeskryf word nie, want in baie lande was daar geen rasse-segregasie nie. Tweedens behoort dit duidelik te wees dat sodra die modedogma van gelyke gehalte by alle mense aanvaar word, daar geen verweer teen die aktiviste se beskuldiging is dat wittes hulle groter voorspoed aan die uitbuiting van swartes te danke het nie. Ek het geen behae in die evangelie dat wittes groepgewys meerderwaardig is nie, maar die aanvaarding van die gelykverklaring van alle mense lei noodwendig tot die erkenning dat die wittes se relatiewe voorspoed (net) aan die uitbuiting van swartes toegeskryf kan word. Om hierdie rede wil ek my nie in dieselfde hoek as Venter vasverf nie.

Die aangewese uitweg is om te aanvaar dat mense groepgewys en indiwidueel in baie opsigte kan verskil. Die voortreflikheid van 'n groep is nie noodwendig vir altyd geneties vasgelê nie. Die Grieke het nie meer dieselfde prominensie as in die klassieke tyd nie. Die Portugese het sedert hulle ontdekkingsreise heelwat van hulle glans verloor. Maar dit is moontlik dat sommige groepe se vermoëns hulle tans meer geskik as ander vir suksesvolle funksionering in die huidige omstandighede maak. Vergelyk in hierdie verband die wittes se bewese aanleg vir kommersiële boerdery met die swartes se bestaansboerdery, of swartes se ideologie-gebaseerde sug na (ontwikkelde landbou-)grond (SêNet, 4 deser).

Sowel monokulturele nasiestate/tuislande as kommersiële boerdery is Europese idees wat deur wittes in Suid-Afrika toegepas is. Hierdie idees is nie inherent boos nie, want hulle kan die teelaarde vir vrede en voorspoed wees. Waaraan Venter eerder ernstige aandag moet skenk, is die vraag of 'n ander Europese idee, naamlik demokrasie, sonder kwalitatiewe beperkings met heilsame gevolge plaaslik toegepas kan word. Of is die aandrang op enige kwalitatiewe teenprestasie (bv geletterdheid, ingeligtheid, insig) maar net weer 'n uitdrukking van 'n meerderwaardigheidskultuur?

Deur openlik erkenning aan die prestasie van wittes te gee, pleks van hulle te verdoem, en van owerheidsweë alles moontlik te doen om omstandighede te skep waarin wittes hulle goeie werk kan voortsit, sal 'n hupstoot aan 'n voorspoediger nuwe Suid-Afrika gee.

Dit val myns insiens nie te betwyfel nie dat Venter se benadering die regte een is as hy sy standpunt in die pers wil publiseer, of dit oor die radio en televisie wil uitsaai, of dit as spreker van die verhoog af wil verkondig. Politiek-korrekte uitlatings is tans gewild en dus in aanvraag. Die vraag is of dit akademies-wetenskaplik verantwoordbaar is. Dit is moontlik dat hy verkeerd het. Of dit só is, sal hopelik met verloop van tyd duidelik word.

Johannes Comestor

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top