’n Swak indruk word deur De Vos gewek met sy redenasie dat ’n (oorwegend) Afrikaanse US ’n tweede of derderangse inrigting moet wees. Tydens apartheid (wat hy eensydig die "horrors of our past" noem) het Suid-Afrika vyf akademies voortreflike eentalige Afrikaanse universiteite gehad: Potchefstroom, Pretoria, Randse Afrikaanse Universiteit, Stellenbosch en Vrystaat; ook twee tweetalige universiteite, Port Elizabeth en Wes-Kaapland, wat albei sedertdien tot eentalige Engelse inrigtings getransformeer is. By elkeen van hierdie universiteite en by al die ander Suid-Afrikaanse universiteite vind daar sedert 1994 akademies groot agteruitgang plaas, onder andere weens rassediskriminasie teen wit studente en dosente en die afskaling van Afrikaans as voertaal.
Die aanstelling van ’n spesifieke swart dosent aan die US word deur De Vos as akademies voortreflik verheerlik. Maar in iedere advertensie oor vakante poste wat die US deesdae plaas, gee hy die versekering dat voorkeur aan kandidate uit "die aangewese groepe" gegee sal word. Dit beteken dat indien enigsins moontlik suiwer rassisties teen wit kandidate gediskrimineer sal word. Dit beteken ook dat voorkeur aan die groepverwantskap (swartes, vroue) van kandidate bo hulle akademiese bekwaamheid gegee word. Onlangs was daar ’n groot herrie hieroor. Maar De Vos se skewe siening is dat klem op akademiese gehalte die voortsetting van wit bevoorregting impliseer.
De Vos was voorheen ’n dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Die UWK is in die nuwe Suid-Afrika getransformeer van ’n oorwegend Afrikaanse universiteit tot ’n eentalige Engelse inrigting. Weens hierdie nuwe taalbeleid word baie Afrikaanse studente, wat voorheen daar sou studeer, deesdae uitgesluit. In die praktyk word daar nou van die US verwag om hulle te akkommodeer. De Vos stel Afrikaans aan die US as ’n uitsluitmeganisme voor, maar hy het nog nooit beswaar geopper wanneer Engels dieselfde rol aan bv die UWK en sy Universiteit Kaapstad vervul nie. Hy verswyg die bekende feit dat daar tans drie eentalige Engelse universiteite in die Wes-Kaap is (Kaapstad, UWK en die Cape Peninsula University of Technology) terwyl die meeste inwoners Afrikaanssprekend is. Die toegankliker US word deur hom en sy geesgenote vir kritiek uitgesonder; nie die Engelse komponent van die US nie, juis die Afrikaanse komponent, wat ’n broodnodige fasiliteit aan Afrikaanssprekendes bied.
Die US mag volgens De Vos nie oorwegend wit wees nie. Dit sou glo voortgesette onreg wees. Maar die tradisioneel swart universiteite in Suid-Afrika is almal steeds feitlik heeltemal swart. Waarom is dit vir De Vos aanvaarbaar? Wanneer begin De Vos met ’n veldtog teen die monokulturaliteit van bv Fort Hare? Is dit gelyke behandeling, dus dieselfde agting vir menseregte, as ’n swarte kan kies of hy aan ’n swart of ’n multikulturele universiteit wil studeer, terwyl die tradisioneel wit universiteite nie oorwegend wit mag wees nie, maar multikultureel moet wees? Waarom mag ’n universiteit nie ’n bepaalde kultuur verteenwoordig en uitbou nie? Volgens De Vos moet die sogenaamde taalbulle ophou om te veg teen die afskaling van Afrikaans aan die US. Soos Samantha Vice (SêNet, 12.07.2011) beveel hy aan dat gods water toegelaat moet word om oor gods akker te loop. As jy lojaal teenoor Afrikaans is en vir die heil van jou taal in die bres tree, gee jy, volgens De Vos, aan hierdie kern van jou kulturele erfenis ’n slegte naam. Dit is wat ek ’n drogredenasie noem.
Johannes Comestor

