Prof Christo Viljoen: Denkleier, ingenieur en kultuurmens

  • 2

Christo Viljoen en Mellet Moll, tydens ’n funksie geneem

...
Hy was een van daardie rare individue wat sy lewe aan verskeie terreine toegewy het en die vermoë gehad het om al hierdie aktiwiteite in sy lewe te integreer en dus as ’n soort rolmodel in transdissiplinariteit te dien: as denkleier; as ingenieur; as wetenskaplike; as bestuurder; as bedryfshoof van Stellenbosch-universiteit; as kultuurmens; en laastens as aktiewe lid van die gemeenskap.
...

Dit bly vreemd hoeveel bekendes tydens die jaareinde, of kort daarna, afsterf. Dink maar aan bekendes soos Pelé, emeritus pous Benedictus XVI, en hier ter plaatse, Dolf van Niekerk, almal rondom Oujaar. Die afgelope week was dit Lisa Marie Presley, Gerrie Coetzee, Piet de Jager en Christo Viljoen.

Miskien het hierdie vreemde liminale verskynsel iets daarmee te doen dat ’n persoon ’n laaste Feestyd met sy/haar geliefdes wil spandeer en wanneer hierdie mylpaal bereik is, verloor die persoon die wil om ’n mediese kondisie te beveg wat deurentyd onderliggend was.

Ek was diep geraak deur twee van hierdie afsterwes: die afsterwe van Dolf van Niekerk omdat hy so ’n groot bydrae gelewer het tot ons Afrikaanse kultuurskat, en die afsterwe van Christo Viljoen (in die ouderdom van 85), omdat ek hom in sy later lewe leer ken het en ek, as ’n akademikus in die ingenieurswese met ’n groot belangstelling in die Afrikaanse lettere, hom as ’n soort baken en rolmodel beskou het wat ook beide fasette nagestreef het. Die meeste ingenieurs is immers nie noodwendig kultuurmense nie; of liewer: Hulle leef nie hierdie belangstellings in die openbare oog uit nie. In die geval van Viljoen was dit anders. Hy was een van daardie rare individue wat sy lewe aan verskeie terreine toegewy het en die vermoë gehad het om al hierdie aktiwiteite in sy lewe te integreer en dus as ’n soort rolmodel in transdissiplinariteit te dien: as denkleier; as ingenieur; as wetenskaplike; as bestuurder; as bedryfshoof van Stellenbosch-universiteit; as kultuurmens; en laastens as aktiewe lid van die gemeenskap. By my eie universiteit streef ek soortgelyke waardes na, en is daar sekerlik ooreenkomste tussen sommige ampte wat hy beklee het en my eie loopbaan.

Maar laat ek voor begin.

In elke dissipline is daar ikoniese mense wat hulleself onderskei deur hul vermoë, prestasies en die ruimhartige mense wat hulle as gevolg daarvan is, of kortliks, hulle waarde vir die samelewing. Daar was inderdaad heelparty Afrikaanssprekendes in ons geskiedenis wat hierdie ikoniese status verwerf het. Diegene wat hulle in die lettere onderskei het, is welbekend. So ook diegene wat uitgeblink het in die filosofie. Maar daar was ook heelwat mense op die gebiede van ingenieurswese, wetenskap en tegnologie wat so ’n rol gespeel het. Hulle was oorwegend óf nyweraars óf akademici. Dink maar aan mense soos Hendrik van der Bijl, Ben Alberts, Waldo Stumpf, Japie van Zyl, Paul Cilliers, Johan Botha, en vele meer. ’n Mens kan met vertroue die naam Christo Viljoen by hierdie lys voeg.

Hendrik Christo Viljoen is op 31 Augustus 1937 in Graaff-Reinet gebore, waar hy in 1954 aan die Hoër Volkskool as hoofseun en dux-leerling matrikuleer. (Dit is opvallend dat daar ’n buitengewone aantal bekendes in die Afrikaanse gemeenskap van hierdie dorp afkomstig is – dink maar aan mense soos Anton Rupert en Beyers Naudé.) Viljoen behaal die grade BSc (Ing) (Elektrotegniese Ingenieurswese) (1959), MIng (Elektroniese Ingenieurswese) (1964) en PhD. (Ing) (1969) aan Stellenbosch-universiteit. Tydens sy studies was Viljoen aktief in die openbare studentelewe as beide kultuurleier en ’n leier onder ingenieurstudente.

Hy was daarna werksaam by Stellenbosch-universiteit as professor in elektroniese ingenieurswese; dekaan van ingenieurswese; en viserektor: bedryf. Hy was ook ’n besoekende professor aan die Georgia Institute of Technology in Atlanta en aan die Nasionale Chiao Tung Universiteit in Hsinchu, Taiwan. Hy is verkies as visepresident van die US Konvokasie van 2006 tot 2011, en president van 2011 tot 2016.

Viljoen was getroud met Hana Stehlik, wat hy op ’n toer deur Europa ontmoet het. Die egpaar het drie kinders en sewe kleinkinders.

Tydens sy termyn as dekaan het Stellenbosch-universiteit die Sunsat-aardsatelliet in 1999 gelanseer, en is die maatskappy Sunspace (later Spaceteq) by Tegnopark gestig. Trouens, Viljoen kan as die grondlegger van Tegnopark op Stellenbosch (in 1985) beskou word. As viserektor: bedryf was hy verantwoordelik vir die kommersialisering van die Neelsie-studentesentrum asook die oprigting van verskeie geboue en sentrums wat vandag as landmerke op die universiteit se kampus bestaan.

Viljoen het verskeie raadsposisies in openbare ondernemings beklee, insluitend die SAUK, waar hy tydens die belangrike oorgangstyd van 1989 tot 1993 die voorsitter was. Hy was ook ’n raadslid van die SABS, die Elektrisiteitsraad (later die Eskom-direksie), die Elektrisiteitsbeheerraad (later Nersa); Sarpi (later Ecsa), die Onafhanklike Uitsaai-owerheid, die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika, en die Hugenote-Vereniging.

Viljoen sal onthou word vir verskeie baanbrekersprojekte en inisiatiewe, waaronder sy bydrae tot die vestiging van tegnologie-ontwikkeling, satellietingenieurswese, die uitsaaiwese, en die bewaring van kultuurgoedere uitstaan. Benewens sy groot nalatenskap van akademiese en populêre publikasies oor wetenskap en tegnologie, is hy die samesteller van die Viljoen- en Pienaar-familieregisters, die Kuberwoordeboek en die Ruimtewoordeboek.

...
Wat my egter sal bybly, is die mate waarin hy op hoogte gebly het van nuwe verwikkelings, en die ouwêreldse menslikheid en warmte waarmee hy opgetree het.
...

Ek het hom eers laat in sy lewe ontmoet toe ek Stellenbosch-universiteit se Fakulteit Ingenieurswese se 75ste-verjaarsdag-viering as gas bygewoon het, waar hy ook ’n gas was. Ek het op daardie stadium diens gedoen as dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, waar ons kort tevore Suid-Afrika se eerste twee nanosatelliete gelanseer het. Ek het myself aan hom voorgestel en was verbaas om te ontdek dat hy tot só ’n mate verwikkelings in satellietingenieurswese gevolg het dat hy my “Aangename kennis, professor Viljoen” beantwoord het met “Mellet, ek is bly om jou te ontmoet – hoe gaan dit met julle nanosatellietprojek?” Ons het daardie aand iewers oor ’n glasie aan die gesels geraak oor die satellietbedryf en die analogie tussen Sunsat, byna 20 jaar vroeër, en die huidige konstellasie nanosatelliete waarvoor my eie fakulteit verantwoordelik was.

Daarna het ons kontakbesonderhede uitgeruil en was dit altyd ’n voorreg as ek ’n navraag of kommentaar van hom ontvang het. Miskien was sy intellek vir my vanselfsprekend; wat my egter sal bybly, is die mate waarin hy op hoogte gebly het van nuwe verwikkelings, en die ouwêreldse menslikheid en warmte waarmee hy opgetree het, veral in vergelyking met die kil atmosfeer kenmerkend van hoër onderwys vandag.

Ek het met verwondering na hom opgesien. Eie aan ons onderskeie generasies het hy my Mellet genoem en het ek hom Prof genoem.

  • 2

Kommentaar

  • Irene Pienaar

    Christo is my neef aan vaderskant. My pa Jerrie was die jongste broer in die familie. My ma was Susanna Mellet Pienaar, gebore Muller. Haar ma was Irene Moll, die jongste dogter van Susanna Moll, gebore Mellet.

  • Prof Gerrit Viljoen was lank na sy "aftrede" nog lid van die "boekbende" by Protea Boekwinkel se Saterdagoggende se nuwe boekbekendstellings.
    Hier het sy reuse-intellek, kennis en ouwêreldse waardes almal van ons in "bende" betower.
    Geen WAT-funksie of geleentheid het hy misgeloop nie.
    Beslis 'n sierraad vir die Afrikaanse mense en die Afrikaanse taal wat hy so hartstogtelik lief gehad het.
    Die US en SA het 'n nederige, ware genie verloor.
    Ons sal hom as die ware heer en briljante leier onthou en eer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top