Toespraak van die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad by die ATR se taaldagvieringe
George, 15 Augustus 2012
Dit is inderdaad ’n goeie tyd vir Suid-Afrikaners. Ons atlete is pas terug vanaf die Olimpiese Spele met ’n handvol medaljes (ons almal het geweet 12 medaljes is darem net te optimisties) maar ses medaljes is heel aanvaarbaar, dankie – dis die beste sedert Suid-Afrika hertoegelaat is tot internasionale sport. En pas is die omstrede taalwetsontwerp verlede Dinsdag in die parlement ingestem. Hierdie stap is allerweë bestempel as "’n triomf vir tale". Laat my toe om kortliks die agtergrond te skets.
Vroeër was ons, soos menige ander party en groepering vir wie Afrikaans na aan die hart lê, hewig teen sekere bepalings in die wetsontwerp gekant weens ’n omstrede klousule in die Talewetsontwerp wat Afrikaans kon benadeel. Hiervolgens sou staatsdepartemente dienste moes verskaf in minstens drie tale – waarvan twee voorheen benadeelde, inheemse tale moes wees. Na ons mening sou die praktiese implikasie wees dat die regering Engels, ten koste van Afrikaans, as die derde taal kon kies, omdat die meeste Suid-Afrikaners Engels verstaan. Ons het gevolglik aangevoer dat die bepaling ongrondwetlik is en het dit so aan die regering deurgegee – by die amptelike vergadering in die parlement op 17 Januarie, maar ook by verskeie ander geleenthede waar ek en die vorige voorsitter, Wannie Carstens, agter die skerms met die ANC vergader het. Wat daarna gevolg het, was dat die Departement van Kuns en Kultuur in ’n onverwagse wending ’n “makker” bewoording voorgestel het: die voorgestelde nuwe bewoording het bloot vereis dat nasionale staatsdepartemente en staatsondernemings minstens drie landstale gebruik “met inagneming van hul plig” om voorheen benadeelde tale prakties te bevorder. Dit was grondwetlik minder aanvegbaar.
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het die nuwe voorstel verwelkom. “Dit is ’n teken van versoening” en “Die nuwe wetsontwerp lewer ’n groot bydrae tot veeltaligheid in Suid-Afrika,” het ek aan die media gesê. Deel van die helingsproses, uit ons oogpunt, is die behoefte om te verseker dat daardie tale wat in die verlede doelbewus gemarginaliseer is, veral die inheemse Afrika-tale, gelyke status ontvang en ontwikkel word tot op die vlak van die ander, dominante tale.
Dames en here, laat my toe om u daaraan te herinner dat dit die eerste taalwet in die geskiedenis van Suid-Afrika sal wees wanneer dit gepromulgeer word. Verder: artikel 6 van die Grondwet gaan die regering verplig om inheemse tale te bevorder. Maar dit bly steeds ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat tale gekies word wat die streekdemografie in ag sal neem. In hierdie opsig sal die nuwe Talewet ’n deurbraak vir alle amptelike tale wees, spesifiek inheemse tale wat voorheen benadeel is. Die ATR se oogmerk is dat die wetsontwerp sal verseker dat alle Suid-Afrikaners regeringsdienste in die amptelike taal van hul keuse sal ontvang.
Dames en here, ek wil vanaand ’n beroep doen op almal om deel te word van hierdie positiewe, konstruktiewe gesprek. Ek het hier bo vir u gewys wat konstruktiewe gesprek kan vermag. In ’n vorige skrywe het ek verduidelik waarom die ATR met die ANC praat, terwyl baie ander organisasies botweg geweier het om aan die gesprek deel te neem. Ons kon so maklik vanaand begrafnis gehou het oor Afrikaans, maar in plaas daarvan word ons taal vanaand gevier met al sy variëteite en sprekers, met ander woorde op ’n inklusiewe wyse.
Die skeiding tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes is nog lewensgroot, die feeskaartjies van party feeste onbereikbaar vir baie, en dikwels wonder ek, soos Danny Titus, onwillekeurig of die wit Afrikaanssprekende se wêreld en die bruin Afrikaanse een ooit by mekaar sal uitkom. Danksy die goeie werk van die George-gemeenskap en leiers soos Pierre Theron, sien ons vanaand dit is wel moontlik. Want wat, liewe vriend, vra Christo van der Rheede, help dit as jy sê ek is deel van ’n inklusiewe gemeenskap, maar jy is eintlik in die stilligheid besig om jou eie ding te doen in belang van jou eie gemeenskap?
Binnekort (op 12 September) gaan ons Adam Small se Hertzogprys vier. Die oorlewing van Afrikaans (sê Badenhorst) hang nie af van wat op Stellenbosch gebeur nie, maar van die vergewensgesindheid van ’n Adam Small wat bereid is om ’n Hertzogprys dekades nadat hy dit verdien het, te aanvaar – dit nieteenstaande, soos hy skryf, "dinge wat steeds, elke dag, nee, elke oomblik van elke dag, soos ’n rasper, pynlik oor ons gevoelens skraap". Baie Suid-Afrikaners, wit, bruin en swart, moet natuurlik nog die kopskuif maak, of ’n bevrydingsprong doen na ’n inklusiewe Afrikaanse gemeenskap. Wat is witwees? vra Lynette Francis in Praat Saam op die Woordfees. Witwees is uit! Net soos bruinwees en swartwees. Menswees is in!
Ek wil afsluit met ’n ou gesegde: die beste tyd om ’n boom te plant, is 20 jaar gelede. Die tweede beste tyd is nou. Ons moes hierdie aande dus al 20 jaar gelede gedoen het. Maar ons het nie. Ongelukkig kan ons nie die verlede verander nie. Ons kan egter wel ’n verskil maak aan die toekoms. Daarom moet ons vandag ’n boom plant vir Afrikaans. ’n Boom soos die kokerboom, waaronder ons almal kan skuil in moeilike tye, ’n boom waar alle sprekers van Afrikaans hulle tuis kan voel. Want, dames en here, óf ons maak Afrikaans ’n inklusiewe in ding, óf Afrikaans word self ’n verstoteling. Die tyd is nou.
Michael le Cordeur
Voorsitter ATR
15 Augustus 2012

