Plus 27
die tyd van apaties wees is klaar verby
ja ons weet nou hoe om dit te spel
ons het dit in die woordeboek gekry
so dankie kom ons stry daarteen
en stoom passievol voort
dit bly goed om van die geskiedenis te weet
want dan weet ons waar gaan ons heen
maar dié wat te veel terugkyk
mag dalk net in ’n soutlyk versteen
integrasie is ’ n pragtige woord
maar hoekom is dit so moeilik vir jou om daarby te hoort
ons pas in mekaar soos Lego
en jy kan nie net met een stukkie ’n huis bou nie
hoekom sukkel jy nog om te offer wat hy vra?
die tyd van ver wees van jou medemens is klaar
verby so gryp die ou langs jou
en sê hey! kom ons dans die plek aan die brand
vanaand verf ons hierdie stad rooi van hoek tot kant
en ek belowe almal wat saam met jou uit volle bors sing
is aan jou kant
want almal is lief
vir hierdie plus-27-land
as ons oë gehad het wat in ons kop in kyk
sou ons sien hoe vuil ons gedagtes lyk
en sou ons dalk dink voordat ons praat
jou tong is ’n vonk
wat die vuur van haat
net dalk kan laat vlamvat
’n vuur wat dalk nie met tyd geblus kan word nie
en soos gert vlok nel sê
dit klink miskien soos ’n storie uit die Huisgenoot
jou woorde kan jou verder van jou mense wegstoot
maar om vriendelik te wees vir die mense
en om te hoor hoe dit gaan
is dalk net die medisyne vir die brandwonde
van die verlede
van hierdie plus-27-land
![]() |



