Pionierslente

  • 20

Foto: Pixabay

My boompie staan nou al twee meter hoog en maak ’n lekker dik bos. Sy groen blare blink – donkergroen en ligter groen blare, ’n aantal het selfs ’n rooierigheid in – en hierdie lente maak hy vir die eerste keer knoppies in trossies van drie en vyf. Ek was opgewonde toe ek sien hy het hierdie jaar knoppies en ek gaan byna elke dag kyk om te sien of hulle groter word en oopgaan.

Kort na ek hom vier jaar gelede geplant het, het ek gedink hy gaan dit nie maak nie want ons groot hond het sommer bo-oor hom geloop soos sy, ’n lewerkleur-Doberman, in die tuin rondsnuffel. Met die hond se gewoel daar het die hoofstammetjie morsaf gebreek en ek het gedink dit sal maar ’n triesterige ou boompie wees as hy ooit weer groei. Tog het hy ’n lieflike boompie geword en ek voel skoon trots. Ek was nooit juis ’n tuinier nie, ek het nooit tyd gehad daarvoor nie, nou is ek egter afgetree en ek het baie tyd en ek het ’n hele paar plantjies in die grond gesit. Hierdie boompie groei die beste. Dit laat my skoon soos ’n pionier voel wat vir die eerste keer in ’n voorheen ongetemde land die grond omgeploeg het en sy saad sien opkom!

Toe ek die plantjie by die kwekery koop het ek nie eintlik geweet wat dit is nie. Die naam op die plastiek houer was "Australian Bush Cherry", maar ek kon dit nie in verband bring met bome wat ek al in mense se tuine gesien het nie. Want mens ken tog eintlik nie die name van al die plante wat jy oral om jou sien nie. Nou sien ek op die internet dit is ’n Australiese boompie wat klein eetbare vruggies dra. Dit is nie werklik kersies nie, die rooi en groen vruggies lyk vir my eerder na miniatuur appeltjies.

Nou mag iemand vra waarom ek ’n uitheemse boom plant. Die feit is ek soek nog na geskikte inheemse boompies en ek reeds ’n oulike doringboompie wat fluks groei. Maar vandag is hierdie Australiese boom my inspirasie omdat hy so mooi en vars lyk en regmaak om sy eerste vruggies te dra.

Soos gesê is tuinmaak vir my ’n nuwe avontuur, ek voel soos ’n pionier wat van nuuts af die aarde moet leer ken en dit laat my dink aan die vroeë pioniers van ons land. Die boere ( voortrekkers) wat in die onbekende binneland inbeweeg het, met vrouens en kinders en alles wat hulle kon saamvat en wat op onbekende, ongetemde plekke gevestig en begin boer het. Huise was daar nie, hulle moes bou met materiaal wat hulle uit die omgewing kon insamel, hulle eenvoudige ploeë het grond oopgekloof wat in die meeste gevalle vir miljoene jare braak gelê het. En hulle moes talle wilde diere en siektes trotseer.

Ook die Engelse pioniers, soos die setlaars wat na die Oos-Kaap gekom het en in ongetemde dele afgelaai is, met feitlik niks. Dink net daaraan: hulle het met klein, onveilige skepies oor die groot oseaan gekom na ’n totaal vreemde en nog grootliks wilde land, en hulle is daar neergesit met amper niks om die aarde mee te bewerk nie. Net basiese middels en saad is aan hulle verskaf op skuld, deur die Kaapse regering. Vir hulle was daar ook nie huise nie, elkeen moes vir hom en sy gesin van die grond af iets tot stand bring. Ek het gelees dat party mans sommer ’n groot gat in die grond gegrawe het met ’n dak daaroor en dit moes as tydelike blykplek dien. Tussen hierdie setlaars was daar egter ’n aantal vakmanne – van steenmakers tot bouers en skrynwerkers – en hulle kon gou begin om goeie huise te bou vir diegene wat dit kon bekostig. Die meeste was egter arm, hulle moes leef van wat hulle uit die aarde kon optower en die bietjie vee wat hulle kon koop met geld geleen by die regering.

In die nuwe Suid-Afrika is dit nou wéér pionierstyd. Omstandighede het drasties verander vir almal, daar is ’n totaal ander regering, die verhoudings tussen die verskillende bevolkingsgroepe word nuut gedefinieer. Dit is vir ons ’n vars, nuwe lente, die kans is daar om nou te bou aan ’n goeie toekoms vir almal. Ons moet deeglik besin en saamspan om vrede en voorspoed te produseer, sodat ons die toekomstige winters saam kan trotseer. Want so seker as wat die seisoene gereeld verander en daar ’n somer, herfs en winter volg op elke lente, net so seker kan ons daarvan wees dat daar in die toekoms weer moeilike tye sal aanbreek. Hetsy dit die ekonomie mag wees wat ’n knou kry, hetsy daar ernstige droogtes en groot vloede kom, hetsy dit die vreeslike misdaad gaan wees wat dreig om ons te oorwin, ’n winter sal daar wel weer wees. Daarom moet ons hierdie lente gebruik om te bou aan verhoudings, om die land te versterk op alle gebiede, sodat ons gemaklik ’n kwaai winter kan deurstaan. Tot ’n volgende lente en lank daarna.

Veral vir ons Afrikaners is dit belangrik om ons plek nou in hierdie land uit te kap, want ons taal word bedreig soos nog nooit voorheen sedert dit ’n amptelike taal geword het nie. Die bedreiging is nie soseer weens kwaadwilligheid teen ons nie – hoewel ek glo dat talle TV programme soos die oor die Soweto opstande wel daartoe bydra om gevoelens op te stook – maar die grootste bedreiging lê myns insiens daarin dat die oorgrote meerderheid mense Engels verkies en dat selfs baie Afrikaanse mense onverskillig staan teenoor hulle taal, asof hulle nie omgee nie of nie moeite wil doen om hulle taal behoorlik te gebruik nie.

Ons Afrikaanses verdien ’n plek in hierdie land. Die saadjie vir ons taal is al meer as drie honderd jaar gelede hier geplant, talle nasies het bygedra om dit te laat groei, deur talle oorloë het ons gekom tot waar ons nou is: maar ons sal nou weer hierdie lente moet aangryp om sy toekoms te verseker. Want sonder ons taal sal ons ook nie meer Afrikaners of Afrikaanses wees nie maar iets anders – nugter weet wat – en wat mý betref sal dit nie deug nie.

Ek moet my boompie ook versterk met ’n bietjie bemesting en baie water. Een takkie is swart van die dopluise en ek sal iets moet doen om dit uit te roei, soos ons ook die kwaad in ons geledere moet uitroei.

  • 20

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Dopluise, kopluise, 'n luis bly 'n parasiet, 'n plakker wat sap suig. Dalk moet jy 'lady bugs' of miere kry, as predatore? Of 'n "bidsprinkaan"?

  • Bly om te lees jy het 'n tuinier geword. Jy kry baie inkommers wat sommer die vorige eienaars se pragtige stukkies bos, voor die voet uitkap omrede dit kwansuis sou slange lok.
    Jou boompie lyk na 'n "cherry guava" of dan 'n familielid daarvan. Wikipedia kan vir jou meer inligting gee.
    Terloops, ek het omtrent 7 verskillende inheemse bome in my tuin.
    Ek gebruik "Blue Death", 'n poeier wat vir al wat lastige insek is maagwerkings gee en hul lus vir knaag net daar stopsit.
    Lekker plant.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Tiens, die boom moet organies groei. Los die luise, die boom is gehard en sal voëls lok.
    Hier in die karoo kan mens nie torre, spinnekoppe, skerpioene, vleirotte of slange uitroei nie. Al waaroor ek 'n obsessie het, is kakkerlakke en ek roei hulle uit.

  • Hans, a nee a!
    Ons praat van ordentlike plante, nie die ganna- en hondepisbossie vandaar uit die Noord-Kaap-Karoo nie.
    Voëls vlieg ver om dopluise.

  • Avatar
    Tiens Pretorius

    Raed-na-Gael, ek het twee spekbome wat mooi gegroei het, maar my nuwe tuinier het hulle so gesnoei dat hulle skaars herkenbaar is.

    Hans ek het geitjies in die huis, hulle roei al die kakkerlakke uit.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ai Raed-na-gael, daai geel kraalbosse is meer Kaap se kant toe. Hier het ons darem kameeldoringbome, haak-en-steek en gannabosse.
    Tiens, jammer om te hoor van jou kokkerotprobleem. Hier is ek bang vir spinnekoppe, viool-, sak- en bobbejaan-. Die skerpioene kan 'n man ook seermaak ... Die swart akkedisse, grondgeitjies/koggelmanders is welkom op my stoep. So voer ek ook die swartbaardvinkies, wat hul ontbyt en aandete kom eis ... Die flappervlieëvangers floreer op die sprinkaantroppe na bogemiddelde reëns.
    Ek is net vrek bang ek loop dalk geelslang in die nag raak, gelukkig is dit nou kouer. Sal moet begin wolonderbroeke dra, as dit leeukoud en tierkoud word, anders eis die koue ook sy tol by my ... Jy weet mos leeukoud is wanneer jy net maanhare sien en tierkoud is wanneer jy net geritsel in gras hoor ...
    Daardie blomgranaat kan jy net met mengelsel van skottelgoedseep en kookolie spuit vir luise.

  • Ekself het twee spekbome wat seker al so 'n meter of wat groot is. My nuwe tuinier is sowat 'n jaar in diens nadat die vorige spesialis met 18 jr diens en ondervinding, tydens die eerste covid-19 "lockdown" hom aan die pers dop gaan staan en vergryp het.
    Die nuwe raak nog nie aan 'n snoeiskêr nie.
    Geitjies is ok, maar net buite die huis. Dis darem maar 'n gesukkel om daardie droë geitjiestront bo teen die muur en plafon af te was. Die laaste week of wat is ons geslaan met vele kleintjies - is dit nou hul "broeityd"? - ek laat hul duidelik verstaan dat hulle glad nie welkom in die huis is nie.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Raed-na-gael, die grondgeitjies skyt darem erg. In die winter raak hulle weg hier in die karoo. Angus, daai Durban-kokkerotte is seker geheim in die kerrie?

  • 'n Doringboom, tag, laat my dink aan daardie doringboompie, weer regop gekom. Sal ons Taal dit maak?
    Plant 'n Melkhoutboom (Sideroxylon inerme) . Hy is beskerm.
    Ek het, myne staan al seker drie meter en welig. Hom as 'n kleinplantjie (saailing) hiernatoe gebring en gepamperlang en hy wys dit.
    Hy is mos immers die eerste onder wie die Taal sy wortels geskiet het, sou ek sê.

  • Hans, solank die kerrie net lekker smaak, wat maak dit saak? Wat die oog nie sien nie, deer die hart nie.

  • Hans,

    Vir wat bly jy so tussen die dorings en vashaaktakke?

    Laat my dink aan daai ou wat die doringtak deurgetrek gekry het en die ander ou wat gekla oor die doring in sy vlees, maar dat hy dit vat.

    Ek het ook die Kiepersol (koolboom) - die suider-Afrikaanse een - Cussonia spicata en "Drakensberg" geelhout (Afrocarpus latifolius).

    Dra jou snoeiskêr saam sodat jy die hake en takke en wag-'n-bietjie kan knip.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Angus, die Swarthaak en Haak-en-steek is mos daai Absalom bome, wat droogte oorleef en floreer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top