Ek sluimer oor ’n storietjie
maar laat dit net so lê:
dit het te min aan inhoud
om hardop uit te sê –
tensy ek dit as draadjie
oor ’n glas laat sak
waar in ’n stroopsoet mengsel
kristalle daaraan plak
en klont en knoets en eindelik
– o lieflike gesig –
’n simpel storiedraadjie
tot teesuiker verdig.

