Ek luister nou die dag na Lynette se Praatsaam en haar gas is Dr Croukamp (hierna Piet genoem om papier te spaar, geen disrespek nie) en die twee is toe weer besig met ’n ra-ra-die-NSA-is-die beste!-sessie.
Hierdie soort van ding kom nou al hoe meer voor; hoe slegter dinge in die NSA gaan hoe meer word daar 'positiewe' programme uitgesaai. Mense word byvoorbeeld gevra om in te skakel slegs as hulle iets positiefs oor die NSA wil sê (wat natuurlik enigiets negatiefs oor die OSA insluit). Hierdie storie het destyds al met Niekie begin.
Eventwil, die mense bel in en elkeen gee sy of haar voorbeeld van hoe dinge aan die agteruitgaan is. Piet weerlê dit elke keer deur te sê mens moet versigtig wees om so-iets te sê want dit is nie so nie.
Op ’n kol sê hy om die waarheid te sê, die wêreldbank voorspel ’n groeikoers vir Afrika van oor die 5% en vir Europa so-iets soos 3% (ek kan nou nie onthou vir watter tydperk in die toekoms nie). Piet moet dit gaan vertel waar ouens besig is om bande te brand en karre met klippe te gooi. Kan jy jou voorstel watter soort ontvangs Piet gaan kry as hy so’n partytjie opdaag en sê "Wat dring en dryf julle kêrels so? Die wêreldbank sê julle is beter af as die Europeërs. Gaan chill by die huis."
Op ’n ander keer sê Piet dat, as mens nou mooi oplet, hoor jy die mense kla oor misdaad en korrupsie. Hy reken toe dat, indien mens misdaad en korrupsie uit die vergelyking kan haal, dan is daar mos niks om oor te kla nie, dan is daar mos geen pyn met die huidige bedeling nie of hoe?
Hierdie redenasie van Piet klink nie vir my reg nie. Dit is vir my dieselfde as wanneer mens sou sê 'hierdie atleet verloor omdat hy die stadigste hardloop en lank vat om uit sy blokke te spring. As mens hom net kan kry om die vinnigste te hardloop en dadelik uit sy blokke te spring gaan hy mos wen, nie waar nie?'. Iets van die aard, dit maak nie sin nie.
Piet hou hom blind vir wat om hom aangaan. Hy lewe in absolute ontkenning wat betref die jammerlike mislukking wat die NSA is. Die enigste rede vir hierdie houding van Piet is omdat hy hom, dis nou die NSA, help skep het. In die proses het hy heel waarskynlik, soos Clem Sunter, voorspel dat ongekende welvaart op die land wag as 'demokrasie' omhels sou word.
Sogenaamde demokrasie ís toe omhels en dinge het toe níe so uitgewerk soos die demokraters (nog nie in die woordeboek nie) voorspel het nie. Inteendeel, dinge werk toe uit presies soos die 'dom regses' gewaarsku het. ’n Bitter pil om te sluk vir die demokraters, veral saam met eier. So, by baie demokraters is die houding nou jou kind is jou kind, al is jy dokter Frankenstein.
Dinge gaan egter nou só beroerd dat dit ONVERANTWOORDELIK is om die NSA te verdedig, om as't ware ’n dowe oor na die skrif teen die muur te draai. Ek hoor nou die dag byvoorbeeld daar is al oor die 3 000 boere vermoor en ek was altyd onder die indruk dis hier by die 2000. Dit wys jou hoe word dinge verdoesel, dis skandalig. ’n Studentepoets (Reitz) word oor gerou en geweeklaag vir weke in die media maar iets wat grens aan volksmoord word ignoreer. Lynette en Piet behoort hulle posisies te gebruik om die wêreld se aandag op hierdie skreiende ongeregtigheid te vestig maar hulle doen die teenoorgestelde ding, naamlik om die NSA goed te praat.
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap
Jan, apartheid was verkeerd, maak nie saak hoe dit nou gaan nie.