Jare terug, rondom 2002 tot 2007, het ene Pollyanna briewe aan SêNet geskryf. Ook blogs op LitNet gepleeg.
Om te sê dat haar geskrifte mense ontstel het, sou wees om dit sagkens te stel. Haar blogs was provokasies vir SJWs in die ergste graad.
Pollyanna took no prisoners. Sy het verstaan hoe om mense die bliksem in te maak. Hulle knoppies te druk. Pollyanna was die bête noire van als wat gay was op LitNet. Nou kyk, Pollyanna was geen homofoob nie. Sy en haar vriendin, W, was goeie maatjies met heelwat gays, soos ene Hugo, met sy faux-leerbaadjie (Hugo was skynbaar 'n atipiese gay persoon; een sonder kleresmaak). Hugo het vir P en W drankies gekoop in Mystic Boer, voor ek haar ontmoet het. Die fotograaf op ons troue, Johan, was eweneens gay. Pollyanna was mal oor hom.
Eintlik was Pollyanna 'n groot kampioen vir die "underdog". As die Bulle, Leeus of die Haaie sleg gespeel het in die Superrugby, was sy outomaties aan hulle kant. My en haar eerste bakleiery as 'n paartjie was toe ek die karwag by The Blue Crane-restaurant in Brooklyn nie ordentlik beloon het nie. Pollyanna was ook aanhoudend beskuldig van
rassisme. Ek is egter telkens deur Pollyanna uitgehaal as ek nie die pompjoggies ordentlike fooitjies gegee het nie. Een van haar werk se drywers, Warwick, 'n Zimbabwiër, het soos 'n baba gehuil toe hy hoor sy is dood. Haar baas, J, iemand vir wie Pollyanna in sy gesig sou spot oor sy "pointy shoes", kon eenvoudig nie haar dood kleinkry nie,
en het in ons huis kom ronddwaal, twee dae nadat Pollyanna dood is.
Pollyanna was weliswaar iemand wat daarvan gehou het om die kak te roer. Lank voor die klimaat van die waansinnige politieke korrektheid wat tans heers, het Pollyanna die wind sien waai. Sy was iemand wat
haar verkneukel het daarin om te sien hoe verontwaardig die mense gereageer het as sy on-PK goed geskryf het. Sy het niks teen gays gehad nie, maar hulle nietemin in die rooi in gedruk. Nie omdat sy hulle regtig fundamenteel gehaat het nie; sy was bloot net lief daarvoor om mense te "rev", om 'n reaksie te verkry.
Pollyanna was 'n insomniac. Talle nagte, om 02h00 in die oggend, het ek omgedraai en gekyk hoe sy op haar iPad lees. Sy het maklik drie boeke per week op haar iPad gelê en lees; alles. Dostojewski en Hemingway. Ettiene le Roux. Koos Kombuis. Breyten. James Joyce.
Pollyanna en ek was mal oor live music. Jan Blohm het hom verbeel hy ken ons en ons telkens kom groet as ons 'n hele paar bottels wyn sterk was. Bra Piet eweneens.
En toe, een swart, swart, swart Vrydagmiddag, kom sy tuis van die werk af. Sy kla dat sy sukkel om asem te haal.
Ek dag dis maar die gewone asma waaraan sy al jare gely het. Ek vat haar dokter toe. Hy skryf medikasie voor. Later die middag raak die asemnood toe erger. Ek jaag met haar, 190km/h, hospitaal toe.
In die skemerdonkerte van die godvervloekte Vrydagaand.
Teen die aankomende verkeer in.
Sy sterf egter langs my in die kar.
Wat 'n fokken godskreiende, vervloekte dag.
Dit sal vandag twee jaar wees.
Pollyanna se wewenaar


Kommentaar
Jammer om dit te hoor. Dir is nie lekker om iemand te groet en weet hy/sy kom nooit weer terug nie. As ons maar meer mense met die karakter van Pollyanna gehad het.
Ek onthou haar goed. Al daai jare terug. RIV, Polly
Aangrypend geskryf.
Ai, dit is nou slegte nuus. Ja-nee, sy het verskeie van ons omgekrap maar altyd haar standpunt sterk gestel en verdedig.