Die bedryf van ’n aanlyn digkunsakademie

  • 4

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

1. Inleiding

Sestien maande gelede is daar ’n behoefte geïdentifiseer aan ’n aanlyn model vir die onderrig van skeppende poësie en literatuurstudie op die sosiale media.

Talle gebruikers van Facebook bevind hul binne die virtuele wêreld van sosialisering, en naas die oplaai van grafika en die deel van persoonlike inligting en belangstellings het daar ook subgroeperinge op blaaie begin ontstaan waar gebruikers poog om gedigte te skryf. Dié skrywes het eerstens ten doel om te sosialiseer, en moenie met letterkunde verwar word nie. Onder die digtersgemeenskappe is daar wel individue wat werklik ’n belangstelling toon om meer van die vaardighede van skeppende digkuns en literatuurstudie te leer. Binne die toenemende paddastoel-effek wat die steeds groeiende digblaaie en talle ondersteunersblaaie vir skrywers tot gevolg het, voel van dié individue hulle ook vervreem van die huidige kanon. Hulle besware is onder meer dat werkswinkels dikwels ontoeganklik is om logistieke redes en dat universiteits­onderrig duur of buite bereik bly. Hier speel toelatingsvereistes ook ’n rol. Daar bestaan wel aanlyn kursusse wat skryfgeheime belowe, maar die deelnemers vind nie wesenlik baat daarby nie. Laasgenoemde is soms dun om die lyf en blitskursusse lewer nie noodwendig blywende resultate nie. Soos in enige bedryf word niksvermoedende aspirantskrywers soms uitgebuit.

As deel van die sosiale media het Facebook die bykomende voordeel dat ’n deelnemer hom- of haarself in enige plek in die wêreld kan bevind en steeds die voordele van so ’n aanlyn model kan geniet.

2. Die CN-digkunsakademie as ’n aanlynmodel

Ruth Padel

Jay Parini

Camilla Paglia

Koop The intimate art of writing poetry by Kalahari.com.

Die CN-digkunsakademie is geloods as eksperiment op Facebook. ’n Studiegids bestaande uit ongeveer 160 bladsye is doelgemaak saamgestel, en bestaan uit vyf modules. Bekende/gevestigde uitgangspunte rondom skeppende skryfwerk vind ook neerslag in die studiegids (byvoorbeeld soos vervat in die werk van Ruth Padel, Jay Parini en Camilla Paglia asook in die bekende The intimate art of writing poetry van Ottone M Riccio). Die studiegids is geskep as wye model wat skeppende denke rondom digkuns aktiveer, en andersyds die deelnemers leer om kritiese lesers van poësie te wees. In dié modellering word daar gefokus op die onderrigmodel van John Singleton.

Die deelnemers word opgelaai op private Facebook-groepsblaaie, wat as virtuele lesinglokale funksioneer.

Die kursus beloop altesaam vyf maande (een module per maand), en deelnemers ontleed verskeie standpunte van beide die mentors en die res van die deelnemers se portuurgroep. Gedetailleerde besprekings van werkstukke vorm deel van die steeds groeiende kennisbasis, en as onderrigmodel plooi die kursus ook om na die individuele behoeftes van deelnemers om te sien. So word lesings interaktief voorberei en aangebied na aanleiding van die vrae van deel­nemers. Naas evaluering deur mentors, speel self- en portuurevaluering ook ’n belangrike rol. Die digakademie het verskillende blaaie wat reeds dormant is (blaaie waar die deelnemers die kursus met sukses voltooi het), maar wat steeds sinvol as virtuele studieruimtes geargiveer word.

Die funksies van die Facebook-groepsblaaie as gratis alternatief teenoor modelle vir e-onderrig, byvoorbeeld Blackboard, Canvas en Moodle, is ondersoek. Die lêer-funksie is veral nuttig, omdat dit boeke (in byvoorbeeld .pdf- en .docx-formaat), video’s en skakels na ander webwerwe as studiemateriaal kan berg. Die funksionering van die digakademie word ook deurlopend geëvalueer deur senior akademici en gevestigde digters en literatore wat die plasings oorhoofs volg. Na afloop van die kursus word die deelnemers geëvalueer en gemodereer volgens die kriteria van ’n geakkrediteerde uitkomsgebaseerde model (tot dusver is nog nie by SAQA aansoek gedoen om akkreditasie nie, omdat die program nog in ’n proeffase is). Die finale uitset van die kursus is ’n werkswinkelblad waar digters hulle kritiese en kreatiewe vaardighede wat hulle tydens die kursus opgedoen het, toepas in die skeppende skryf en slyp van nuwe skryfwerk en waar deelnemers mekaar ondersteun in die afronding van hulle poësie.

Die kursus bied, naas die vaardighede van poësieskryf, ook ’n oorsig van literatuurstudie, die lees en evaluering van poësie, die rol van die kanon, ’n oorsig oor die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf, en die beoefening van literêre teorie en -kritiek en die ontleding van resensies. Binne die tydsgees van 2014 leer digters die vaardighede om hulle eie manuskripte te ontwikkel, asook die rol van rekenaarprogrammatuur. Ook die prosessering van manuskripte vanaf die digter na ’n uitgewershuis word bepreek.

3. Die voor- en nadele van ’n Facebook-blad vir aanlynonderrig

Die deelnemers word onderrig binne die geslote virtuele ruimte van ’n Facebook-groep, en teken ’n verklaring waarin hulle onderneem om streng by die reëls van die digakademie te hou. Dit sluit in ’n gedragskode en die etiese beginsels van die tradisie van poësie. Informele gesprek­voering en invloede van buite word gereduseer tot die fokus van die onderrigmodel. Die reëls en afgeslotenheid van die milieu bied aan die deelnemers ’n beskutte leeromgewing en skep die nodige vertroue om gedigte wat vir hersiening geslyp word, te plaas.

Soos voorheen genoem, het ’n Facebook-blad die funksionaliteit om verskeie dokumentformate en multimedialêers te stoor. Die filmkuns is ook benut deur deelnemers wat belangstel in ekopoësie en -kritiek om die digkunsstudent van 2014 te motiveer om anders, vars en skeppend na die werklikheid om hom/haar te kyk. Die vernuwing van die mentors en deelnemers is beduidend, en die blaaie dien as voedingsterrein vir die vorming van skeppende denke. Die benutting van Facebook se redigeringsopsies vir klein groepe (byvoorbeeld 10–12 lede) is doelgeskik teenoor duurder akademiese e-modelle wat duisende studente en ’n magdom gebruike het wat nie noodsaaklik is vir die onderrig van ’n klein groep nie.

’n Besliste nadeel van ’n Facebook-blad as leermodel is juis die informele aard daarvan, ook binne die konteks van die groter sosiale media. Soms ontbreek dissipline: die deelnemers is byvoorbeeld tydsaam om by die sperdatums van werkstukke te hou (alhoewel sommiges nougeset daarby hou). Soos met enige ander onderrigmodel moet daar in gedagte gehou word dat siekte, gesins- en loopbaankwessies ’n rol speel. Die sosiale milieu van Facebook as hiperkonteks is egter die enkele grootste probleem. Verskeie modelle soortgelyk aan dié van die CN-digkunsakademie word gekloon, maar sonder doeltreffende onderrigfokus. Selfaangestelde kritici tree na vore en lewer onoordeelkundig kommentaar op gedigte. Van dié sogenaamde kennerslewer hulle kritiek ook anoniem (hulle skep skynprofiele, en van die kommentators kan selfs deurgaan as virtuele trolle). Gevestigde en bekroonde digters wat probeer om deur kommentaarlewering kritiese insette te lewer, word op sommige van die groter digblaaie soms persoonlik aangeval, uitgelag en selfs van die blaaie af verwyder. Die beoefenenaars van digskrywes op die sosiale media toon dikwels weinig respek of min verdraagsaamheid teenoor gevestigde hoofstroomskrywers of -digters, en tref ’n skerp onderskeid tussen Facebook-digters en die sogenaamde hoofstroomdigters. ’n Moontlike verklaring vir hierdie verskynsel is dat die Afrikaanse poësielandskap ’n mikrokosmos van die gemeenskap is en gevolglik spontane stratifikasie ondergaan. Soos in enige gemeenskap is daar ’n neiging dat die onderste strata in verset optree teenoor die boonste strata, maar ook tegelykertyd hulle onbeholpenheid ontbloot.

Daar is twee oplossings vir hierdie probleem:

  • aanvaar dat die beginsels van natuurlike seleksie die ewewig sal herstel; of
  • aanvaar die opvoedingstaak om die minder belese individue se vaardighede op te hef.

Ingrid Jonker

Koos du Plessis

Vincent van Gogh

Heelwat van die Facebook-gebruikers wat poog om gedigte te skryf, verkeer sterk onder die invloede van die sewentiger- en tagtigerjare se poësie. Verslete idees word verromantiseer, en Ingrid Jonker, Koos du Plessis en Vincent van Gogh word graag as ikone voorgehou. Ook Koos Kombuis se rebelse uitsprake teen die establishment word aangehang. Dit is moontlik die gevolg van die opvallende verskynsel dat die meeste digters op die sosiale media middeljarig is, wat uiteraard baie verskil van die demografiese verdeling van Facebook-gebruikers (kyk tabel 1).

Dit is ook opvallend dat hierdie populasie nie bekend is met die toonaangewende digters en hulle werk nie. Hulle beskou die bogenoemde figure as die kanon, terwyl laasgenoemdes dalk eerder kultusfigure op die rand van die kanon is. Gevolglik lees hulle nie poësie en die verskeie vernuwings wat daar in die veld bestaan nie. Beginnerverse herinner ook dikwels aan die substandaard lirieke wat tiperend geraak het van die vervlakking (maar gepaardgaande bloeitydperk) van die Afrikaanse musiekbedryf. Hierdie musikante het ook Facebook-profiele waarin hulle hulself opdis as stylikone aan die massas (wat uiteraard die aanlyn digters insluit) as die rigtinggewers. Die uitsaaimedia dra by tot hierdie vervlakking deur sulke musiek kommersieel te promoveer.

Ongelukkig wakker die bekroonde en gepubliseerde digters self ook hierdie diskontinuïteit aan deur onnodige eksklusiwiteit, afpratery en onbegrip. Die diggemeenskap is klein genoeg dat nuttelose diskoerse nie gevoer moet word nie, en daar moet van beide partye af begrip bestaan vir die stratifisering van deelname soos in enige veld waar daar verskillende vlakke van bevoegdheid is, maar alle deelnemers genoegdoening uit die skryf en lees van poësie verkry. Per slot van rekening vervul die sosiale media juis die netwerkfunksie van die gevestigde digters en is gesonde bande met die Facebook-digters (en dalk die gepaardgaande opvoedingstaak) potensieel goeie bemarking vir die gevestigde digters se werk.

Emotiewe en evokatiewe uitsprake in beide die digskrywes en die kommentaarlewering van lesers voer die botoon op Facebook. Die kritiese lees van poësie ontbreek feitlik geheel en al. Digskrywes word ook graag verkonkretiseer aan die hand van versuikerde grafika wat die digskrywes uitbeeld en vergesel. In hierdie verband word deelnemers van die digakademie geskool in die grondbeginsels van literêre teorie en kritiek en in die vaardighede om tekste korrek te lees en te ontvang, en om die meegaande geraas te negeer. Dit is egter belangrik om die gemoedelike sosiale sfeer van Facebook in gedagte te hou, naamlik dat die funksie van so ’n medium in die eerste plek is om met virtuele vriende te sosialiseer en nie die rol van ’n literêre blad vervul nie. Dit moet egter besef word dat dieselfde beginsel geld vir ’n reële lokaal wat dalk oor naweke vir sosiale funksies gebruik word, maar ook kan dien as lesinglokaal vir akademiese onderrig. Die CN-digkunsakademie moet hier as geïsoleerde gevallestudie beskou word met ’n vernouende fokus om ’n geïsoleerde virtuele leeromgewing te skep en op dié wyse ’n balans tussen die gemoedelike en die inhoudelike te handhaaf. In hierdie verband is ’n vreemde nuwe protokol besig om te ontstaan waarin die gees van gesprekvoering binne beide die sosiale en literêre sfere kan voortgaan. ’n Verdere nadeel van ’n aanlyn onderrigmodel binne die groter informele konteks van Facebook as ’n sosiale medium is dat so ’n onderrigmodel dikwels nie ernstig opgeneem word nie (in teenstelling met ander modelle soos e-onderrig en afstandsonderrig).

Binne die groter gees van anti-intellektualisme en die aanhang van belydenisagtige skrywes ontstaan daar ’n oorproduksie van digskrywes wat dikwels die idee van die hart of siel voorop stel. Uitgewers wat munt slaan uit die wanvoorstelling van Facebook-gebruikers se “talent”, tree na vore. Boeke van laer gehalte met ’n dikwels grandiose voorstelling van outeurs hou finansiële voordeel vir sowel die uitgewer as die outeur in. Weinig respek word betoon aan die prosesse wat gevestigde uitgewers volg. Dit sluit ook ’n groot onkunde oor kopiereg in en daar is al gevalle aangemeld waar gedigte lukraak op die groter internet gevind is en sonder enige verwysings herpubliseer is. Die grense tussen die virtuele wêreld en die werklikheid begin vervaag en Facebook bied ’n ontsnaproete aan persone wat hulle fantasieë rondom skrywerskap uitleef.

Soos voorheen genoem, skep heelwat Facebook-digters hulle eie ondersteuningsblaaie. In ’n nuwe ontwikkeling benut sommige Facebook-gebruikers die betaalopsie van Facebook. Volgens hierdie opsie word gebruikers se ondersteuningsblaaie programmaties bemark aan alle ander lede van Facebook wat binne ’n vooraf-gedefinieerde demografie is. Hiervoor word ’n beduidende daaglikse bedrag betaal. Op hierdie wyse is daar byvoorbeeld ’n geval van ’n welgestelde Facebook-gebruiker wie se gedigte reeds meer as 65 000 ingeskrewe ondersteuners het, terwyl ’n ondersteunersblad vir byvoorbeeld NP Van Wyk Louw ongeveer 300 ingeskrewe ondersteuners het. As elke ondersteuner so ’n blad net een maal per week besoek, projekteer dit op ongeveer 250 000 besoeke per maand. Die vraag kan met reg gevra word: Wie is hierdie 65 000 mense? Is hulle volhoubare ondersteuners van Afrikaanse digkuns of is hulle bloot aanhangers van die individu? Antwoorde op vrae soos hierdie is onduidelik. Die positiewe reaksie sou wees om te aanvaar dat ten minste ’n gedeelte van hierdie populasie nuwe volgelinge van poësie is en dat dit dus die gemeenskaplike koek vergroot. Die negatiewe reaksie sou egter wees dat hierdie populasie nie werklik volgelinge van poësie is nie en moontlik nou onder die wanindruk verkeer dat die betrokke Facebook-gebruiker se werk die kanon verteenwoordig.

Maar die gevallestudie dui ook op ’n groter tendens, naamlik die demokratisering van die aanlyn “digkanon”, dat elke individu die reg het om sy of haar werk te promoveer – of dit gebrekkig is of nie, en dat, soos in enige demokratiese proses, diegene wat kapitaalryk is, oor groter inspraak beskik. Laastens vra die gevallestudie natuurlik ook waarom die invloedryke organisasies in die ware kanon nie soortgelyke betaalopsies uitoefen nie.

In die verlede het literêre tydskrifte soos die sogenaamde little magazines aan aspirant- of beginnerdigters ’n kans en publikasieruimte gebied. Die gedigte was onderhewig aan prosesse van keuring, en daar is soms ná publikasie die verwagting van debuutbundels in die vooruitsig gestel. Met die koms van die internet en die sosiale media en die feit dat daar al minder digbundels via hoofstroomuitgewers in die negentigerjare gepubliseer is, het mense hulle toenemend vervreem van die kanon begin voel. Formele publikasie- en uitstalruimte vir nuwe talent het getaan. Die blitspublikasies van skrywes op Facebook het méér as net die behoefte aan erkenning vir vermeende individuele talent vervul – dit vul ook die leemte van individue na persoonlike erkenning. Die bevrediging wat digskrywes aan die skeppers daarvan bied, moet egter nie verwar word met individue wat ’n egte liefde en belangstelling toon in die skryf van poësie en die groter konteks van literatuurstudie nie. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat Facebook as ’n medium van kommunikasie en uitdrukking goeie sowel as swakkerstandaard-gedigte sal oplewer (soos dit in die geval van die gedrukte media ook is), en dat dit oneerlik en bevooroordelend sou wees om digters wat hulle digwerk op Facebook as uitstalruimte plaas, te penaliseer oor die stigma wat Facebook-digters dalk mag dra.

Deelname aan die CN-digkunsakademie

Tabel 1: Deelnemers 2013/14

Nr

Groep

Geslag

Ouderdom

Beroep

Vordering

Rede

1

1

M

50–59

Historikus

Kursus voltooi met hulp van ander deelnemers

 

2

1

V

60–69

Pensioenaris

Goeie vordering vanaf aanvanklike beginnerstatus

 

3

1

M

60–69

Skilder

Goeie vordering met ’n komplekse profiel

 

4

1

V

60–69

Pensioenaris

Onvoltooid

Gebrekkige vaardighede

5

1

M

40–49

Onderwyser

Bevredigende vordering

 

6

2

V

50–59

Logistikus

Buitengewone vordering

 

7

2

V

50–59

Opleidingsbeampte

Uitstekende vordering

 

8

2

V

50–59

Maatskaplike werker

Buitengewone vordering -- debuutbundel volg

 

9

2

V

40–49

Maatskaplike werker

Uitstekende vordering

 

10

2

M

40–49

Ingenieur

Buitengewone vordering – debuutbundel volg

 

11

3

V

40–49

Tuisteskepper

Onvoltooid

By splintergroep aangesluit

12

3

V

60–69

Pensioenaris

Onvoltooid

By splintergroep aangesluit

13

3

M

40–49

Private ondersoeker

Onvoltooid

Persoonlike trauma

14

3

M

20–29

Ekonoom

Onvoltooid

Veeleisende loopbaan

15

3

M

40–49

Regsgeleerde

Onvoltooid

Veeleisende loopbaan

16

4

V

40–49

Mediese dokter

Uitstekende vordering

 

17

4

M

50–59

Mediese dokter

Uitstekende vordering

 

18

4

M

40–49

Sakeman

Uitstekende vordering

 

19

4

V

40–49

Musikant

Onvoltooid

Veeleisende loopbaan

20

4

V

50–59

Musikant

Informele vordering

 

21

4

V

40–49

Gedragswetenskaplike

Uitstekende vordering

 

22

4

V

40–49

Polisiebeampte

Uitstekende vordering

 

23

4

M

10–19

Skolier

Buitengewone vordering

 

24

4

V

60–69

Musikant (Verenigde Koninkryk)

Uitstekende vordering

 

25

4

V

50–59

Sakevrou (België)

Uitstekende vordering

 

26

4

V

40–49

Rekeningbestuurder

Onvoltooid

Hervestiging

27

4

M

50–59

Sakeman (Namibië)

Bevredigende vordering

 

28

4

M

40–49

Plaasbestuurder

Buitengewone vordering as kontreidigter

 

Die huidige deelname aan die CN-digkunsakademie as onderrigmodel is nog in ’n eksperimentele fase en die onderstaande inligting is dus tentatief en bedoel om ’n oorsig van die aktiwiteite te verskaf. As ’n volgende iterasie word volledige vraelysterugvoer beplan.

Die volgende gevolgtrekkings word uit die voorgaande tabel gemaak:

  • Die gemiddelde ouderdom van die deelnemers is 50 jaar. Dit verskil van die gemiddelde ouderdom van Facebook-gebruikers, wat as ongeveer 30 jaar aangegee word. Hierdie statistiek dui waarskynlik op die feit dat aanlyn digters meestal middeljarig is en sekere onvervulde drome wil verwesenlik.
  • Dit moet in ag geneem word dat deelname aan die digakademie teen ’n koste van ongeveer R2 000 plaasvind, dus is dit moontlik dat ’n gedeelte van die Facebook-digters dalk werkloos is, persoonlike trauma ondergaan het en uit die perspektief van hulle verlies skryf (hulle gee dikwels hulle beroepe as “self-employed” aan). Hierdie mense sou om finansiële redes nie deelneem nie.
  • Deelnemers wat nie die kursus voltooi het nie, het dit om twee redes gedoen:
    • die gemoedelike omgewing binne die groter Facebook, insluitend die feit dat minstens een splintergroep ontstaan het wat deelnemers aangemoedig het om eerder betrokke te raak by die kwasiliterêre omgewing van hierdie ander groep wat meer gesosialiseerd bedryf word
    • die loopbaanvereistes en verantwoordelikhede van deelnemers.
  • Ongeveer 60% van die deelnemers is vroulik en ongeveer 40% manlik.
  • Twee deelnemers debuteer in 2014 en ’n derde deelnemer is reeds geoormerk vir publikasie in 2015. Drie verdere deelnemers het die potensiaal om te publiseer.

4. Leeruitkomste van die CN-digkunsakademie as onderrigmodel

Daar word van die deelnemers verwag om na afloop van die kursus die volgende leeruitkomste te bemeester het:

Module 1: Fundamentele vaardighede en boustene van poësie

  • doelwitstelling rondom die kursus en digterskap
  • oorsig en agtergrond oor poësie as genre
  • vrye assosiasie, bewussynstroomtegniek en digkuns as vervreemde werklikheid
  • oorsig oor poësie as skryfproses
  • die lees en skryf van poësie as interaktiewe proses.

Module 2: Identiteitstemas

  • die verhouding tussen taal en die werklikheid
  • die persepsies van digters deur die eeue
  • identiteit
  • die doelbewuste spel met taal
  • ’n eie digterstem.

Module 3: Die digter as vakman

  • die keuse van onderwerpe
  • literêre teorie en poësie
  • poësieteorie
  • fyner vaardighede met die skryf van poësie
  • poësie-analise as ’n skeppende proses.

Module 4: Digtershouding

  • inspirasie en tegniek
  • hersiening van poësie as leerkurwe
  • konkrete poësie
  • formulering van openingsgedagtes.

Module 5: Literêre kritiek

  • die rol van resensies
  • digtersdinamiek en manuskripontwikkeling
  • die uitgewersbedryf
  • kriteria vir die evaluering van poësie.

5. Slotopmerkings

Die program is daarop gemik om ’n groter bewustheid by deelnemers te vestig as skeppende digters en kritiese lesers binne die tradisie van poësie. Dit verrig ook die opvoedingstaak om deelnemers te skool in die konvensies van literêre teorie en kritiek.

Deelnemers wat reeds die program voltooi het, word tutors of medementors op verskeie Facebook-digblaaie, waar hulle hierdie ingesteldheid op ’n positiewe manier probeer voortsit.

Poësie word voorgehou as ’n stadige rypwordingsproses in teenstelling met die kitsbenaderings wat dikwels op Facebook geld en die daaropvolgende massaproduksie van Facebook- en selfpublikasies. Poësie word bevorder nie net as ’n ambag of kunsvorm nie, maar ook as deel van ’n groter ingesteldheid en leefwyse.

Daar word tans op versoek van sommige alumni van die program ondersoek ingestel na ’n meer gevorderde program wat onderwerpe soos ekopoësie en -kritiek, vertaling van poësie, narratiewe poësie en ander moderne neigings insluit.

Dit blyk duidelik uit gesprekvoering met deelnemers en verskeie ander aspirantdigters dat daar ’n daadwerklike behoefte aan so ’n onderrigmodel bestaan. Terselfdertyd moet die koms van aspirantdigters op die sosiale media erken word. Die feit dat ’n gemeenskap van ongeveer 5 000 mense ontstaan het, kan nie weggewens word nie, en die literêre gemeenskap kan baat vind deur hierdie bron tot voordeel van alle rolspelers te benut. Hier is ’n gemeenskap wat vra om bedien te word met poësie en alle verwante artefakte daarvan. Gesonde bande tussen die bekroonde en gevestigde digters en die aspirantdigters op Facebook is ’n geleentheid wat die verkope van bundels kan bevorder en die poësielandskap verruim.

<< Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Selfuitbeelding en Facebook: ’n estetika van verdwyning?
– Amanda du Preez
2013-01-21
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die woordrivier: ’n Model ter bevordering van gemeenskapseie woordkuns
– Anneretha Combrink
2012-10-11
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die skrywer en nuwe publikasiekontekste: Interaktiwiteit en wisselwerking in aanlyngemeenskappe – Fanie Viljoen se Pynstiller as gevallestudie
– Franci Greyling
2012-09-28
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
'n Ander bestekopname van die Afrikaanse poësie, 2004–2007
– Leti Kleyn
2008-08-05
Akademies
Die Letterkundige Laboratorium van die Universiteit van Stellenbosch (1960–1984)
– Johann Lodewyk Marais
2000
LitNet Akademies (Regte)
Vonnisbespreking: Facebook en persoonlikheidsbeskerming
– Johann Neethling
2014-01-29
Onderhoud
Sosiale media en die gebruik van internet-inhoud
– Cobus Jooste, Naomi Meyer
2012-08-07
Reispapier
Netdigters in die media-landskap
– Rentia Bartlett-Möhl
2014-01-28

Young Voices Conference 2004
A niche enclave or international stage?
– Eugene Ashton
2004-11

Briewe deur die lug
Hibriditeit en die internet
– Joan Hambidge
2000

 

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Alice Hendriks-Boshoff

    Nini Bennet se artikel ivm die bedryf van 'n aanlyn-digkunsakademie, is so insiggewend, interessant en leersaam as wat dit deeglik en omvangryk is. Die CN-dikgunsakademie se kwaliteit van onderrigmateriaal, leiding en terugvoering aan deelnemers en etiese kode maak dit 'n topklas studiegeleentheid. 'n Opvolg en meer gevorderde kursus sal besonder welkom wees, omdat die leiding, ervaring en bo alles die talent van Nini kosbaar en onoortreflik is.

  • Franco, jy kan vir Nini direk kontak by [email protected]

    Die artikel verskaf 'n blik op 'n vreemde virtuele wêreld wat soos 'n paddastoel verrys het. In hierdie wêreld is daar 'n fyn lyn tussen werklikheid en fiksie en die virtuele tussenland. Almal is die helde van hulle eie verhale. Vreemde nuwe protokolle ontstaan, nuwe protagoniste en antagoniste, nuwe feekse en nuwe anargiste staan op die skynverhoog. Die drama van die middelklasbestaan speel af in kodes wat verlangs soos ou gedigte lyk. Maar op 'n manier is dit verslawend vir ons almal.

     
    Teen hierdie agtergrond is die artikel 'n vars en sober blik op aanlyn-wêreld van facebook-digters. Die skrywer se baanbrekerswerk om orde en literêre kundigheid en etos te vestig is 'n ligtoring tussen die res.
  • Avatar
    Pieter. Odendaal

    Goeiedag
    Ek wil graag in my eie tyd leer van digkuns. Is daar gratis modules ens. beskikbaar?.
    Ek sal dit hoog op prys stel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top