Titel: Pik Botha en sy tyd
Skrywer: Theresa Papenfus
Uitgewer: Pretoria, Litera Publikasies
ISBN: 9781920188337
Klik hier om Pik Botha en sy tyd te koop by Kalahari.com.
Dis ’n belangrike boek oor die oorgangspolitiek in Suider-Afrika. Dit fokus op die rol wat ’n enkele persoon – Pik Botha – as deelnemer gespeel het oor ’n tydperk van meer as vyf dekades.
Die boek is nie ’n outobiografie nie. Pik het dit nie geskryf nie. Dis Theresa Papenfus se storie oor Pik. Maar omdat Pik sy volle samewerking en bronne gegee en beskikbaar gestel het, lees dit soms soos ’n outobiografie. Papenfus het egter mededelings gemaak wat Pik waarskynlik nie in ’n biografie sou (wou) ingesluit het nie, byvoorbeeld meer intieme dinge oor homself. Maar biografieë is altyd beter as outobiografieë, omdat hulle meer in staat is om die “watte” en “hoekoms” in konteks te ontleed.
Dit was Papenfus se groot toets.
Slaag sy?
Oor Pik se privaatlewe is daar baie skinderstories, byvoorbeeld sy drinkgewoontes en voorliefde vir vroue. Papenfus skram nie daarvan weg nie. Pik bieg self wanneer hy verwys na katelkaskenades se “erotiese ritmes”, maar Helena, die moeder van sy kinders, het hom vergewe. Pik sê ’n mooi vrou se “hare, oë en lippe” het hom soms laat sondig. Maar sy passies het verder gestrek en het potjiekos, jag en ook poësie ingesluit. Hy het in 1997 ’n bundel kortverhale gepubliseer – en onthou, sy skoonsuster was die merkwaardige Elize Botha. Sy impromptu gedigte op die agterkant van sigaretdosies, briefhoofde en spyskaarte is kostelik en leesbaar. Dit het bewaar gebly en is in hierdie boek opgeneem.
Pik se loopbaan het ook humoristiese elemente bevat, alhoewel hy nooit doelbewus ’n grapjas was soos byvoorbeeld Hendrik Schoeman (voormalige landbou- en vervoerminister) nie. Papenfus vertel ’n amusante storie van ’n deftige ete in Switserland in 1986 toe iemand ’n ruiker pienk rose aan Helena oorhandig het. Pik het daaraan geruik en dit begin eet (’n mens moet net uitkyk vir goggas en insekdoders, het Pik glo gesê). Die gaste het begin giggel en oorkant Pik het ’n stywe dame gesit, behang met juwele – die soort wat “sop eet soos ’n skilpad water drink”. Toe Pik sy eerste hap aan die rose gee, verstik sy van skok en haar lepel val uit haar hand uit (ek wens ek kon dit gesien het).
Pik die politikus het baie dinge beleef. As volksraadslid en minister het hy onder John Vorster, PW Botha, FW de Klerk en Nelson Mandela gedien: in kort, Rhodesië, Suidwes, en apartheid. Hy het baie bewonderaars en skeptici gehad – onder die publiek was hy meestal baie populêr, maar omtrent nooit in die NP-koukus nie. En ten spyte van sy bewese vernuf as ’n diplomatieke onderhandelaar, het sy koukusmeesters hom nie vertrou met byvoorbeeld Kodesa-onderhandelings in die negentigerjare nie. Hy erken self dat hulle hom dalk nie vertrou het met die ANC nie.
In al hierdie hoedanighede het hy ook die Inligtingskandaal beleef wat veral betrekking gehad het op Connie Mulder en Eschel Rhoodie se onkonvensionele metodes om die beleid van afsonderlike ontwikkeling in die buiteland te propageer. Dis waarskynlik die Inligtingsepisodes wat Pik se loopbaan as ambisieuse politikus gevestig het. Hy self het Mulder en PW Botha geopponeer toe Vorster as gevolg van die einste Inligtingskandaal bedank het. Maar Pik het laaste gekom toe die NP-koukus in 1978 ’n nuwe leier moes kies. PW het gewen.
Dit was nie die laaste keer dat Pik in ’n leierskapstryd laaste gekom het nie. Toe PW Botha in 1989 ná ’n beroerte uitgetree het, was Pik weer eens laaste onder vier aspirante: FW de Klerk (wenner), Barend du Plessis en Chris Heunis het bokant Pik geëindig.
Hoekom?
Miskien is dit omdat Pik die basiese reël in die politiek, naamlik om nooit die woord “nooit” te gebruik nie, dikwels verbreek het. Alhoewel Pik byvoorbeeld feitlik altyd gepleit het vir die verwydering van diskriminasie (soos destyds die afsonderlike hysbakke en die afskaffing van die ontugwet en wet op gemengde huwelike), het hy vir baie lank afsonderlike ontwikkeling, veral die swart tuislande, verdedig (dis baie dieselfde as wat FW de Klerk in ’n onlangse CNN-onderhoud gesê het, en daarvoor verkwalik is), en een-mens-een-stem politieke stelsels verwerp (“nie môre nie, nooit nie”, Julie 1977). Tog voorspel hy reeds in 1986 ’n toekomstige swart president (’n opmerking waarvoor PW Botha hom gerepudieer het); in 1992 sê hy oor die BBC dat apartheid ’n sonde is; en in 1993 verklaar hy (die ewige optimis) dat die NP ’n meerderheidsregering in Suid-Afrika sou vestig nadat ’n demokratiese verkiesing gewen is. In 2001 was daar ook ’n groot gerug dat Pik by die ANC aangesluit het, maar jare later het hy dit ontken, veral nadat hy in 2007 in skerp briefwisselinge met Thabo Mbeki betrokke was.
Papenfus se implikasie dat Pik ’n sleutelrol met betrekking tot Mandela se vrylating in 1990 gespeel het, is ’n oorskatting van die werklikheid. Pik was nooit by die Niel Barnard-, Kobie Coetzee- en Willie Esterhuyse-inisiatiewe sedert 1987 betrokke nie. Hy was waarskynlik nie eens bewus daarvan nie.
Pik se grootste nalatenskap was egter nie as binnelandse politikus nie, maar as minister van buitelandse sake, ’n pos wat hy 17 jaar lank beklee het.
Die groot verhoog was altyd die skikking in Rhodesië, die Suidweskwessie, die oorlog in Angola, die onttrekking van Kubane en die onafhanklikwording van Namibië. Die apartheidkwessie het altyd gespook. Dan was daar ook die Nkomati-verdrag met Mosambiek in 1984, ’n vredesooreenkoms wat op inisiatief van Pik en sy amptenare vir ondertekening opgestel is.
Binne twee jaar, in 1986, is Nkomati egter in puin toe Suid-Afrikaanse steun vir Renamo voortgesit is en toe die Russiese vliegtuig van Samora Machel, Frelimo-president van Mosambiek, tesame met passasiers en bemanning binne Suid-Afrikaanse gebied digby die grens van Mosambiek en Swaziland in die grond vasgevlieg het. Feitlik almal sterf, die president inkluis. Na noukeurige ondersoek deur Suid-Afrikaanse, Mosambiekse, Russiese en Franse deskundiges dui alles daarop dat die vliegramp nie sabotasie was nie. Pik se dokumentasie soos beskryf deur Papenfus dui daarop dat die vliegtuig nie afgeskiet is nie, dat daar nie ’n verskuiwing van die lugbeheerbakens in Matsapa in Swaziland was nie, want die loodse het waarskynlik die Matsapa-bakens met die Maputo-bakens verwar, wat beteken het dat hulle wou land waar daar nie ’n aanloopbaan was nie, dat die Russiese loodse ook nie ag geslaan het op alarmwaarskuwings dat die vliegtuig te laag en te naby aan die grond gevlieg het nie. Dan was die hoofloods en ander Russiese bemanning ook besig om bier te drink. Die bandopnames van die vlug bevestig dit glo. Hierdie nuwe getuienis is seker die grootste scoop in Papenfus se boek.
Nou verskuif die terrein weer na Namibië, waar beslissende veldslae in Angola in 1987/8 plaasvind.
“Pik se projek”, SWA/Namibië, word in 1990 onafhanklik deel van ’n VN-plan (Resolusie 435 van 1987), wat dan ook Kubaanse onttrekking met ’n gelyktydige Suid-Afrikaanse onttrekking sou koppel. Dit, tesame met Nkomati, was waarskynlik Pik se hoogtepunte.
Nadat Pik se loopbaan as diplomaat en onderhandelaar in die vroeë negentigs tot ’n einde gekom het, sit hy sy rol as binnelandse politikus voort as deel van Mandela se regering van nasionale eenheid. Dinge sou egter nooit weer dieselfde wees nie.
Papenfus se boek beslaan 991 bladsye, waarvan 159 betrekking het op omvattende geskrewe bronnelyste, plakboeke en persoonlike onderhoude met Pik. Dit bevat ook eindnotas en ’n onderwerpregister. Dis ’n magistrale werk (amper te veel feite) wat ook redaksioneel goed versorg is. Dit lewer ook ’n nuttige bydrae tot die geskiedkundige en politieke vertolking van Pik en sy tyd.
Papenfus se biografie vul enersyds die biografieë aan wat oor Vorster, PW Botha, Chris Heunis en Dirk Mudge as die laastes van die blanke bewindhebbers geskryf is, en andersyds vul dit ook die outobiografieë aan wat Magnus Malan, Jannie Geldenhuys, Johan van der Merwe en Japie Basson geskryf het. Hierdeur sal ons almal beter verstaan hoe die laaste generasie blanke leiers van die tydperk vóór 1994 oor hulle politieke probleme gedink het en hoe hulle gehandel het. Daarom slaag die boek.
Daar is egter sekere “hoekoms” waaroor Papenfus en Pik nie antwoorde kon verskaf nie, byvoorbeeld waarom daar so ’n geheimhouding was tydens die SA Weermag se eerste inval in Angola in 1975; hoekom en deur wie steun vir Renamo in Mosambiek voortgesit is ná Nkomati; en waarom PW Botha in 1985 by die Rubicon vasgesteek het. Die één “waarom” wat Pik egter wel bewoord, klink tong-in-die-kies só (688):
1994 en daarna
En nou vra ons kinders
was dit ’n fout
dat Van Riebeek Kaap toe
gekom het
Waarom het die donner
nie in Holland gebly nie
En ons die ellende gespaar
om vir alles verwyt te word nie.

