Prinsloo versus: 'n besonderse viering van 'n ikoniese skrywer

  • 0

Prinsloo versus
Adriaan Meyer

Genre: Dramateks
Uitgewer: Protea
Binding: Sagteband
ISBN: 9781869192525
Bladsye: 144

In die tans geheiligde literatuurbedryf word die publikasie van dramatekste feitlik totaal geïgnoreer. Daarom is Adriaan Meyer se Prinsloo versus ’n dankbare verskyning en hopelik die belofte van verdere publikasies. (Die Hertzogprys vereis gepubliseerde tekste!)

Meyer se teks, deeglik toegelig met verhoogaanwysings, is ’n bravura kyk (dis hoegenaamd nie ’n oorsig nie) na die enigma wat Koos Prinsloo was.

Enigma is nie heeltemal beskrywend van Prinsloo se geweldige én gewelddadige talent nie. Immers het die Beats in die VSA ’n soortgelyke woede, waansin en soeke na self aan die gang gesit. Maar Prinsloo was ons eie gefolterde rebel. Hy het Afrikaans oopgeskeur met sy skokkende onverskrokkenheid.

In sy klein oeuvre is ‘n deurlopende seksuele verwoedheid tekenend. Meyer se teks verbeeld die seksuele op so ’n drastiese wyse dat die kyker (en leser) soms wonder of die voyeurisme uitgebuit word tot ’n amper goedkoop truuk. Sowat van ’n gesimuleerde naaiery en “piel”-beheptheid!

Nogtans boei die teks in sy analise van Prinsloo se verhouding met sy pa, wat eintlik die spil is in die drama.

Prinsloo se verhoudings met ander karakters word ook aangewend om sy problematiese persona toe te lig. Soos byvoorbeeld die dood en begrafnis van sy jong vriendin Helena, die verhouding met Johannes Kerkorrel (ook ‘n duidelike verwysing na sy vigsstatus en selfmoord), asook Hennie Aucamp as “die mentor”.

Koos se karakter word uitstekend ontwikkel. Vroeg in die teks sê hy: "Ek skryf pornografie, ek is godslasterlik, ek skinder, ek masturbeer met woorde, maak ’n hoer van ’n bladsy.” Later: “As jy uit ’n Afrikanergesin kom, waar die kind as besitting gesien word, het jy ’n groot behoefte om gehoor te word. Ek dink nie daar is genoeg tyd om die woede oor my onderdrukking neer te skryf nie. Vir my is skryf regstreeks gekoppel aan wraak.”  Aangrypend in toneel 16 is sy sterwenswoorde: “Hoe laat is dit? Hoekom vat dit so lank? Wat is daardie suisgeluid?”

Dis jammer dat die dramaturg nog twee tonele byvoeg vir ‘n Wagneriaanse donderende slot. Dis selfingenome dramaturgie, daai.

Die teks is soms net te dig; te veel karakters. Die verhoogaanwysings is amper militaristies in die bewegingsopdragte: karakters verstar momenteel, dan skielik kom hulle weer soos marionette aan die beweeg. Daar’s amper ‘n koorsagtige kom en gaan en karakterwisseling. Enersyds verskaf dit energie aan die stuk, andersyds verwarring. Die kyker kan wel voel hy is besig om ’n spannende tenniswedstryd te kyk.

Natuurlik word die gissing om die identiteit van sommige van die karakters in Prinsloo se genadelose beskrywing ook aan die bod gebring. Wel, dis ook een van die Prinsloo-geite wat seker altyd geopper sal word. Asof die identiteite nie alreeds so bekend is nie.

In sy kern bly dit ’n belangrike teks en ek glo in die Afrikaanse dramaturgie kan dit ’n goeie, belangrike verwysing bied. Die tema is deeglik nagevors, die tegnieke van klankinsette van resensente, die gebruik van transparante soos subtitels en die gebruik van tafels om vlakke van verborgenheid en geborgenheid te suggereer verraai goeie verhoogkennis.

Én dit is ’n besonderse viering van ’n ikoniese skrywer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top