Dikwels in die media word verwys na politieke gevangenes. En dan bykans altyd is dit ’n Mandela, Harris en hul klomp.
My opvatting en definisie van ’n politieke gevangene is iemand wat weens sy politieke oortuigings en standpunt in onguns by die regering van die dag beland en dan in die tronk gesit word. Dus iemand wat nie ’n landswet oortree het nie.
Sover ek kan onthou was daar nog nooit ’n politieke gevange in Suid-Afrika nie. Nog minder een in ’n Suid-Afrikaanse tronk.
Om na persone wat ’n landswet oortree het soos om moord, hoogverraad, sabotasie ens te pleeg as politieke gevangenes te verwys, gaan net nie op nie. Diesulkes is niks anders as kriminele nie. Hoekom word nou na hulle verwys as “politieke gevangenes”?
Vanoggend oor RSG is gepraat van die ou galgkamer wat in Pretoria-gevangenis opgeknap en as museum ingerig word. Ook het die minister van Korrektiewe Dienste die families versoek om na vore te kom om afsluiting te kom vind. Goeie genade! ’n Opperste krimineel gaan nou “vereer” en ’n martelaar van gemaak word. Hoe ver het ons al gedaal dat so iets nou gaan gebeur. Ek kan dit skaars glo.
In dieselfde program het ’n bewaarder of dalk is hy ’n oud-bewaarder, verwys na die trauma wat jong bewaarders wat by die dodeselle gewerk het, ervaar het tydens hul werk. So erg dat van hulle selfs selfmoord gepleeg het. (Nou moet onthou word dat die einste Steynberg voor die WvK getuig het, aldus die berig. ’n Kommissie waar jy eers moes erken jy het iets verkeerd gedoen.) Mens kon die afleiding maak dat die Steynberg sensasie en simpatie soek by die owerhede, want wat hy gesê het, is hoogs aanvegbaar. Dalk sommer pure snert.
Die hele berig en wat aan die orde van die dag is, het soos ek dit sien, net een doel en dit is om die vorige regering en veral die wit man in ’n slegte lig te stel. Geen wonder dat die huidige regering en hul aanhangers se optrede en uitsprake al meer verdeeldheid en wrewel teenoor mekaar veroorsaak nie.
Jakkie
Brief versag. - Maggie

