Geskryf vir: Straatligkinders
Grawe, grawe,
Daar diep in jou gedagtes
ls daar iets waar?
Iets waar voor jy bang is?
Die koue sweet hand van jou verlede
Die donderweer klank van jou gewete
Hierdie wroeg en angs is waansin
Ons slaan net spykers vir die man in
Die kiste, grafte, wat ons grawe,
Grawe
Daar diep in jou gedagtes
Tot alles wat mooi is
Vergifnis, liefde, vrede
Die heelal in jou rus
Vir 'n oomblik brand jy helder
Want alles wat mooi is
Genade, liefde, rede
Word giftig as dit gis
So sif deur al die leuens
Al ons paaie val soos spelde
Al ons keuses dalk oorweldigend
Maar vry
Vry, want liefde is vry
En al ons helde val dieselfde
Dalk hul keuses te oorweldigend
Maar vry
Al jou keuses maak jy
Hierdie wroeg en wraak is waansin
Ons word net syfers in die man se
Koue greep hand van verslawing
Die donderweer klank skrik jou wakker
Voordat alles wat mooi is
Genade, liefde, rede
Giftig word as dit gis
So sif deur al die leuens
Sodat alles wat mooi is
Vergifnis, liefde, vrede
Potensieel in jou rus
Vir 'n oomblik brand jy helder
So, grawe, grawe
Diep in jou gedagtes
Daar is iets waar
Iets waarop jy kan rus
Die wete dat die heelal deel van jou is
Die sterre-stof se vlam wat nou in jou rus
Hierdie woorde is geen kansel
Slegs ons keuses sal weergalm

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

