Pieter W Grobbelaar se Kinders van konings van hoogstaande gehalte

  • 0

Titel: Kinders van konings
Outeur: Pieter W Grobbelaar
Uitgewer: Protea Boekwinkel
Publikasiedatum: Mei 2009
ISBN: 9781869192082

 

 CJ Langenhoven het gesê: “Hoe weelderiger woord, hoe skraler gedagte …” Dit laat ’n mens tog so lekkerkry, Kerneels se steke na die pretensie van die akademie. In dieselfde trant is Pieter W Grobbelaar self bekend vir sy soms ongeërgde verwysings na die sogenaamde geleerdes, en daarom sê hy in sy voorwoord van Kinders van konings: “Indien u bereid is om vir ’n wyle van literêre teorieë te vergeet, wag daar vir u ’n verrassende ontdekkingsreis deur die wêreld van die gewone volksmens – ’n wêreld waarin u sal kennis maak met die dinge wat hom laat lag of ontroer het” (10).

’n Bundel met Afrikaanse volksballades is ’n merkwaardige prestasie, hoofsaaklik omdat die ballade een van die ylste subgenres van die Afrikaanse volkspoësie/-lied is. Om 69 Afrikaanse volksballades mét musiek en kommentaar bymekaar te bring, is die taak van ’n leeftyd. Pieter W Grobbelaar kon die talle publikasies agter sy naam bereik deur werksywer, deursettingsvermoë en ’n ongeëwenaarde toewyding aan die Afrikaanse volkswoordkuns. Hierdie selfde toewyding het hy aan die dag gelê om oor baie dekades  heen volksballades te versamel en na te vors.

Kinders van konings is egter nie slegs ’n versameling volksballades waarvan woord en musiek gepubliseer is nie; dit bied ook substansiële teks oor die agtergrond van die volksballade in Afrikaans, oorspronge, Nederlandse en Engelse invloede, die tydperk van die Anglo-Boereoorlog en die finale bloeitydperk. Altesaam 23 teksskrywers wat met sekerheid geïdentifiseer kon word, word ook kortliks behandel.

Ná die teks en musieknotasie van elke ballade verskaf Grobbelaar ’n bespreking van die teks. Soms is dit van historiese aard, byvoorbeeld die greep uit die vroeë 18de-eeuse Engels/Franse geskiedenis soos weerspieël in die lied "Malbroekie" (67-73); ou Kaapse geskiedenis soos gevind in "Lied van die Swellendamsche helden", wat handel oor die Slag van Muizenberg, 1795 (76–80); of die verhaal van die dood van die Franse kroonprins, Lodewyk Napoleon, tydens die Zoeloe-oorlog van 1879 in "Trede niet naar de Zululand" (165–7). In ander gevalle bespreek die skrywer die herkoms en ontwikkeling van die lied, soos die 60-strofige "Jan Jurgens" van FW Reitz, wat gebaseer is op die ballade "The diverting history of John Gilpin" van die Engelse digter William Cowper (113-21). Reitz verafrikaans die verhaal deur dit heeltemal na ’n Suid-Afrikaanse milieu oor te plaas en natuurlik in Afrikaans oor te vertel. In dieselfde kategorie val "Die kat kom weer", deur Willem Versveld, gebaseer op "The cat came back", reeds in 1893 geskep deur die Amerikaanse liedjieskrywer Harry S Miller (209–18).

As "Jan Jurgens" en "Die kat kom weer" saam met tekste soos "Skuins Tamboer", "Die Skoon Isabel", "Groenland’s straatjies", "Beproefde trou", "Aan d’ oever van een snellen vliet" en ander beskou word, mag dit lyk asof talle van die ballades ook maar van Europese of Amerikaanse herkoms is, en dus nie eg Afrikaans is nie. Soos met ander genres van die volkslied sê oningeligtes ook maklik van die ballade dat Afrikaans tog nie volksliedjies het nie, dat alles eintlik oorgeneem of oorgeërf is. Dit is egter belangrik om te onthou dat die meeste kultuurverskynsels, van watter kultuur- of taalgroep ook al, produkte van oorerwing, akkulturasie of leengoed is. In Europa verskyn ’n enkele lied meermale in soveel verskillende tale dat die werklike oorsprong dikwels nie eers vasgestel kan word nie. Van die Spaanse ballade in die Romancero-tradisie, "Delgadina", is daar honderde tekste in Spanje en Portugal opgeteken, meer as 130 in Spaanssprekende lande soos Brasilië, Chili, Mexiko en Venezuela, en meer as 400 in Amerika. En elkeen van hierdie kultuurgroepe beskou "Delgadina" as hul eie. Dit is ’n bewys dat die volksmens ’n verhaal wat hom aangryp, sy eie sal maak, ongeag die herkoms.

Die volume en aard van die inligting wat in die besprekings van die ballades verskaf word, is ’n aanduiding van die diepgaande navorsing wat Grobbelaar oor die onderwerp gedoen het. Benewens algemene historiese agtergrond en die ontstaansgeskiedenis van die ballades bied hy ook by sommiges interessante stories rondom die gebruik of aanwending van die liedere. So is daar die verhaal van die twee blinde ooms in die Loeriesfontein-distrik wat die ballade "Die bruilof fan Flip Kotsee" tydens hulle toere om kos en geld in te samel, gesing het (242–6). Ook oor die musiek word interessante brokkies verskaf. Die teks en musiek van die Amerikaanse liedjie "Clementine" deur die liedjieskrywer Percy Montrose vorm die basis van die Afrikaanse "Antjie Schut" van FW Reitz, maar die melodie het, in Grobbelaar se woorde, “die Afrikaanse volksmens so betower” dat hy meer as drie dosyn tekste gevind het wat daarop gesing word (232–4).

Verder word daar by elke ballade ’n kort glossarium van minder bekende terme en frases wat in die lied voorkom, aangebied.

"Kinders van konings" maak die leser se oë oop vir die verskeidenheid van Afrikaanse volksballades wat, hoewel die versameling in volume nie met dié van Europese en Amerikaanse ballades vergelyk kan word nie, tog bestaan en wat vroeër jare ’n gewilde komponent van volksvermaak was. Grobbelaar se navorsing oor die ballade is van hoogstaande gehalte en hoef geen tree terug te staan vir navorsing wat in Europa en elders gedoen word nie.

By die lied "Die vaalkrosheer" (246–9) het die drukkersduiwel ongelukkig van die muskieknotasiebalke herhaal en ander weggelaat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top