Die regisseur en akteur Quentin Krog was in 2015 aan die stuur van die trefferfilm Ballade vir ’n enkeling – en hy het talle ysters in die vuur. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Quentin. Hoe's dinge?
Great, dankie! Ek's nou op ’n erg benodigde vakansie en bring kwaliteittyd deur met my vrou, Dominique, en ons eenjarige dogtertjie, Hannah. Binne twee weke sal ons ’n gesin van vier word, met die aankoms van my seun.
Geluk met die groot en goeie reaksie op Ballade vir ’n Enkeling sedert die bekendstelling in Maart! Hoe voel jy terugskouend oor die hele proses en natuurlik die eindproduk? Is daar enigiets spesifiek wat jy as regisseur geleer het daaruit wat jy sal onthou om weer te doen, of iets spesifiek wat jy eerder volgende keer anders sal aanpak, veral in ag genome dat Ballade jou eerste vollengte-film is?
Dankie! Ek's baie trots op die eindproduk. Ons het as ’n span baie moeite daarin gesit om daarvan ’n gehaltefilm te maak, en ek dink ’n mens kan dít sien.
Terugskouend sou ek waarskynlik gehou het van dit waarvan elke regisseur in die wêreld sou hou met hul afgehandelde produkte (behalwe miskien Stanley Kubrick), en dis meer tyd. Meer tyd om te werk aan die teks, meer tyd om al my departemente gereed te kry, meer tyd om te skiet, meer tyd om te redigeer, meer tyd vir die klankbaan, ens. Maar daardie wens is maar soort van futiel, om die waarheid te sê – jy het binne enige volhoubare bedryf grense nodig, en sodoende doen jy op die ou end die beste wat jy kan met die begroting en tydbeperkings wat jy het.
Ek dink die grootste les wat ek geleer het, is dat daar nie iets bestaan soos ’n “ligte” of “maklike” skietdag as dit by ’n film kom nie – selfs al sê die “callsheet” jy skiet vandag net vier bladsye (in teenstelling met 10 of 12 bladsye per dag vir ’n TV-reeks). Dit beteken nie jy gaan meer tyd hê nie. Dis steeds ’n mal gejaag om ’n hele span mense te koördineer om al die skote te kry wat jy nodig het, in ’n onvoorspelbare omgewing.
Met elke projek waaraan ek werk, leer ek konstant nuwe dinge, en ek dink dis die mees lonende aspek daarvan om in hierdie bedryf te werk. Ek dink nie ek sal ooit ophou leer nie, aangesien elke projek ’n vars platform is, ’n leë skilderdoek: nuwe storie, nuwe akteurs, nuwe bemanning, nuwe liggings, nuwe waagtoertjies, nuwe uitdagings, nuwe oplossings.
Ballade is natuurlik interessant in die opsig dat dit nie net ’n herskepping van ’n destyds uitgesaaide storie is nie, maar ook van reeksformaat tot filmformaat aangepas moes word. Leon van Nierop het die tekste vir beide die destydse reeks en die nuwe film behartig – in hoe ’n mate het jy en hy kans gehad om saam oor die storie, die struktuur en die vloei te tob en te debatteer, of was dit meer ’n geval van die teks wat soos ’n aflosstokkie aangegee word? Baie regisseurs kies om self te skryf – hoe beskou jy die saak, en hoe moeilik is dit om getrou te moet bly aan iemand anders se teks versus jou eie?
Ek en Leon het baie tyd saam ingesit met die teks. Toe ek aan boord gekom het, was die teks op draft 3, en teen die tyd wat ons geskiet het, was ons op draft 11. So daar is baie fyn aan die teks gewerk om seker te maak dat Leon se storie sy integriteit behou, terwyl ek as regisseur ’n teks kon gebruik om ’n dramatiese en spanningsvolle film te skiet. Leon was baie oop en toegangklik en ons het goed saamgewerk op die ou end.
Terug by die kwessie van die vollengte-film: met die gewildheid daarvan besef baie mense natuurlik nie die bloedsweet wat gebeur om ’n storie uiteindelik in dié formaat te vertel nie. Jy is volgens mediaberigte nou weer betrokke by die skiet van ’n nuwe TV-reeks, Die Boekklub. Noudat jy proesels van albei (en ook ander formate soos kortfilm) gehad het as jong regisseur, wat is jou ervaring van hoe die verskillende uitdagings van die formate teen mekaar afspeel? Hoe moet ’n mens se benadering verskil met die vertel van die storie, en wat geniét jy meer? Waarvan sal jy voortaan meer wil doen?
Beide film en TV het hul voor- en nadele. Ek dink uit ’n vervaardigingsperspektief is die TV-bedryf ’n veel meer goedgeoliede en volhoubare masjien, met ’n gesonde vloei van geld en inhoud wat daarby in- en uit gaan. Die gehoor en die mark is kwantifiseerbaar en voorspelbaar, en die risiko is veel laer – dit beteken projekte kry veel makliker die groen lig en die omkeertyd is baie vinniger, van begin tot einde. Werk vir maatskappye, bemanning en akteurs is altyd beskikbaar. Die nadeel van die TV-bedryf is natuurlik die begrotings, wat veel laer is vir die hoeveelheid inhoud wat jy moet skep. Jy skiet op die ou end amper 10 keer die hoeveelheid inhoud met ’n soortgelyke begroting as dié van ’n enkele vollengte-film. Die druk is intens en kreatief gesproke moet jy baie kompromieë aangaan. Aan die positiewe kant is dit ’n hectic leerkurwe en dit leer jou om vinnig op jou voete te dink, om selfvertroue te hê en te improviseer wanneer dinge verkeerd loop – maar dit kan nogal tappend word ná drie maande se 12–14-ure-werksdae.
Dan is die filmbedryf ’n heel ander soort dier: die grootste nadeel is dat dit ’n baie groter risiko inhou wat belegging betref. Gehore wat fliekteaters besoek, is hoogs onvoorspelbaar en moeilik om voor te cater, en films is baie selde ’n groot sukses by die loket. In die algemeen word daar net gelyk gebreek, as hulle gelukkig is. So hulle kan soms ’n baie lang tyd vat om van die grond af te kom, maar wanneer dit gebeur, is daar baie pluspunte. Jy kry veel meer leverage uit jou begroting om gehalte-inhoud te skep, jy het meer tyd om gereed te maak, meer tyd om te skiet, meer tyd om te redigeer as wat die geval met TV is. So in daardie opsig het jy die kans om baie meer kunstig en perfeksionisties met jou werk om te gaan.
Uit ’n kunstenaarsperspektief skat ek geniet ek die werkmanskap wat by ’n film ingaan meer, suiwer omdat ek dan ’n produk van veel hoër gehalte kan maak. En die mees uitputtende, maar ook die meeste pret, van alle film- of TV-projekte is die skiet- (produksie-) fase. Dis onafwendbaar die deel van die proses waarin ek die meeste weg is van my gesin, en wanneer dit by film kom, is hierdie fase veel korter – net ’n paar weke – as met TV, wat tot twee maande op ’n slag kan wees, so in daardie opsig verkies ek ook films.
Ek help op die oomblik vir Kaapland Films (Klein Karoo, Mooirivier) om ’n hele lei vollengte-films te ontwikkel wat gemik is op ’n internasionale mark, so dit sal my hopelik ’n hele ruk besig hou.
In ’n paar onderhoude het jy genoem die “casting” vir Ballade was nogal ’n uitdaging – veral met die druk van die destydse reeks se sukses. Hoe wéét ’n mens wanneer jy die regte akteurs vir die regte rolle beet het – spesifiek met Ballade, en ook in die algemeen? Neem jy dinge soos voorgenome dinamiek op stel tussen akteurs in ag, of is dit ’n geval van die beste speler vir die beste posisie (as jy nóg ’n sportvergelyking in hierdie stel vrae sal verskoon)? Hoe maak ’n mens met die versoeking om jouself in ’n rol te cast, aangesien jy self ’n sterk agtergrond in toneelspel het?
In die geval van Ballade se casting was die moeilikste deel om akteurs te vind vir die karakters van Gert, Lena, Jacques en Jan-Paul, wat junior en senior karakters het. Fisiek moes daar natuurlik ooreenkomste wees, anders sou die casting nie geloofwaardig wees nie. En buiten dit – ja, daar is iets om te sê vir die akteurs se chemistry op kamera. Ek het al dikwels gesien hoe van ons land se beste akteurs wat werklik goeie oudisies gehad het, nie die rol kry nie, bloot omdat ’n ander akteur ’n baie klein en subtiele edge oor die ander een gebied het. Sit daardie selfde akteurs in ’n ander oudisie vir ’n ander film ’n dag later en die akteur wat die eerste een verloor het, sal heel moontlik die rol kry bo die een wat die vorige dag suksesvol was.
Ek het al voorheen die versoeking gehad om rolle te speel in die projekte wat ek regisseer, en daar was kere dat ek wel klein rolle gespeel het, maar die meeste van die tyd is daar bloot iemand wat veel beter geskik is vir die karakter as ek. Dit, en dan die feit dat die werk van ’n regisseur op stel so ’n allesverterende taak is dat die gedagte van tegelykertyd regisseur en akteur wees nogal ’n vreesaanjaende gedagte is. Ek dink die ouens in Hollywood wat dit doen het ’n enorme hoeveelheid tyd, hulpbronne en assistering wat hulle toelaat om hierdie soort ding reg te kry. Met ons kleiner begrotings en beperkte tyd en hulpbronne sien ek nie werklik hoe dit ’n moontlikheid kan wees in ons land nie.
Gepraat van jou eie toneelspel – is dit iets wat jy vir eers agterweë laat, met die sukses en geleenthede wat jy as regisseur behaal en kry? Of hoe sal jou perfekte balans in terme van voor die kamera versus agter die kamera lyk?
Op die oomblik benader ek toneelspel meer as ’n stokperdjie en ’n kantlyn-aktiwiteit. Ek doen net klein rolle hier en daar, tussendeur my werk as regisseur. Ek is beslis deesdae meer gefokus op regisseurswerk, wat vir my langer kontrakte en meer volhoubaarheid bied, finansieel gesproke. Ek sal egter nooit toneelspel opgee nie – dis nie soos die sportbedryf waar jy ’n piek bereik en dan moet uittree in jou 30's nie, so daar sal altyd tyd daarvoor wees in die toekoms.
My ideale balans sal wees om sommige films te kan skryf en regisseer, en ander films te vervaardig en daarin te speel. En teaterprojekte sal grotendeels passieprojekte wees, wanneer daar ’n lekker "buffer" in die bankrekening is om my en my gesin ’n ruk lank te onderhoud. Niks kom heeltemal by die rush daarvan om op ’n verhoog voor ’n gehoor op te tree nie.
Die Afrikaanse filmbedryf is beslis in ’n interessante plek in hierdie stadium. Wat sou jy, met jou ervaring tot dusver in hoe dinge hier gebeur, uitwys as die sterk- en swakpunte van die plaaslike filmtoneel, Afrikaans en andersins? Wat suig, en wat wérk? Hoe sou jy dinge wou sien groei en verander in die volgende paar jaar?
Aan die positiewe kant is dit inspirerend om te sien dat ons soveel passievolle mense in ons bedryf het – mense wat bereid is om “above and beyond” te gaan om films te skep. Daar is ’n groot bewustheid van ’n film/TV-skeppende gemeenskap, waarin almal hul bes doen om ’n volhoubare bedryf te skep.
Op ’n negatiewe noot: ek dink ons het ’n ernstige gebrek aan waarlik talentvolle draaiboekskrywers in hierdie land. In die algemeen is daar baie mense wat films maak wat blykbaar dink as jy die beste kameratoerusting huur, die beste bemanning en die beste akteurs kry, en hulle dan in die kryt gooi met ’n halfgekookte draft van ’n teks het jy ’n potensiële lokettreffer op hande. Dit is ongelukkig ’n groot fout. ’n Uitstekende film begin op papier, en daar word nie naastenby genoeg tyd ingesit in ons bedryf om waarlik briljante tekste en teksskrywers te ontwikkel nie. Ek voel dit moet vinnig reggestel word, of ons sal nooit groei as ’n bedryf soos ons behoort te groei nie.
Volgens ’n paar mediaberigte, en soos jy hier bo aangedui het, het jy ’n jong gesin, met ’n eersteling wat verlede jaar gebore is en nog een op pad. Hoe balanseer ’n mens die dikwels meedoënlose eise wat die filmbedryf stel met die ewe meedoënlose eise wat die jong kinders meebring? Is dit ’n moeilike uitdaging, of is dit juis ’n geval van hoe meer ondersteuning, hoe beter?
Om ’n ouer te word, verander die balans nogal baie. As dit net twee volwassenes in die gesin is – man en vrou – vind jy maklik maniere om te cope en op te maak vir die verlore tyd. Jy verstaan dat die werk belangrik en nodig is vir loopbaanbou en voorsiening vir die gesin. Maar wanneer kinders deel word daarvan, begin die gereis en lang ure by die werk ’n tol eis. In so ’n mate dat ek onlangs ’n groot besluit geneem het om ’n groot projek van die hand te wys waartoe ek aanvanklik ingestem het. Jy kan nie net opmaak vir verlore tyd met jou kinders nie; hulle verstaan nie die konsep van werk of ’n loopbaan nie – hulle het net basiese behoeftes waarna jy moet omsien – geen verskonings of verduidelikings sal deug nie. Hulle het jou net nodig. So ek dink dis belangrik om net objektief die omstandighede te evalueer by sekere tydperke in jou lewe en ’n besluit maak wat jy voel die beste werk vir jou gesin teen die gegewe tyd.
Soos gemeld, het jy al ’n rits ervaringe in die filmbedryf agter die rug, en ook vele wat aan die gang is ... Wat staan vir jou as hoogtepunt uit tot dusver? Enige plekke waar julle geskiet het of agter-die-skerms-staaltjies wat jy nie gou sal vergeet nie? Eniges wat jy eerder wel sal wil vergeet?
Ek het so baie great herinneringe in hierdie bedryf opgebou, te veel om te noem – slegtes ook. Die mees onlangse hoogtepunt moet vroeër vanjaar se première van Ballade wees – om te sien hoe al die harde werk van die hele rolverdeling en bemanning bymekaarkom op die groot skerm, en dat dit so goed ontvang is – dit was ’n great gevoel.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Quentin Krog, in so verre jy dit kan beheer?
Ek sal regtig graag uit die filmskepping mould van Suid-Afrika wil breek en ander kontinente bereik met dit wat ek het om te bied. Maar in dieselfde asem sal ek ook graag die plaaslike bedryf gesond en aan die groei wil hou. Ek was regtig geïnspireer deur Neill Blomkamp se benadering met District 9 en Chappie – om Hollywood se geld na ons land te bring en plaaslike talent, bemanning en ligging in te span, ’n storie te vertel wat in Suid-Afrika afspeel met meestal Suid-Afrikaners in die rolverdeling, en dit dan uit te reik na ’n wêreldwye gehoor. Ek hoop regtig om eendag so iets te bereik.
Wat is die sin van die lewe?
Johannes 3:16–21.