Piet Steyn se Tou grinterig, grusaam en gedetailleerd

  • 0

Titel: Tou
Skrywer: Piet Steyn
Uitgewer: Tafelberg Uitgewers
Bladsye: 256
ISBN: 9780624049029

Klik hier en koop Tou nou van Kalahari.net!

Eers was daar Snoeiskêr (wat in 2007 ’n finalis vir die Sanlam/Insig Groot Romanwedstryd was), toe Bottelnek (2009), en nou is Pine Pienaar weer terug in Tou.

In die eerste twee boeke was dit ’n uitgemaakte saak: Wie wil nié iemand wat duime met ’n snoeiskêr knip of kele met ’n bottelnek afsny, agter tralies sien nie? Hierdie keer is die saak wat Pine ondersoek saam met sy kollega uit Welkom se omgewing, Jan Doep, egter nie so swart-en-wit nie. Die Kruisbende is ’n vigilantegroep wat die skuim onder misdadigers uithaal. Moordenaars van alle grade word behendig voorgelê en vasgetrek, ’n vinnige “verhoor” gegee en ter dood veroordeel. ’n Grusame dood daarby: die Kruisbende, of Hof onder die Kruis, soos hulle na hulself verwys, hang hulle slagoffers op, maar nie sodat hulle nekke breek “soos in die valdeur wat oopruk of in die L’Amour-boeke met ’n hou op die perd se gat nie (16)”, maar deur hulle stadig op te trek sodat hulle kan voel hoe die lewe hulle verlaat en dié wat nog op teregstelling wag, kan toekyk.

Die openingstoneel is bedóél om te skok. Jan Doep, Boeries en Mac kry op die misdaadtoneel vier mans wat by ’n plaasmoord betrokke was. Almal opgehang. Behalwe dat die drywer nog leef. Hy is só gelos dat hy net-net op die punte van sy tone kan staan. Teen elkeen van die veroordeeldes se bors is ’n papiertjie vasgespeld waarop hulle oortredings gelys word. Die toneel is grieselrig en die leser wil vinnig-vinnig dié groep fanatiese manne van die Kruisbende veroordeel wat Bybel-onder-die-arm regverdig wat hulle doen. Maar Steyn smokkel met jou kop. Wanneer jy sien watter gruweldade die veroordeelde misdadigers pleeg (nie net op die Vrystaatse platteland nie, maar ook in Johannesburg), wanneer jy ingetrek word by die onderwêreld van misdaad en korrupsie (ook in die polisie), begin jy self twyfel of Jan en Pine hierdie keer die skelms moet vastrek. Of dan, so hoop jy, moet hulle maar liefs hulle tyd met hierdie een neem. Dit is misdade wat jou maag laat draai, en alles daarvan weerspieël die Suid-Afrikaanse werklikheid.

Pine en sy span het egter nie ’n keuse nie. Hulle móét die Kruisbende vind. En gou ook, want die hele ding het die potensiaal om in ’n politieke nagmerrie te ontaard. Om sake te vererger, vermoed kommissaris Mkhize dat daar ’n mol in die taakspan is wat die Kruisbende steun en wat hy uitgesnuffel wil hê. Dié onaangename taak rus natuurlik ook op Pine se skouers. Verskeie van Pine en Jan se kollegas het simpatie met die Kruisbende en praat selfs hulle optrede goed, wat nie sy taak vergemaklik nie. Die uitdagings is groot en Pine sal hierdie keer sy storie moet ken.

Steyn se krag lê in die filmiese manier waarop hy ruimte opstel sodat die leser byna met ál die sintuie deel word van die verhaal. Sy karakters is uiteenlopend en besonder oortuigend geteken. Dit maak nie saak of jy sy vorige boeke gelees het nie – die karakters kruip onder jou vel in. Pine en Jan Doep, Boeries, Kat, Kassie, en Kris met sy vrou Stien en die rebelse tienderdogter Baby – jy hóú van hulle almal. Steyn se karakters praat hulle praat rég – jy sou enigeen van hierdie karakters op straat kon raakloop en onmiddellik herken. Van die kostelikste tonele in die boek speel af rondom Kris en Kassie. Soos die Saterdagmiddag wat hulle Stien se Datsuntjie, die een met die “ge-overallde enjintjie” aan die brand moet stoot (140–3).

Steyn het beslis die geheim van goeie misdaadfiksie ontdek: laat jou lesers sterk met die karakters identifiseer en siedaar! Hulle vóél byna die misdaad aan eie lyf. Natuurlik wil só ’n leser dan enduit lees agter die ontknoping aan. Hierdie leser hoop egter dat Steyn se ontknopings nie in die toekoms patroonmatig word nie. Maar van Pine en die span sal ek beslis meer wil sien.

In ’n land waar mense so bewus is van misdaad, waar dit só na aan jou kom, is die tema van Steyn se nuwe misdaadroman besonder relevant. Tou speel met die leser se sin vir reg en verkeerd. Dit laat jou fondament van geregtigheid effens wankel. Hoe ver mag ’n mens gaan om die wet in eie hande te neem? Kan jy ’n vigilantegroep soos die Kruisbende veroordeel wanneer die polisie se burokratiese ratte te stadig draai om misdadigers agter tralies te kry en die situasie jou eie veiligheid bedreig? Veral wanneer een van die misdadigers boonop verklaar: “As jy fokkol het, is Zonderwater soos ’n hotel. ’n Ordentlike dak oor jou kop en genoeg kos op die tafel. Jy kry tot fokken poeding ook, elke Woensdag” (109).

Met Tou lewer Steyn belangrike kommentaar op die Suid-Afrikaanse realiteit van misdaad en geweld. Hy skryf met insig en empatie oor die probleme wat die polisie teëkom en die frustrasie van die publiek. Hy skep ’n intrige wat nie net boei nie, maar jou ook lank na die lees nog laat dink en wonder. Maar bo alles bly die verhaal een met skop wat jou vinnig in die middel van die aksie plaas.

Piet Steyn het dit reggekry om met drie boeke te wys dat hy ’n skrywer is wat ’n mens maar kán dophou. Sy stories is grinterig, grusaam en gedetailleerd in beskrywings, en speel teen ’n vinnige tempo af. Boonop is dit relevant Suid-Afrikaans. En eg aan die Amerikaanse model is dit nie bedoel vir dié wat maklik ’n kol op die maag van bloed kry nie.

Wen ’n kopie van Tou!

Stuur ’n e-pos aan wen@litnet.co.za met die woord ‘Tou’ as onderwerp en antwoord die volgende vraag: Wie is die uitgewer van Tou?

Die kompetisie sluit 10 Desember.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top