"Plasentaput" deur Renée du Toit

  • 0

Tydens die US Woordfees 2014 is die suksesvolle Sanlam | LitNet-tydskrifverhaalslypskool aangebied. So groot was die belangstelling in dié geleentheid dat heelwat voornemende deelnemers weggewys moes word.

Daar is nou goeie nuus vir almal wat nie die geleentheid kon meemaak nie. LitNet gaan vir die volgende paar weke ’n tydskrifverhaalslypskool-reeks plaas: aantekeninge van die aanbieders, asook verhale wat deur deelnemers voorgelê is.

LitNet plaas ’n verhaal van een van die deelnemers aan die slypskool: "Plasentaput" deur Renée du Toit.

Lydia staan by die plasentaput, gooi nog ‘n laaste handvol chemikalië oor die nuutste plasentas. Die opsigter staan nader en hulle laat sak die ysterdeksel oor die sementput, druk die slot toe. Die takie is vir Lydia ‘n afsluiting van elke geboorte by die kliniek waar sy werk.

Vanoggend stuur sy die opsigter alleen terug met die leë emmer, handskoene en register sodat sy ‘n rukkie nog buite kan staan in die wintersonnetjie. Die berge is nou goudbruin en die lug winterskoon teen die rand van die granietkranse.

Sy het laasnag aangebly om met ‘n geboorte te help. Uit eie keuse, want dit was nie ‘n moelike geboorte nie. Die ma was alleen want haar moeder, ‘n vriendin van Lydia,  kon nie betyds by die kliniek uitkom nie. Lydia glimlag as sy dink aan die vroutjie se trots toe sy na haar baba kyk: “Suster, is hy nie mooi nie!” Soos gewoonlik het Lydia na die opgepofte ogies en pruilbekkie gekyk en met ‘n glimlag diplomaties gesê: “Hy’s baie oulik,” verbly oor die reflekse wat babas spontaan hulle handjies om ‘n vinger laat vou, en die mondjies wat self begin soek.

Lydia is al 20 jaar die vroedvrou by die kliniek hoog teen die berge. Dit neem drie ure om by die naaste hospitaal te kom, dus word pasiënte baie goed ondersoek en gemonitor om te verseker dat beide moeder en baba gesond is en slegs lae-risiko-geboortes by die kliniek bespreek word.

Haar eie dogter bly in Durban en kom met die Junie- of Desembervakansies kuier met haar gesin. Sy mis hulle, maar vandat die algemene handelaar ‘n internetkonneksie het, Skype sy hulle weekliks. Dis veral vir haar kosbaar om nou gereeld haar kleinkinders te sien en hul stories te hoor. Sy laai ook selfoongeld vir die kleinkinders sodat hulle haar kan sms.

Terwyl sy terugstap kliniek toe reken sy uit dat Simon haar amper vier weke laas gesms het, en ook die laaste paar Skype-sessies misgeloop het. Sy moet tog vir haar dogter vra of alles reg is met hom en sy argitekstudies. Sy wil ook graag meer hoor van die meisie waaroor sy kliensus so graag vertel.

Agter die eerste rand sien sy ‘n liggrys rokie opkrul – die skool se kosvuur wat nou aangesteek is. Sy vryf haar hande teenmekaar om die koue te verdryf. Laasnag toe sy na die bevalling terugstap huis toe het die winternag soos ‘n kleed om haar gehang, haar asem lang wasems in die flitslig voor haar. Vanoggend op pad terug kliniek toe het die ryp wit gelê en het haar skoene oor die droë gras geknars.

By die kliniek is hulle vandag geen bevallings te wagte nie, en die klompie voorgeboorte-pasiënte is teen middagete al huis toe. Lydia verwag wel ‘n pasiënt wat haar kom spreek oor ‘n moontlike aborsie. Dis vir Lydia die moeilikste deel van haar werk, want vandat sy onthou is babas in die lewe bring haar passie. Omdat sy in so ‘n klein gemeenskap werk ken sy omtrent almal en geniet sy dit om die babas op te volg en te sien hoe hulle grootword.

Sy het egter ook oor die jare vele moeders teëgekom vir wie die geboorte nie ‘n vreugde is nie, en waar die baba slegs deur trane of ‘n stoїsynse masker begroet word. Sy weet uit ondervinding dat die redes daarvoor wydlopend is, en dat dié kinders se toekoms dikwels nie rooskleurig is nie.

Die wetmatige uitvoering van aborsies tot 12 weke deur vroedvroue is dus vir haar moeilik. Sy het dit egter as deel van haar plig opgeneem want die nagevolge van ‘n onveilige aborsie het sy ook al teëgekom.

In die klein dorpie is dit dikwels ‘n ope geheim wie vir ‘n aborsie aanmeld, en dus is dit gewoonlik vreemdes wat by hulle kliniek aanklop. Vanmiddag verwag sy ‘n verlangse familielid van die vrou wat agter die derde rand bly. Lydia het haar gister verseker die meisie sal welkom wees.

“Middag Tante, middag my kind,” groet sy toe sy instap in die spreekkamer. Die meisie glimlag strak, sit kiertsregop op die wit plastiekstoel, haar knieë fyn en benig deur haar denim jeans. Sy het ‘n modieuse groen top aan en met haar kort hare en hoë wangbene vertoon sy modelmooi. Die meisie se verlangse tante sit arms onder haar bors gevou, leun terug in haar stoel, voete wyd geplant onder haar lang blou romp. Sy knik net na Lydia, hou haar oë op die meisie gerig.

Lydia het begin deur algemene vrae te vra soos ouderdom, vrae wat nie privaatheid skend nie. Die meisie het egter begin rondskuif toe sy vra wat sy doen, en Lydia het die verlangse tante gevra om hulle te verlaat, vir die ondersoek.

“Ek’s ‘n student, fashion design, by DUT, Durban Institute of Technology,” sê sy. Amper neem Lydia se geselslus oor en sy wil vertel dat haar dogter ook in Durban bly, maar bedink haar. Sy neem die geskiedenis, bepaal haar bloeddruk. Toe sy haar buik ondersoek begin die trane oor die meisie se wange loop.

“Ek’t die pil gebruik, maar ek het brongitis gehad en antibiotika gedrink . . . ” snik sy.

“Hulle niemand jou gewaarsku antibiotika kan die pil nie laat werk nie?” vra Lydia. Die meisie skud haar kop, kyk op in Lydia se gesig en sê sag: “Ons is lief vir mekaar en het HIV tests gehad, so ons’t gedink die pil is genoeg”.

“Toemaar my kind,” sus Lydia, haar hand op die meisie se skouer. “Kom sit, dan praat ons verder.”

“Het julle oor die baba gepraat?”

“Ja Suster, ons het. Ons is altwee in ons tweede jaar. Ons gaan trou as ons klaar is, maar as ons nou ‘n baba het is ons studies verby. My ma en sy ouers werk hard om ons daar te hou, en ons kan hulle nie teleurstel nie.”

“Weet julle ouers?”

“Nee Suster, ons gaan hulle nie sê nie. Ek’t net my tante hier vertel, niemand anders nie. Ons is nie reg om nou ouers te wees nie, en ek wil hê my kind moet met ‘n pa en ‘n ma grootword. Ek weet hoe’t my ma alleen gesukkel.”

Die trane loop nou vryelik oor haar wange en Lydia gee ‘n snesie aan, staan op om ‘n glas water vir hulle albei te tap en kom sit langs die meisie.

Sy verduidelik die opsies wat sy het, van aborsie, aanneming, grootmaak deur familie, of dat sy of die seun hul studies vir ‘n jaar of wat onderbreek en werk om die kind te kan onderhou en later klaar studeer. Sy verduidelik die aborsie prosedure, en dat sy binne hierdie week ‘n besluit moet maak omdat sy amper 12 weke swanger is. Ook wat sy na die aborsie mag ondervind, van die lyfseer, en die hartseer.

Na ‘n tyd is die meisie rustiger en vertel Lydia meer oor haar eie omstandighede en Lydia weet dat sy waarskynlik met die aborsie sal voortgaan.

Die meisie was haar gesig by die wasbak en Lydia vra of sy wil hê sy moet haar tante van hul gesprek verwittig. Sy sê ja en Lydia roep die ou dame in en som hul gesprek op.  Sy beklemtoon dat dit die meisie se besluit is en beveel tog aan dat die jongmense hul ouers verwittig. Die meisie moet haar laat weet wat die besluit is en sê sy sal help om enige nodige reëlings te tref, groet hulle dan by die spreekkamerdeur.

Lydia is bly sy werk hier, en nie in ‘n besige kliniek waar daar so baie mense is om te sien dat mens nie tyd het om diepgaande individuele aandag te gee nie. Na sy nog ‘n paar moeders en hulle nuwe babas gesien het ruim sy en haar kollegas op en sluit die kliniek.

Sy stap verby die tuin waar die groenteklub-vrouens nog werskaf. Hulle groet en sy bly staan om te verneem na die ene se knie en daardie ene se bloeddruk.

“Weet Suster, my pyne’s minder vandat ek in die tuin werk.” Die klein vroutjie  buk stadig af en trek ‘n bossie wortels vir Lydia uit. “Dankie, ek sal dit vanaand eet,” groet sy.

Twee dae later is die meisie terug by die kliniek en vertel Lydia dat sy besluit het om die aborsie te ondergaan. Lydia maak weer seker dat sy die prosedure verstaan en doen dan die bespreking vir die volgende oggend.

Na afloop van die prosedure herstel die meisie in ‘n kamer met die enigste twee beddens in die kliniek. Die ander bed is leeg en en haar tante sit langs die bed by haar, hekel aan ‘n doilie. Daar is ook laatoggend ‘n bevalling en Lydia maak die deur dig toe sodat die pasgeborene se geluidjies nie deurdring na die meisie nie.

Later die middag neem sy die nageboortes na die plasentaput. Die opsigter staan terug, want hy is gekant teen aborsie en sy verwag dit nie van hom om nader te kom nie.

Na sy die wit poeier oorgestrooi het en die opsigter weg is gaan sit sy ‘n wyle onder die kaal wag-‘n-bietjie boom langs die kliniek, verloor haar gedagtes in die takpatrone wat die middagsonnetjie op die grond gooi.

Vandag wens sy dat dit nog die ou stelsel was toe hulle die oorskot moes begrawe het. En sy wens dat sy die meisie eerder met ‘n baba in die arms kon afsien. Maar, miskien is dit tog beter so, dat die meisie en haar maat anoniem met hul lewens aangaan en met ‘n gesin begin wanneer hulle daarvoor gereed is.

Sy hoop hul verhouding oorleef dié wintersdag.

Sy besluit om direk na werk haar dogter in Durban te Skype, om die plesier te hê van hul geselskap en die kleinkinders se nuus te hoor. Sy wil sommer ook vir Simon die kop was omdat hy haar so lanklaas gekontak het.

Sy gaan sit in die handelaar se internetkamer en strek haar bene onder die tafel in, skop haar skoene uit. Haar tienjarige kleindogter beantwoord die lui van die groen Skype-telefoontjie, klap haar hande van plesier oor die onverwagte oproep en veral omdat sy die enigste ene tuis is. Sy vertel van haar rol in die skool se konsert volgende week, tol en draai  soos ‘n ballerina op die skerm, armpies gestrek bo haar kop en Lydia lag saam met haar. “Mamma, hulle‘t inkopies gaan doen,” vertel sy dan.

“En Simon?” vra Lydia. “Nee, hy is nog by DUT. Maar,” en haar stem slaan na fluister oor: “Hy is baie sad want sy girlfriend is weg.” 

Op Lydia se “Hoekom is sy weg?” trek sy haar skouers op: “Ek wee’tie, hy sê sy kuier bietjie by haar tannie.”

“Wat is sy girlfriend se naam?” Toe Lydia die naam hoor kan sy nie verder gesels nie. Sy sê afgetrokke totsiens vir haar kleindogter, wens haar voorspoed toe met die konsert, druk die rooi Skype telefoontjie en sien haar kleindogter verdwyn.

“En nou Suster Lydia?” verbreek die handelaar die stilte. “Ag Mister George, familiedinge.”

“Kom sit by die vuur dan maak ek vir jou ‘n koppie rooibos.”

In sy kantoor sak Lydia terug in die sagte leunstoel, die bruin leer al geskif van jare se gebruik. Sy en die handelaar ken mekaar al lank en respekteer ook mekaar se stilswye.

Miskien eendag, maar vir nou kan sy niemand vertel dat sy vandag haar kleinkind moes laat gaan het nie. Dat sy hom met wit poeier moes bedek, in plaas van toevou in ‘n wit kombersie, een van dieselfde kombersies waarmee sy gewoonlik die nuwe babas huistoe stuur.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top