In die voorhuis is ’n boks goed
wat die baas se vrou gebring het van oorsee
daar is duur Schleich speelgoed
vir die kinders
’n duur Hugo Boss scarf set
vir die winter
’n groot bottel Joop perfume en
sauerkraut en bratwurtz vir
die oumense
My antie sit en hoes want
sy het die mees foreign van al die
presents gekry
’n siekte
ver bo haar scope
al het sy ook
haar hele lewe lank
gewerk sou sy nooit
genoeg verdien
het vir dit nie