Poolse kuiertjie

  • 0

Tydens 'n paar maande se verblyf in Engeland kry ek die geleentheid om bietjie rond te toer. Een van my bestemmings is Krakow in Pole.

Die eerste Poolse staat het al in 922 tot stand gekom en Pole word 'n koninkryk in 1025. Sedert 1795 is Pole egter ingeneem deur drie verskillende lande. Eers in 1918 na WW1 het Pole weer onafhanklikheid verkry. Net om in 1939 ingeneem te word deur Nazi Duitsland met die aanvang van WW2. Dit was 'n baie hartseer tyd in die Pole se geskiedenis waar na beraming sewe miljoen Pole, waarvan ongeveer drie miljoen Jode, hulle lewens sou verloor. Na WW2 is Pole onder beheer van Rusland totdat die kommunistiese beheer in 1989 omver gegooi is. Uiteindelik was Pole weer vry, maar nie sonder om 'n hoë prys te betaal nie. Dit het jare geneem om die land weer op te bou en dis dan daarom dat Krakow so spesiaal is, dit het van al die stede in Pole die mees ongeskonde gebly. Derhalwe is die meeste geskiedkundige geboue steeds behoue en is hier 'n skatkis van geskiedenis en wonderlike argitektuur. Sedert 1978 is dit dan ook 'n UNESCO-erfenisgebied.

Krakow is geleë in die suide van Pole aan die Vistularivier. Die uitstaande kenmerk is die Wawel aan die rand van die ou stad. Die Wawel is op 'n koppie gebou langs die rivier en bestaan oa uit 'n koninklike kasteel en 'n lieflike katedraal in gotiese styl met graftombes van eertydse konings. Verder spog Krakow ook met een van die grootste markpleine in Europa en word vergelyk met die San Marco plein in Venesië. Dis 'n lieflike plein met die nodige duiwe, straatmusikante, stalletjies met Poolse soeweniers, restaurante, winkels, die pragtige, geel 'cloth hall' reg in die middel van die plein, 'n blommemark, perdekarre, pragtige ou geboue, katedrale en 'n toring. Hier kan jy heeldag tyd verwyl by een van die vele oulike koffiewinkels en jou verkyk aan Pole se aktiwiteite.

Die ou stad se oorspronklike stadsmure bestaan nie meer nie, maar in stede daarvan is 'n groen 'muur' reg rondom die oorspronklike ou stad aangelê. Hierdie groen park is tydens ons besoek egter getooi in goudgeel herfsblare, 'n fees vir die oog. Pragtige ou 'cobblestone' straatjies verbind die markplein met die groen park. Ek en my twee SA vriendinne wat uit Ierland saam toer geniet dit om net rond te draal en ons te verkyk aan die mooi ou geboue en lieflike winkels. Orals vind ons stalletjies met vars gebakte pretzels, 'n tipiese Poolse delikatessen. Gewilde inkopies in Krakow is handgekerfde houtitems soos oa engeltjies en dan lieflike amber juwele.

Ons onderneem ook 'n uitstappie na Auschwitz-Birkenau, die mees berugte konsentrasiekamp gedurende WW2. Uitstappie is sekerlik nie die regte woord in hierdie konteks nie. Om te gaan kyk hoe lyk 'n plek waar meer as 'n miljoen mense hulle lewens verloor het op die mees onmenslike wyse is seker nie jou standaard familie-uitstappie nie. Dis hartroerend en gryp mens aan die hart. Op pad daarheen word ons voorberei mbv 'n dokumentêre film op die bus. Auschwitz 1 is die oorspronklike kamp en is nou ingerig as 'n museum. Dit was oorspronklik weermagbarakke gebruik deur die Poolse weermag. Gedurende 1940 gebruik die Nazi's dit vir 'n konsentrasiekamp. Vanaf 1942 dien dit egter 'n dubbele rol, ook die van 'n 'death camp' met die ingebruikneming van die gaskamers.   Daar heers 'n amper aanvoelbare stilte, tsv honderde besoekers. Almal praat gedemp, aangeraak deur wat hulle sien. Die verskillende barakke word gebruik om verskillende fasette van die kamplewe aan te dui. Ons kan ook in een van die gaskamers ingaan. Alles is nog basies soos wat dit was, hierdie museum bestaan al merkwaardig genoeg reeds vanaf 1947, slegs twee jaar nadat die oorlog verby is. By Birkenau oftewel Auschwictz 2 is die kamp net soos wat dit was tydens die oorlog. Hier is houtbarakke opgerig om al die gevangenes te huisves. Wat ook treffend is hier, is die treinspoor wat reg tot in die middel van die kamp strek. Hier is die gevangenes, meestal Jode afgelaai waar hulle geskei is in twee groepe, die wat sterk genoeg is om te kon werk kon leef, die oues, siekes en kinders is dadelik na die gaskamers gestuur. Baie mense het egter ook gesterf weens ontberinge, siektes of is tereggestel vir oortredinge soos pogings om te ontsnap. Vir sommiges was dit so erg hulle het in die elektriese drade ingehardloop en so hulle lewens verloor.   Dis 'n koue, mistroostige dag, selfs die weer bevestig die sombere atmosfeer ...

'n Meer opbouende uitstappie is 'n besoek aan die Wieliczka-soutmyn. Hierdie myn is reeds 700 jaar oud en was tot en met 1996 nog produktief. Dis ook 'n UNESCO-erfenis. Die myn bestaan uit 'n netwerk van ondergrondse tonnels, kamers en 'saline lakes'. Hier leer mens van mynbedrywighede oor die afgelope eeue. Daar was tye wat perde selfs ingespan is in die myn. Die perde het letterlik hul hele leeftyd in die myn spandeer. Die mees indrukwekkende kamer in die myn is die St Kinga-kapel, kompleet met 'n altaar, reuse-kandelare en beelde, alles van sout. Teen die mure is tonele uit die Bybel uitgekap in die sout, oa 'n replika van die laaste Avondmaal; die bekende skildery van da Vinci. Allerlei soutbeelde is deur die jare deur gewone mynwerkers uitgekap en daar is oral van hierdie besonderse kunswerke dwarsdeur die myn te sien. Die myn ontvang tot 6 000 besoekers per dag en word ook gebruik vir konserte en funksies soos troues.

Bekende Pole is Frederic Chopin en die sterrekundige Copernicus. Ons woon 'n Chopin konsert by. Ek verkyk my aan die vaardigheid waarmee die pianiste die meesterstukke uitvoer en verluister my aan die wonderlike klanke wat die klavier onder haar vaardige vingers voortbring. Dit laat my dink aan die mens, wat is die mens, dieselfde mens wat sulke wonderlike musiek kan voortbring is ook dieselfde mens wat in staat is tot ondenkbare wreedhede ...

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top