Pluimprinse het sy oomblikke

  • 0

Pluimprinse
Malene Breytenbach
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624048251
Prys: R153.00
 

Klik hier en koop Pluimprinse nou van Kalahari.net!

’n Mens moet jou genres ken as jy boeke wil resenseer. Afrikaanse resensente is berug daarvoor dat hulle boeke wat (byvoorbeeld) niks méér wil wees as ontspanningsfiksie nie, afmaak as minderwaardige letterkunde. Dít terwyl so ’n boek dikwels uitstekende vermaak bied en uitstaan as genrewerk. Dis soos om ’n roman deur André Brink af te skiet omdat dit nie aan die genrereëls vir romanses voldoen nie.

Maar dis nie altyd maklik om ’n genre korrek in te skat nie. Onlangs resenseer ek Vier seisoene kind deur Wilna Adriaanse as liefdesroman. Die boek se verpakking én my instink en jare se ervaring oortuig my ek het met ’n liefdesroman te doen. Vier seisoene kind word boonop op die uitgewers se webblad onder “Liefdesverhale” gekategoriseer. ’n Soortgelyke boek deur dieselfde skrywer (Die boek van Ester) is bekroon met ’n ATKV-veertjie vir liefdesverhale ... en niemand het kapsie gemaak omdat die boek só ingedeel is nie.

Een van my besware teen Vier seisoene kind was dat daar nie genoeg romanse is nie en dat die roman oor die algemeen nie ’n goeie liefdesverhaal is nie.

Kort daarna voer ek ’n onderhoud met die skrywer. Sy maak beleef beswaar: sy beskou haar boek as “realiteit met ’n bietjie romanse”, nie as ’n “liefdesroman” nie.

Dis goed so, maar waar plaas dit ’n resensent? ’n Mens kan nie ’n boek resenseer as jy nie volkome sekerheid het oor die teikenmark nie.

Miskien is die veiligste om na boeke waaroor daar enigsins onsekerheid is, te verwys as “algemene fiksie”. Maar dít doen ’n mens moeilik wanneer jy ’n roman soos Vier seisoene kind vergelyk met byvoorbeeld Marietjie van Rooyen se Huis teen die skuinste, wat by uitstek “algemene fiksie” genoem kan word en nie so veerlig is soos Adriaanse se romans nie, maar ook nie as “swaar” gekategoriseer kan word nie.

Hoe gemaak met Malene Breytenbach se Pluimprinse? wonder ek toe dié boek op my leestafel beland. Hoe weet ek ek kry nie die genre verkeerd of trap op die skrywer se tone nie?

Breytenbach het ’n rits romanses op haar kerfstok, maar dit beteken nie haar jongste vrystelling – veel lywiger as haar liefdesverhale – is óók suiwer ontspanningsfiksie nie. En die voorblad beeld ’n antieke kar en twee volstruise uit – dit dui nie daarop dat romanse die hoofrol in dié roman speel nie. Die flapteks noem wel iets van “die keuses van die liefde”, maar gee nie die indruk dat dit hier verál om die liefde gaan nie. Waaroor die skrywer dit wel het, is Oudtshoorn, en meer spesifiek, die tydperk in die dorp se geskiedenis toe volstruisboerdery ongekende welvaart gebring, en volstruisboere en verehandelaars mekaar met verstommende swier en spandabelrigheid tot oorgawe probeer spog het.

Olivia Baily, die protagonis, woon in Muizenberg en werk as joernalis by ’n dagblad. Nadat sy op min na in haar eie huis verkrag word, “vlug” sy Oudtshoorn toe, na die Joodse ouma wat sy nooit geken het nie. Hier gaan ’n nuwe wêreld vir Olivia oop. Sy leer die dorp en omliggende plase se geskiedenis ken: verstommende verhale van rykdom en armoede, liefde en ontrouheid, lojaliteit en verraad. Haar eie familiegeskiedenis is besonder insiggewend. En natuurlik skimp die verteller dat Olivia self deur die loop van die verhaal liefde sal vind ...

Die agtergrond en gegewe is interessant, veral dié oor Oudtshoorn se argitektuur en die “pluimpaleise”. Die skrywer het deeglik navorsing gedoen en haar feite is bo verdenking.

Maar hierdie verhaal “werk” eenvoudig nie. ’n Mens kan met veiligheid aanneem dat die skrywer nie ’n suiwer liefdesverhaal wou skryf nie en dat die dunnerige liefdeselement (met betrekking tot Olivia en die man(s) wat dalk haar hart sal wen) nie blote nalatigheid is nie. Maar Pluimprinse slaag nie op die mees basiese vlak nie, selfs nie as “algemene fiksie” wat op die “laagste gemene deler” gerig is nie. Daar is nie veel sprake van struktuur nie. Dinge gebeur sonder rede of oorsaak. Hoekom sal lesers byvoorbeeld omgee wat Abie se lewensgeskiedenis is, hoe Olivia oor hom voel, en of hulle later gaan vrede maak?

Meer as die helfte van dit wat aan lesers meegedeel word, is interessant maar nie funksioneel nie – dit kon net sowel uitgelaat gewees het. ’n Hele paar karakters is bygesleep bloot om “bladsye vol te maak”. Dis asof Breytenbach nie kon besluit of sy ’n roman of ‘n geskiedenisboek wou skryf nie.

Ek het hierdie boek deurgewroeg, tot aan die bitter einde, maar voor die halfpadmerk reeds opgehou om myself te dwíng om na goud in ’n doodgewone watersloot te soek. Pluimprinse het sy oomblikke, maar daar is eenvoudig nie genoeg om opgewonde oor te raak nie.

Dis nooit lekker om ’n negatiewe resensie te skryf nie, maar boeke kos geld en niks is so teleurstellend soos om ’n “mooi” boek van ’n rak af te haal, daarvoor te betaal, by die huis te kom, ywerig te begin lees – en te besef jy het ’n kat in ’n sak gekoop nie: lesers verdien om gewaarsku te word teen boeke soos hierdie.

Met dié resensie is my persoonlike teleurstelling so groot dat ek nie eens lus is om taktvol te wees nie: Malene Breytenbach moet terug skryfskool toe. Pluimprinse is ’n hoogs vervelige boek wat slegs vir hoogs verveelde lesers aanbeveel word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top