Hans Ester reageer op die artikel “Postkoloniale literatuur en die representasie van trauma: ’n Verkenning van Verkenning” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Cilliers van den Berg.
Die funksie van taal en die rekbaarheid van die begrip trauma
Cilliers van den Berg se teks oor die wedersydse betekenisgewing van trauma en postkolonialisme is ’n groot uitdaging vir die geesteswetenskaplike besinning en is besonder waardevol om met kollegas en gevorderde studente te bespreek. In Nederland sal die aksent op die teoretiese vooronderstellings en analitiese insigte moet lê, weens die feit dat Karel Schoeman se werk nie die effek op die Nederlandse leesgemeenskap gehad het wat ek daarvan verwag het nie. Waarom word JM Coetzee en Marlene van Niekerk algemeen gelees en bespreek en nie Karel Schoeman nie? Dit is ’n tema op sigself. Dit berus op ’n sosiale proses met baie spelers, ’n proses wat objektiveerbaar is.
Ek beskou Van den Berg se teks as ’n ontwerp, as fase in ’n denkproses waaraan die lesers produktief kan bydra deur middel van gedagtes en vrae. My eerste kommentaar is dat dit van die grootste belang is om die begrippe wat gehanteer word, duidelik te definieer. Wanneer trauma in ’n psigiese sin as ’n unieke ervaring van die individuele mens beskou word, en tegelykertyd as die lewenskondisie van die menslike bestaan schlechthin, volg outomaties die vraag of die onuitspreekbaarheid, die onmoontlikheid van verteenwoordiging van die traumatiese ervaring deur middel van woorde ’n wesentlike verwantskap besit met die grense wat aan assimilasie en representasie van menslike ervaring in ’n algemene sin, vanuit die alledaagse lewe, gestel word.
In die eerste geval van ’n traumatiese ervaring, byvoorbeeld die verlies van ’n geliefde persoon, die ervaring van fisieke pyn wat bewus deur ander mense veroorsaak word, die deur ander mense georganiseerde dood van jou naastes, lei die trauma tot voortdurende sinlose herhaling van die oorspronklike ervaring en tot die ondraaglike gevoel dat die konvensionele taal te kort skiet en verraad beteken ten opsigte van die ervaring wat naamlik elke konvensie oorstyg. Hier eindig die funksie van die taal. Ten minste voorlopig. By die algemene werklikheidservaring speel die beperking van die konvensionele taal ook ’n rol, maar hierdie beperking is deel van ’n dinamiese (hermeneutiese) proses om deur middel van vrae en antwoorde digter by ’n gedeelde waarheid uit te kom. In hierdie geval maak die taal sy funksie steeds meer waar. Die gesprek wat ons nou oor Cilliers van den Berg se teks voer, is slegs betekenisvol omdat ons aan die taal ’n soort bonus van vertroue gee. Die vertroue berus op die gedagte dat ons in staat is om die gradasies van waarheid te onderskei en dus met behulp van taal die moontlikheid besit om die beperkings van taal te oorwin.
Dit bring my tot enkele oorwegings van prinsipiële aard. Binne die poststrukturalistiese filosofie is die taal van die grootste belang. Die begin van hierdie denkpatroon lê by die opvatting van die taalkundige De Saussure oor die taal as struktuur waarvan die dele mekaar betekenis verleen en waarby die referensiële funksie van woord na wêreld volgens algemene opvattings nie die draer van betekenis is nie. Uit gesprekke met taalkundiges het ek die indruk gekry dat binne die taalkunde met meer nuanses oor die verwysende funksie van taal gedink word. Vanuit die filosofie lyk die (moontlik eensydig geïnterpreteerde) opvatting van De Saussure ’n absolute wet wat jy nie mag betwyfel nie. Indien jy daardie opvatting in twyfel trek, verlaag jy jou status as geesteswetenskapper. Dieselfde geld vir Lacan se opvattings met betrekking tot die fases wat ’n kind moet deurloop om die deur die taal gerepresenteerde werklikheid te integreer en ’n lewe te lei wat in ooreenstemming is met die wette en die simboliese orde. Is hierdie opvatting ’n algemene waarheid binne die opvoedingswetenskappe? Is die werk van Sigmund Freud en ook die werk van die ontereg verontagsaamde Carl Gustav Jung nie eerder as ontwerpe en voorlopige verkennings te beskou as ’n wet van Mede en Perse nie? Ek sou wou pleit vir meer vraagtekens by die geesteswetenskaplike vooronderstellings vanuit die teorieë van wetenskaplike vakrigtings wat raakvlakke met die geesteswetenskappe besit. Taalwetenskap, literatuurwetenskap, geskiedswetenskap en filosofie het uit mekaar gegroei, al is daar nog steeds ’n pinkie waardeur hulle voeling met mekaar hou.
Dieselfde behoefte aan uitwisseling met wetenskaplikes uit ander vertakkings van die wetenskap geld ook vir die verhouding tot historici. Niemand sal ontken dat enige historikus vanuit ’n teoretiese raamwerk dink en analiseer nie. Hierdie is ’n hermeneutiese insig wat vanaf die begin van die 19de eeu een van die basisinsigte van die geesteswetenskappe vorm. Maar die erkenning van die skadu van subjektiewe vooronderstellings wat elke wetenskapper noodsaaklikerwys met haar/hom saamdra, beteken nie dat daar nie sprake is van groei by die historikus se insig in die waarheid van die geskiedenis nie. Waarom sou die gedagte van vooruitgang in kennis nie geld vir die verbeelding van die vreemde wat die kolonis aanvanklik glad nie ken nie en in vertroude kategorieë en dinkpatrone probeer integreer nie? Presies dít is wat met die Midde-Ooste in die persepsie van Europa gebeur het. Die bron van verandering en aanpassing is die empirie, is die waarneming met eie oë. Dat dit ’n moeisame proses is, is onbetwyfelbaar. Mens sien wat jy wil sien. Maar die opregte blik, die vrye waarneming kan nagestreef word. Waarneming wat bereid is om aan die kompleksiteit van die ervaarbare werklikheid aangepas te word, is deel van ’n genesingsproses, van die helende terapie wat Van den Berg in sy artikel noem. Daarom is dit besyde die waarheid om nog altyd van ’n Westerse koloniale diskoers te praat. Die waarheid is dat die Weste soek na woorde om aan die miskende Ander reg te doen. Ons hoef maar net David van Reijbroeck se boek oor die koloniale geskiedenis van Kongo in die herinnering te roep.
As ons dink oor die moontlike parallellie trauma/geskiedenis as per definisie traumatiese gegewe, soos Van den Berg herhaaldelik beklemtoon, moet dit vir die kwaliteit van die gesprek duidelik wees oor watter geskiedenis ons praat. Gaan dit om skielike veranderings, revolusies, omwentelings, dan lê dit voor die hand om van traumatiese ervarings te praat. Die breuklyne van die geskiedenis is die bronne van verwondings aan jou psigiese integriteit, jou mentale ewewig. Die diepste breuk was die doodskultuur van die nasionaal-sosialisme en hierdie wond wil maar nie heel nie. Met betrekking tot die geskiedenis as konstruksie op grond van ’n beginpunt en een eindpunt wat deur godsdienstige oortuigings geskraag word of met betrekking tot die geskiedenis as “bevryding van die mens uit die afhanklikhede wat hy self geskape het” (Immanuel Kant) geld die gedagte van ’n oorkoepelende singewing. Mens kan hier dink aan Friedrich Nietzsche se “monumentale geskiedenis”, wat ons bemoediging is vir die toekoms.
Aan die slot van sy artikel haal Van den Berg die Groningse historikus Frank Ankersmit aan. Ankersmit betreur, in die woorde van Van den Berg, “die vervreemding van wetenskaplike teorie van die werklikheid gedurende die afgelope aantal dekades”. Dit is baie interessant dat Van den Berg vervolgens van ’n morele imperatief (Kant?) praat “om te midde van teoretiese kontekstualiserings ook historiese gegewens en empiriese probleme te verreken”. Dit verdien nadere beskouing en uitwerking, byvoorbeeld met behulp van ander denkpatrone as die geykte teorieë, om te begin by Henri Bergson en voort te gaan met Martha Nussbaum.
Cilliers van den Berg het ’n besonder waardevolle artikel geskryf. Ek raai hom omwille van die verdieping van hierdie gesprek aan om ook die boek De sublieme historische ervaring van Frank Ankersmit in sy beskouings te betrek. Hierin lewer Ankersmit in die voetspoor van Jakob Burckhardt en Johan Huizinga (Herfsttij der Middeleeuwen) ’n pleidooi vir die historiese ervaring wat blykbaar so intens en suiwer is dat die gees die krag besit om die ander tye en die ander mens ten volle te begryp.

