Bedags hoor sy nie meer die spreeus
se gekwetter, of die gedempte stemme
van personeel in die kombuis nie –
klanke sonder betekenis draal met die gang langs:
melodiese buigings in monde, die geklap
van tonge teen tande en verhemeltes –
kaal voete voel oor vloere om die skinkbord
na binne te bring.
Dankie, sit dit op die sideboard neer.
Sunlight.
Sy ruik nie meer die aroma van
gemaalde koffiebone, vars botter,
konfyt en room nie. Sy probeer onthou
hoe stoeppolitoer onder kaal voete voel
as Augustus se koelte die jasmynrank se stuif
stoep toe asem.
Cobra.
Soms kan sy haar verbeel
sy ken nog die aardse reuk van ? grasdak
wat op teerpale rus. Weg is die sproeiers
wat spuite ritmies oor grasperke nies,
die gietyster bankie en die varkore
in die koelte van die boekenhout,
die paaiende neurie van grassnyers
en swembadpompe.
As dit donker word
kan sy nie meer na krieke luister nie –
daardie skril nokturne.
Sy soek na woorde...
Onseker
sereen?
Botsende
frekwensies
van vrede en onrus,
ontstemmende harmonie?
Rus, onheil –
alles vloei saam met die Suiderkruis
op die duister palet.
Sy onthou soms die stampe,
die alarm, maar probeer
meestal vergeet.
Hier in Vancouver
dreun net die verkeer.

