Plaasmoord: Dis ’n bliksem van 'n boek

  • 0

Titel: Plaasmoord
Outeur: Karin Brynard  
Uitgewer: Human en Rousseau
ISBN: 9780798151160
Bladsye: 512

 

Karin Brynard het met ’n moerse donderslag die Afrikaanse letterkunde betree. Plaasmoord is dik, dis spannend en dit lees lekker. Ek het by tye my ander werk afgeskeep omdat ek nie kon wág om weer by haar karakters uit te kom nie.

In ’n onderhoud met Melt Myburg, beskryf Brynard ’n spanningsroman só:

Dit gaan oor ’n raaisel. Wat opgelos moet word. En tot dit nie gebeur nie, is dit soos die jolliejeuk, netjies op daaaaaaaaai kolletjie van jou rug wat jy nooit kan bykom nie. Jy sal lieg of vloek en steel om tyd te maak om uit te vind wie’s die maaifoedie.

Ek kan dit nie beter stel nie. En dis presiés wat Plaasmoord regkry.

Die storie

Die openingstoneel skok. Bert Beeslaar, die baasspeurder, word na ’n moordtoneel ontbied. Die slagoffers is ’n jong kunstenaar, Freddie Swarts, en haar vierjarige, aangenome dogter. Albei se kele is afgesny en Freddie se lang, blonde hare is in stomp happe afgeknip – voor sy doodgemaak is.

Dié voorval volg kort na twee skaapwagters ook wreed vermoor is tydens ’n reuse-veediefstal.

Bert Beeslaar en sy twee speursersante moet nou die fort hou, die moordenaars opspoor én die regse boere daarvan weerhou om amok te maak.

Soos die storie ontvou, besef ons Beeslaar se voete is ook maar van klei. Daar is geraamtes in sy kas en hulle ratel skielik weer. Dit help dus nie dat sy diknekbaas (swart) nie veel daarvan hou dat hierdie (wit) speurder altoos sy eie kop volg nie. Dan is daar die twee (bruin) sersante wat maar swaarkry onder Beeslaar se stugge, soms beestelike manier van doen.

Voorts het die polisie heeltemal te min toerusting om werklik hulle plig uit te voer.

Klink dit eg Suid-Afrikaans? Inderdaad.

Brynard los jou egter nié met ’n gevoel van onmag nie. Inteendeel. Die manier waarop sy al hierdie goed saamtrek tot by die punt waar daardie jeukerige kolletjie gekrap word, laat jou trots voel op onse mense – op die polisie en op ons Afrikaanse skrywers. Wragtig.

Die karakters

Bert Beeslaar, die speurder, is ’n interessante knaap. Hy is groot en sterk soos ’n bees en soms kan hy beesagtig voortdôner (dink bulle en porselein). Hy is hard op sy onderdane. Tog, diep binne-in hom is ’n baie fyn mens. Kyk net wie koop kos en komberse, uit sy eie sak, vir die arm, hawelose drommels in die polisieselle. Let ook op hoe hy werklik moeite doen om die jonger speurders op te lei en kanse te gee – al kook hy soms oor wanner hulle foute maak.

Speurders Ghaap en Pyl is eweneens baie interessant. Hulle word dikwels deur Beeslaar se oë aan ons bekendgestel. Tog, ten spyte van Beeslaar se ferm houvas op die teks, begin hierdie knape ontwikkel. Hoe verder die storie vorder en die lyke begin ophoop, hoe meer kom die twee speurders tot hulle reg. Selfs die diknekpolisiebaas word al hoe ronder (in amper alle opsigte) soos die storie vorder.

Die name in Plaasmoord is interessant. Beeslaar se gepaste naam het ek reeds ondersoek. Ghaap is die volksnaam vir Hoodia gordonii, ’n vleisvretende plant wat as geneesmiddel (en eetlusonderdrukker) gebruik word. Sersant Ghaap het inderdaad ’n genesende invloed op die span. En ’n pyl, nouja ...

Ag, ek kan baie vertel oor die ander karakters ook. Dam de Kok (die naam is ’n opsetlike verbuiging van Adam Kok) is een van die interessantste karakters wat nog in Afrikaans geskep is. Hy is klein, vlugvoetig en hoogs gekultiveerd. Dam het sy eerste tien jaar in die veld deurgebring as ’n tradisionele Boesman. Toe is hy skool toe en die kinders se gespot het gemaak dat hy meer Westers geword het as die wittes van die streek. Dit is egter wanneer hy hierdie twee wêrelde met mekaar laat praat dat hy volledig mens word.

Die vrouekarakters in Plaasmoord is eweneens noemenswaardig. Freddie, die kunstenaar wat vermoor is, was ’n baie sterk figuur wat, vrou-alleen, ’n paar van die boere in die omgewing lelik op hulle neuse laat kyk het – en tog was sy so ontsettend weerbaar.

Freddie se sus, Saar, ontwikkel ook mooi deur die loop van die storie. (Sy’s nogal mooi – Brynard het ’n oog vir ’n vrou!)

Nelmarie Viljoen, die sakereus van die streek, is óók ’n katjie wat nie sonder handskoene aangedurf moet word nie.

Ek sou kon aangaan, maar dit sal vervelig word. Van belang is die feit dat Karin Brynard se karakters ménse word. Jy word kwaad vir hulle foute, voel jammer vir hulle as dit sleg gaan en slaak ’n sug van verligting as jy dink hulle het die dood vrygespring.

Ook die regse karakters in die boek word met deernis behandel. Hulle vrese en ideale word op ’n menslike manier aangespreek.

Die storie ágter die storie

Brynard is ’n formidabele joernalis. Dit is dus nie snaaks dat haar navorsing besonder goed gedoen is nie.

Na die skokkende openingstoneel (dis rof), gryp die storie jou. Die pas is vinnig en jy kan nie help om net nóg ’n hoofstuk te probeer inpas voor jy moet slaap nie. Al is dit ’n baie dik boek (512 bladsye), is daar nêrens ’n dowwe kol of ’n onnodige stuk inligting nie.

Brynard gebruik slim truuks om die navorsing aan die leser oor te dra. Tipies joernalis gaan haal sy die oorsake van plaasmoorde ver, maar al die feite word baie netjies in die storie ingewerk.

Plaasmoorde is emosionele goed. Hulle is dikwels wreed. Maar hoekom vind hulle plaas?

Brynard se Plaasmoord probeer hoegenaamd nie ’n lesing lewer oor die oorsake nie, maar wat ons wél kry, is ’n baie interessante perspektief op één plaasmoord en die moontlike redes waarom mense hierdie vrou sou wou dood hê. Ons kom ook baie gou agter dat talle wit mense moontlik óók redes sou hê om haar te wou doodmaak.

Grondeise en die vrese van boere aan wie die grond behoort, is ’n enorme deel van die Suid-Afrikaanse psige. Ná Zimbabwe se fiasko en voortdurende dreigemente uit die mond van ’n nar soos Julius Malema kan ’n mens nie anders nie as om jou hart vas te hou vir die toekoms van landbou in Suid-Afrika.

Maar grondeise het ’n ander sy ook. Wie is die eisers? Hoekom eis hulle? Ja, dikwels is dit kansvatters, maar wat as hulle wél legitieme eise het? Sonder om vir een oomblik te vergeet dat sy ’n storie vertel, kry ons ’n enorme hoeveelheid inligting oor die redes waarom grondeise plaasvind, die vrese van die boere, die vrese van die plaaswerkers, die sienings van die regses en die helse stuk geskiedenis van ’n tyd toe Boesmans soos wilde diere geskiet is. Selfs die rol van die kerk in ons droewige grondgeskiedenis word blootgelê. Ook die mites van die San kom ter sprake, en die geskiedenis van die Griekwas, ’n totaal miskende klomp mense, word aan ons bekend gestel. (Brynard se navorsing oor die San, die Griekwas en hulle onderskeie mitiese figure herinner nogal aan die verhale van George Weideman.)

Iets wat my ma sal geniet

Ek het eenkeer, in ’n resensie van Carel van der Merwe se Geldwolf, genoem dat my ma my uitgedaag het om ’n aantal eg Suid-Afrikaanse romans deur moderne, hedendaagse skrywers aan te beveel. Geldwolf was een van die romans wat ek beslis op die lysie gesit het. Plaasmoord is nog een. My ma gaan dit op haar bedkassie kry wanneer sy die einde van die maand kom kuier.

Karin Brynard het ’n uitstekende roman geskryf oor ’n onderwerp wat baie, baie diep sny in ons Afrikaanse psige (verskoon die woordspeling – ek kon dit nie verhelp nie). Daar is vele lyke (die meeste is met messe vermoor) en liters bloed.

Tog. Ten spyte van al die bloed, kan ek nie anders as om te dink dat hierdie boek ’n  positiewe gevoel het nie. Die mengsel van spanning, geskiedenis en aktuele nuuswaardighede maak van Plaasmoord ’n grootse roman.

Plaasmoord sal in enige boekliefhebber se smaak val. Spanningsvrate sal hulle toonnaels kou van die lekker; letterkundige lesers sal weer die historiografiese detail geniet. Anders as in André P Brink se Inteendeel word hier egter geen ontluistering van die teks gebied nie. Hier word bloot ’n storie vertel.

Bloot ’n storie, sê ek? Jip. En dis ’n storie wat jou gaan laat lees en lees en lees. Ek het gesukkel om hierdie boek neer te sit.

Dis ’n bliksem van ’n boek.

Koop Plaasmoord, lees dit en gee dit weg as die swaarste pakkie in hierdie jaar se Kerskous!

(Terloops, Melt Myburg se onderhoud met Karin is ’n moet. Lees gerus!)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top