
Foto: Canva.com
Poskantoor-tou (vir hernuwing van motorlisensies)
Halfuur voor oopmaaktyd
is ek veertiende in die ry
ai, en ek wóú tog so graag
’n lang stanery vermy
Ou agter my
is meer intens
wat almal voor hom
met ’n vloekwoord verwens
“Fok!
daai ou het ’n hele pak.
Ag, wéét jy, súlke mense
gee jou altyd kak.”
“Fok!
Daai ou het drie;
agter só ’n drol
wil jy nie in die tou wees nie.”
“Het jy kontant in jou sak?
As jy voor kom
en die kaartmasjien werk nie
is jy kniediep in die kak.”
Ek’s ’n uur in die tou
en my lae rug raak seer;
as dit só aangaan
kom ek noodgedwonge môre weer
’n Uur en ’n half
en ek is voor in die tou;
met bewende hande
gee ek my papiere vir die vrou
Op daardie oomblik (biddend)
is ek die nááste aan my Heer;
teen die vrou wat die papiere bekyk
is ek magteloos, sonder verweer
Sy begin woordeloos op die rekenaar tik
en ís ek nie verlig nie
want niks skort met my aansoek
en (“dankie, Here!”) sy stuur my nie terug nie
Eenduisend-vyfhonderd-ses-en-tagtig rand
(betaal ek met vreugde, die kaartmasjien wérk);
ek stap uit met drie nuwe skyfies
en prys die Heer, die Poskantoor is ’n kerk
Ek stap uit, verby die laatkommers
in die ellelange tou
en voel lus om te dans (en my skyfies te wys):
die Here ís getrou


Kommentaar
Mooi speelse gedig van iets wat ek glo almal ervaar en meeste uiters verpes en met 'n goeie einde van dank/triomf.
Baie dankie vir die mooi woorde en ondersteuning Morné.