Pretoria-leeskringe se gesamentlike byeenkoms: Prooi deur Deon Meyer word bekend gestel

  • 0

Deon Meyer en Etienne Bloemhof

Die leeskringe in en om Pretoria het op 23 Oktober hul jaarlikse gesamentlike byeenkoms by Moreletapark Gemeente gehou. Tydens hierdie funksie, wat deur die Tygerpoort Leeskring aangebied is, is Deon Meyer se jongste boek Prooi vir die eerste keer bekend gestel.

’n Heerlike en opwindende gesprek tussen Deon en sy uitgewer Etienne Bloemhof het die hoogtepunt van die verrigtinge uitgemaak. Na afloop het die net meer as 280 gaste te midde van kuier met ou en nuwe boekevriende gesmul aan die verversings wat in die ruim restaurant aangebied is.

Monica Hammes, wat die afgelope jare die koördineerder van hierdie leeskringe was, het hul aktiwiteite met ’n interessante oorsig aan die gehoor bekend gestel. Reeds  in 1912 het die formidabele Mabel Malherbe (op haar tyd burgemeester van Pretoria asook Provinsiale lid en later Volksraadslid) die Afrikaans-Hollandse Leesunie gestig. Teen 1940 was hul ledetal reeds 100 en het die Mabel Malherbe Leeskring afgestig. In 1950 het die Menlopark Leeskring gevolg en in 1951 die Waterkloof Leeskring, tot tans waar daar 23 leeskringe in en om Pretoria is. Van die leeskringe se passie vir lees sê Monica: “Lees om lank en lekker te leef!”

Die tradisie om ’n gesamentlike byeenkoms te hou is byna 80 jaar oud. En soos deur al die jare is daar by die afgelope geleentheid weereens rondom ’n skrywer en/of ’n boek saam gekuier. Bekendes soos Audrey Blignaut, Antjie Krog, André Brink, Etienne van Heerden en hierdie keer Deon Meyer, het telkens met ’n nuwe boek en/of ’n onderwerp van letterkundige aard van dié jaarlikse geleentheid ’n hoogtepunt gemaak. Die bystand van verskeie uitgewers, boekwinkels en ander borge het deurentyd die sukses van die geleenthede verseker.

Deon Meyer se wye aanhang onder die leserspubliek het groot belangstelling in die funksie uitgelok, juis ook onder die leeskringlede. Een leeskringlid het selfs 10 gaste saamgebring en daarmee ’n naweek vir twee by Aspen Gastehuis in die skilderagtige Clarens gewen. ’n Groot aantal van Meyer se boeke is verkoop wat hy op versoek geteken het.

Talle gaste het ook ’n boek of meer saamgebring as geskenk aan drie biblioteke in Pretoria waar die lesers nie die voorreg het om daagliks deur goeie boeke omring te wees nie.

In 2019 sal hierdie byeenkoms op Saterdag 16 Februarie gehou word sodat steeds meer boekliefhebbers dit kan bywoon. Die jong digter, Bibi Slippers, sal dan gesels oor: “Watter praktiese nut het poësie in die 21ste eeu?”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top