Postkoloniale literatuur en die representasie van trauma. Philip John reageer

  • 0

Philip John reageer op die artikel “Postkoloniale literatuur en die representasie van trauma: ’n Verkenning van Verkenning” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Cilliers van den Berg.

Die oorbodigheid van “traumateorie”

Die aanname waarop my bydrae tot hierdie seminaar berus, is dat Cilliers van den Berg se artikel oor Verkenning ’n waardevolle ontwikkeling verteenwoordig van ’n debat wat nou al byna ’n dekade in die Afrikaanse literatuurkritiek smeul. (Hoe gangbaar dié aanname is, sal net ’n onbewoë kartering van die debat kan vasstel.) Van den Berg se artikel bied die moontlikheid vir die twee “kante” in die debat om gedeelde terrein raak te sien. Dié debat is aan die gang gesit deur opmerkings van Hennie van Coller (2005) oor ’n artikel deur my (John 2000). In my repliek (John 2006) het ek my besware uiteengesit teen wat ek genoem het die “terapeutiese imperatief”.

Van den Berg noem dié debat in die vierde eindnota van sy artikel, en maak dit duidelik dat hy homself nie as deel van die debat beskou nie. Volgens hom fokus hy nie, soos in die debat, op die “terapeutiese potensiaal van die teks” as respons op trauma nie, maar eerder op trauma-representasie as sodanig. Ek beskou hierdie verskuiwing as ’n implisiete erkenning van die problematiese aard van die voorafgaande pogings van Afrikaanse literatore, soos Van Coller (2005) en Van der Merwe (2007), om ’n verband te lê tussen die verwerking van trauma en letterkunde – die benadering wat ek gekritiseer het.

Ten spyte van Van den Berg se wens om sy werk vry te maak van die probleme wat kenmerkend is van sy voorgangers s’n, bly sy artikel in die dampkring daarvan, alhoewel hy hom op stewiger konseptuele grond bevind. Wat veroorsaak dat Van den Berg nie los van sy voorgangers gesien kan word nie, is die sentrale begrip waaromheen hy sy werk organiseer, naamlik “trauma”. Sy behoud van dié begrip beteken dat al die konsepte wat sy voorgangers se werk so problematies maak, in die agtergrond van sy analise bly voortbestaan. Die behoud van die “trauma”-begrip as spilpunt beteken dat die sielkunde-gebaseerde perspektief as potensiaal implisiet aktief bly. Die verbandhoudende idees soos “reparasie” vir historiese pyn en onreg, heling, ’n terapeutiese proses, ensovoorts wat sy voorgangers soveel probleme besorg het, bly dus deel van die raamwerk waarbinne hy sy analise van Verkenning uitvoer, asook die vermoede dat die gebruik van traumateorie noodwendig lei tot ’n verskraling van die literêr-kritiese perspektief.  

Die belangrikste skuif wat Van den Berg maak, is om ’n verband te lê tussen sy begrip van “traumateorie” of trauma-representasie en die poststrukturalistiese problematisering van die verhouding tussen taal en werklikheid, oftewel die “dekonstruktiewe skepsis oor die vermoë van taal om enigsins die volle betekenis van die werklikheid te kan ontsluit”, soos hy dit stel. Die verband wat hy tussen die poststrukturalisme en traumateorie lê, bring hom by sy werksdefinisie van “trauma”, naamlik: “Trauma is dít wat nie sinvol gerepresenteer kán word nie.”

In ’n volgende skuif bed hy sy begrip van traumateorie binne die postkolonialisme in waar die onvermoë van taal om die werklikheid voldoende te representeer, binne die historiese konteks van die geskiedenis van kolonialisme en dekolonisering geplaas word. Kortliks gestel, verreken so ’n plasing die invloed van konteks, maar veral magselemente, op enige poging om die werklikheid te representeer, byvoorbeeld in die geval van geskiedskrywing. Binne die postkolonialisme word erkenning gegee aan die idee dat representasie binne ’n historiese konteks soos dié van kolonialisme en die gepaardgaande verowering van die bevolkings of groepe wat gekoloniseer word, altyd ’n skeefgetrekte of eensydige representasie sal wees. Die idee dat daar altyd ’n “Ander” is by ’n magsverhouding wie se perspektief onkenbaar is vir die koloniseerder (of die representeerder) word hier erken.

By Van den Berg kulmineer hierdie skuiwe in die idee dat ’n poging om ’n traumatiese werklikheid, soos dié waarna verwys word in ’n roman soos Verkenning, te representeer, bewus moet wees van die problematiese aard van so ’n poging. ’n Aanvaarbare representasie binne hierdie perspektief is dus volgens Van den Berg “’n selfrefleksiewe representasie of demonstrasie van trauma se onrepresenteerbaarheid: dus ’n representasie wat die suggestie laat dat dit tekortskiet en feilbaar en voorlopig is” (vir ’n nog duideliker uiteensetting, sien Van Coller en Van den Berg (2010)).

Die waardevolste deel van Van den Berg se analise is waar hy betoog dat so ’n soort representasie gebruik sal maak van ’n aantal “narratiewe strategieë” wat onder die noemer van ’n “hibridisering van die teks” saamgevat sou kon word. Dit is veral hierdie sy van sy werk wat dit moontlik maak om moontlik gedeelde terrein in die debat raak te sien.

In sy analise van Verkenning demonstreer hy dan ook wat hy met sy definisie van “aanvaarbare” representasie van trauma bedoel deurdat hy veral fokus op momente in die teks waar die eenheid van die teks versteur word. Die reis van die hoofkarakter word byvoorbeeld ’n proses van groeiende disoriëntasie; hy, en die leser, word gekonfronteer met die historiese proses van die koloniale onderwerping van slawe en inheemse bevolking; die gebruik van intertekstualiteit versplinter die teks; die fragmentasie van die vertellerstem; die gebruik van metatekstuele kommentaar, ensovoorts.

Hoe vaardig hierdie analise van Van den Berg ook al is, laat dit nog steeds die vraag by my ontstaan oor die noodsaak en waarde van die gebruik van die begrip “trauma” in sy analise (en van die gepaardgaande sielkundig-gebaseerde konseptuele bagasie). Om dit anders te stel: Kan die soort analise van representasie wat hy voorstaan, daarsonder uitgevoer word? En my antwoord sal wees: Ja, dit kan. Terme soos onreg en geweld – ook “vooruitgang” – sou (binne ’n poststrukturalistiese raamwerk) gebruik kon word om dieselfde soort “begrip” waarop Van den Berg dui, te bewerkstellig. Of om nog ’n vraag te stel: As dieselfde soort narratiewe strategieë gebruik word om karakters en gebeure – insluitend historiese gebeure – voor te stel, beteken dit dan noodwendig dat dit by so ’n representasie ook oor “trauma” gaan? Wat van die “verrukking” en “ekstase” wat ’n leser voorgestel kan sien in ’n teks soos Verkenning – wat hy/sy self kan ervaar?  

So, eintlik moet mens vra wat presies dit is wat die idee van “trauma” in die analise – en die literatuurstudie – in bring. En dan is mens terug by die oorsprong van die idee in die sielkunde (en sekerlik verder terug in die godsdiens) waar dit gaan oor ’n vasgestelde patroon van beskadiging of pyn, terapie en herstel of heling. Dit is by die oorname van hierdie patroon dat die grootste gevaar van verskraling lê, of, om die woorde van ’n Miles-karakter aan te haal, waar die “booby trap” wag.

Vanuit ’n ander hoek benader, sou mens ook kon vra hoekom literêre kritici dit nodig vind om ’n sielkunde-gebaseerde konseptuele raamwerk, en al die probleme wat met ’n oorplasing na die letterkundestudie gepaard gaan, te gebruik terwyl dieselfde soort kwessies wat Van den Berg ’n sentrale rol in sy definisie gee, reeds in ’n verskeidenheid vorme in meer konvensionele literêr-teoretiese vorme en tradisies bestaan.

Waarom “trauma” en die sielkunde byhaal, byvoorbeeld, as die idee van die onrepresenteerbaarheid van die werklikheid nog altyd deel was van die bewussyn van skrywers en letterkundiges? Een van die basistekste van die Europese tradisie, naamlik die Orpheus-mite, kan hier as voorbeeld dien. Die “trauma” of werklikheid waaroor dit hier gaan, is die verlies van Euridike, Orpheus se eggenoot. Orpheus gebruik dan sy kuns in ’n poging om die verlies teë te werk en Euridike uit die Doderyk terug te kry, maar misluk. Terwyl hierdie mite in baie opsigte gesien kan word as die grondpatroon van die “liriese”, dien dit duidelik ook as patroon vir alle representasie in reaksie op die pyn van die werklikheid. Die poststrukturalistiese skepsis oor die representasiemoontlikhede van taal mag ’n meer “wetenskaplike” kodifisering van hierdie werklikheid verteenwoordig, maar bly wesenlik dieselfde probleem aanspreek. En dan is daar al die ander skrywers en digters wat op verskillende manier pogings aanwend om “sterre van hondedrolle te maak”, die “nulpunt” te bereik, die “ware” woord te vind, ensovoorts – en telkens misluk.

Dit is op hierdie punt dat die idee van ’n gedeelde terrein of perspektief opgehaal kan word, as afsluiting van my bydrae tot die debat. Ek laat die Afrikaanse trauma-teoretici met die vraag of die “narratiewe strategieë” wat hulle in die representasies van trauma beskryf, nie presies dieselfde strategieë is waarop binne ’n meer “konvensionele” literêre analise gefokus word en wat in verband gebring (kan) word met die “estetiese werking” van die teks nie. Met die verskil natuurlik dat so ’n “konvensionele” raamwerk ruimte laat vir meer as die “gepaste” selfrefleksiewe representasie van trauma (dit wil sê die werklikheid) wat ’n analise soos dié van Van den Berg propageer.

Verwysings

John, P. 2000. Versoening, Aufarbeitung, “Renaissance”, Verligting: Wat eis die Suid-Afrikaanse verlede van ons? Stilet, 12(1):43–62.

—. 2006. Die terapeutiese imperatief, stories en letterkunde: ’n Repliek aan H.P. van Coller. Tydskrif vir Letterkunde, 43(1):155–67.

Van Coller, H.P. 2005. Anderkant die stilte (André P. Brink) en die verwerking van trauma. Tydskrif vir Letterkunde, 42(1):117–33.

Van Coller, H.P. en Van den Berg, C. 2010. Geskiedenis, narratiwiteit en tweedegenerasie-trauma; Die problematiek van traumarepresentasie in La place de la Bastille deur Leon de Winter. Stilet, 21(1):147–64.

Van der Merwe, C. 2007. ’n “Terapeutiese perspektief” op Etienne van Heerden se In stede van die liefde (2005). Stilet, 19(1):103–14.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top