Piramides van Giza

  • 0

Ek het die eerste ontmoeting met hierdie oeroue wonders en onderwerp van menige spekulasies heeltemal anders voorgestel. Ek het verwag ek sou soos ’n sfinks uit die sand verrys, alleen, die wind wat liggies deur my hare speel en hulle van aangesig tot aangesig aanskou. Dalk sou daar in die agtergrond Beethoven of Bach speel en sou ek op daardie oomblik die antwoorde van die heelal bekom. Die Piramides van Giza sou my vul met hul geheime en ek sou ’n vir altyd net so ’n entjie bo my eie liggaam sweef.

In plaas daarvan was ek in die middel van ’n voorstedelike straat in ’n taxi. Dit was warm en ek was platsak. As dit nie was vir Alibaba, ons vriend van Dahab, wat vir my en my vriendin van Engeland belowe het om ons teen spotgoedkoop in sy minibus na Kaïro prys te vervoer nie, sou ek sekerlik nie eers hier gewees het nie. Die getoeter van motors was al wat mens hoor. Dit was asof die bestuurders in Kaïro toet as hul wil draai, toet as hul wil ry, toet as hul wil stop. 

Vroeër die dag het ek en Harriet met ons rugsakke in Kaïro aangekom. Ons kon skaars langs mekaar op die sypaadjie loop. Die stad was propvol mense. Ons is aangeraai om in ’n hotel met billike pryse tuis te gaan. Hoewel ons ’n kamer moes deel met twee vreemde Switserse toeriste, was dit die lekkerste bed wat ons in maande gehad het. Dit was ook die eerste keer in drie maande wat ons in ’n spieël gekyk het. Ons tande was bruin! Ons het besef dit is Egiptiese gasvryheid se skuld.  By elke winkeltjie was ons hartlik ingenooi en tee aangebied. Ná die eerste koppie tee, besef mens gou om nie jou laaste sluk te groot te neem nie. Los maar die blaartjies onderin die koppie, waar hulle hoort. Die eerste aand in Kaïro het ek heelaand tande geborsel.

Ons taxibestuurder het ons afgelaai by die dorpie van Giza en gereël dat ’n gids ons op ’n kameelrit deur die woestyn neem. Daar was net ’n teerpad wat die dorpie van die woestyn skei. Ons het ons gids versigtig deur die nou, hoë gangetjies al hoe dieper in die doolhof gevolg. In ’n stadium het ek iets agter my hoor ritsel. Toe ek omkyk, was daar ’n groepie van ses kinders agter ons. Dadelik het hul begin skree: “Hallo!  Hallo!” Blykbaar het daar nog nie juis veel Westerse mense in hul dorpie gekom nie.

Ons het uiteindelik by ‘n deur van een van die eenvoudige huisies gestop.  ’n Arabiese man en sy twee gesluierde vroue het ons gegroet. Die man het ons ingenooi. Ek en Harriet wou nie onbeskof wees nie, maar het maar met effense vertwyfeling ingestap. Die vertrek was klein en karig gemeubileer. Daar was ’n tafeltjie in die een hoek en kussings op die grond. Ons het in ’n kring op die kussings gaan sit.  Die vrouens het vir ons tee en ’n shisha aangedra. Ons kon mekaar nie verstaan nie. Die man het wel bietjie gebroke Engels gepraat. Glimlagte was die vorm van kommunikasie en dit was salig. Geen geld in die wêreld kon daardie oomblik koop nie. 

In ’n stadium het een van sy vrouens begin giggel en ek vra die man wat sy gesê het. Die man antwoord: “She says you have got Egyptian in you.”  Dit is ’n oomblik wat my dadelik aangegryp het. Van die oomblik wat ek in die bus oor die grens in Egipte aangekom het, kompleet met hoenders op die dak, was die gevoel daar – ek was tuis. Miskien het ek in ’n vorige lewe hier in Egipte gewoon. Verbeeldingswêreld word realiteit, so magies was die ondervinding. Kort daarna het ’n man met twee kamele aangekom. Dit was die eerste keer wat ek ’n kameel van naby sien, wat nog te sê op een ry!  Harriet het die voorreg gehad om agterop saam met ons gids te ry.  Ek moes maar self sien kom klaar.

“Ggg!” het ek die onaardse geluid gemaak wat die kameel laat reageer het. Hy het liggies begin galop en ek het in Afrikaans geskree: “Pas op! Pas op!” vir al die kindertjies wat nog steeds saamgedrom het. Ek het vir die wasgoedlyne wat van die een hoë gebou na die ander in die nou gangetjie gespan is gekoes en my oë toegeknyp vir die paar vrugtestalletjies wat weerloos in my pad gestaan het. Ek verbaas my tot vandag toe vir die ongekende ligvoetigheid van my kameel. Toe ek my oë oopgemaak het, galop ons oor die teerpad en die woestyn in. 

Ná die eerste bult het ek besef ek is weer in my droomwêreld. Sover ek kan kyk, is dit net duine. Die son sak in die verte en in die laatmiddaggloed galop ’n perd in die verte oor ’n duin.  Asemrowend.  Die regte sfinks verrys en die piramides doem soos iets bonatuurliks op. Ek sit terug op my kameel, bekyk die wêreld van oos na wes, suid na noord, en besef hierdie is die oomblikke waarvan léwe gemaak is.

 

Lees nog van hierdie fiksie-kompetisie.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top