"Plaaskind" deur Diana Janse van Rensburg

  • 0

Plaaskind

Ek’s gemaak van stofpaaie en 'n sandsteenkraal
ek’s gemaak van ou whiskey en 'n bokskitaar

Maar dis jy, dis jy my meisiekind
dis jy wat al hoe meer in my gedagtes insink

Ek’s gemaak vir my dieselhande, rooigrond
en Milo my hond
gemaak vir lentereën, mieliepap
en wag vir God se seën

Maar dis jy, dis jy my meisiekind
sal jy tog ooit in die plaas se stilte kan verdrink

Ek’s gemaak vir saai, plant en oes
jare en jare se roes
ek’s gemaak vir stilte, droogte
die grond is my gemoed

Maar vir jou, vir jou sal ek kom haal
in die stadstrate waar ek verdwaal
Maar vir jou, vir jou sal ek kom haal
en jou betonhart gemeng met staal
sal verkrummel in die stroper se maal

Want dis jy, dis jy my meisiekind
dis jy waar ek tussen stof en reën my hart kan vind

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top