Poorte van die hemel

  • 0

Vir die wat nie geweet het nie: die Hel en Poorte van die Hemel lê lepel in die Swartberg van die Wes-kaap. Laasgenoemde verwysend na Prins Albert. ’n Vriendin van ons, wie se kinders daar woon, besing so graag die dorpie se lof. Toe reken my man dit klink soos die poorte van die hemel en nou het die naam tussen ons gekom om te bly.

So besluit ons ’n Saterdag in Februarie om self te gaan kyk of die dorp sy (by)naam gestand doen. Vanaf Klaarstroom se kant kronkel die pad deur berge die dorp binne. Wingerde langs die pad wil-wil hul herfstooisels begin wys. By die dorp se inkoms verwelkom die lah-di-dah padstal jou met sy vrolike pienk naambord. Die uitstallings voor en binne is genoeg om jou vir 'n rukkie besig te hou. Daar is onder andere 'n versameling outydse karretjies; genoeg om die seuntjie in elke man na vore te bring.

Vandaar is die hoofstraat voor jou uitgerol. Bietjie laer af in die straat stop ons by die weeklikse mark. Saterdae word allerlei verkoop en dit mag nie gemis word nie. Pannekoek is net die regte proeseltjie om ’n dag mee te begin. Jafels, met interessante vulsels, is ook te koop en die koffiestalletjie het goeie aftrek gekry. Die mark is nie baie groot nie, maar interessant genoeg. Kort voor twaalf het die stalletjiehouers begin oppak; gaan dus vroeg.

Oorkant die markterrein is 'n vertoonkamer waar weefwerk gedoen word. Matte, muurbehangsels of wat ook al kan volgens ’n patroon van jou keuse bestel word. Daar is ook voltooide artikels om jou in die versoeking te lei.

Neffens die hotel is die Kokkedoor-deli wat interessante artikels en konfyte teen ’n oopmondprys aanbied. (As self ’n konfytkoker het my mond oopgespring toe ek sommige van die konfytpryse sien.) Tog is dit interessant om bietjie rond te kyk. Hier is ons vertel dat die eienaar 'n aandeel in die plaaslike teater, Showroom, het. Die plaaslike musiekgroep sou die aand in die teater optree, maar is eers vooraf bederf met 'n heerlike ete deur genoemde aandeelhouers. Dit wil voorkom asof die samewerking in die dorp goed is. Die Jans Rautenbach-teater op die dorp verskaf ook gereeld vermaak aan die inwoners.

Baie van die winkeltjies se dekor roep jou reeds van ver af. Ongelukkig was The Olde Shop reeds gesluit toe ons dit ontdek het, maar daar was genoeg op die stoep om na te loer. Daar is ook winkels wat die plaaslike inwoners se handwerk te koop aanbied; ’n dorp wat in sy mense belê.

Soos in alle Karoo-dorpe is hier ook ’n pragtige kerkie. Natuurlik moes ons ook ’n draai by die Kokkedoor-stoor maak. Op daardie stadium was dit nie die woelige miernes wat TV-kykers vasgenael voor die kassie hou nie. ’n Rustigheid het oor die omgewing gehang.

Die fotograaf Louis Botha het 'n ateljee in die dorp en bied gereeld fotografiekursusse aan. In die omgewing is daar definitief genoeg om 'n mooi prentjie van te maak. Geen fancy kamera is nodig nie. Hy leer jou met wat jy het.

Die museum is ook in die hoofstraat; vernoem na Fransie Pienaar. Sy was 'n plaaslike inwoner wat oudhede versamel het. Later het ruimte ’n probleem geraak. Na vele verskuiwings het haar versameling in die huidige gebou tot rus gekom. Volgens ingeligtes groei die versameling, selfs na haar dood, nog steeds. Wapens, boeke en selfs toesprake van Prins Albert word tans daar gehuisves.

Vir middagete het ons die vyf kilometer grondpad aangedurf na Swartrivier-olyfplaas. Proe moes ons proe. So saam met die proe het ons sommer ook meer van olywe geleer. Nou wat is proe sonder koop? Natuurlik moes ons 'n paar bottels inlaai. Daarna kon ons aansit en ontspan met ’n olyfbord vol smere, kaas, broodjie en slaai om aan te knaag.

Ons soektog na 'n eetplek vir die aand was baie interessant. Telkens word ons na Chris Vis verwys, maar wat die regte naam is bly ’n groot geheim. Nie oor hulle dit geheim wil hou nie, maar omdat niemand blykbaar seker is oor die korrekte naam nie. Gelukkig is Prins Albert nie so groot nie en toe vat ons voete maar die pad soos beduie is. Dis duidelik dat dit ’n gewilde kuierplek onder die locals is. Laasgenoemde is ook baie tuis daar; help hulself aan die drank agter die toonbank. Ek glo darem dit word later by die rekening gevoeg! Oor die ete kan ons nie kla nie. 'n Ekstra kelner aan diens sou dalk gaaf gewees het.

Ons lêplekkie vir die aand was agter 'n drankwinkel ingedruk, maar heel gerieflik ingerig vir 'n nag. Die prys was ook heel bekostigbaar. Daar is verskeie oornagplekke om uit te kies. Elkeen behoort iets vir sy/haar smaak (en beursie) te vind.

Prins Albert is 'n woelige dorpie, sonder om raserig te wees. Die strate is nooit leeg nie. Nadat ons Sondagoggend 'n rustige ontbyt geniet het, is die terugtog begin. Op pad uit is verskeie motors en motorfietsryers by ons verby; dorp in. Volgens die locals is dit dan ook 'n gewilde wegbreekplek vir omliggende dorpe se inwoners. Natuurlik is die Swartbergpas na Oudtshoorn ook 'n groot aantrekkingskrag. Wintertye is die pas prentjiemooi, maar dikwels ook gesluit as gevolg van die lae sneeu wat daar neerdaal. Maak dus altyd eers seker voor jy die pas in wintertyd wil aanpak.

Meer inligting oor die dorp is maklik bekombaar. Daar is 'n volledige webblad met al die aktiwiteite, eetplekke, oornagplekke en die teaters se programme op, beskikbaar. Loer gerus by www.princealbert.org.za.

Poorte van die hemel? Daaroor kan mense dalk verskil, maar definitief ’n goeie begin op pad na die ware Poorte. Lekker man; gaan kyk self!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top