Poskantoor-tou (vir hernuwing van motorlisensies)

  • 2

Foto: Canva.com

Poskantoor-tou (vir hernuwing van motorlisensies) 

Halfuur voor oopmaaktyd 
is ek veertiende in die ry 
ai, en ek wóú tog so graag 
’n lang stanery vermy

Ou agter my 
is meer intens 
wat almal voor hom 
met ’n vloekwoord verwens

“Fok! 
daai ou het ’n hele pak. 
Ag, wéét jy, súlke mense 
gee jou altyd kak.”

“Fok! 
Daai ou het drie; 
agter só ’n drol 
wil jy nie in die tou wees nie.”

“Het jy kontant in jou sak? 
As jy voor kom 
en die kaartmasjien werk nie 
is jy kniediep in die kak.”

Ek’s ’n uur in die tou 
en my lae rug raak seer; 
as dit só aangaan 
kom ek noodgedwonge môre weer 

’n Uur en ’n half 
en ek is voor in die tou; 
met bewende hande 
gee ek my papiere vir die vrou

Op daardie oomblik (biddend) 
is ek die nááste aan my Heer; 
teen die vrou wat die papiere bekyk 
is ek magteloos, sonder verweer

Sy begin woordeloos op die rekenaar tik 
en ís ek nie verlig nie 
want niks skort met my aansoek 
en (“dankie, Here!”) sy stuur my nie terug nie

Eenduisend-vyfhonderd-ses-en-tagtig rand 
(betaal ek met vreugde, die kaartmasjien wérk); 
ek stap uit met drie nuwe skyfies 
en prys die Heer, die Poskantoor is ’n kerk

Ek stap uit, verby die laatkommers 
in die ellelange tou 
en voel lus om te dans (en my skyfies te wys): 
die Here ís getrou

  • 2

Kommentaar

  • Mooi speelse gedig van iets wat ek glo almal ervaar en meeste uiters verpes en met 'n goeie einde van dank/triomf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top