Pierre de Vos het die mate van akademiese aansien wat hy het (bv oor konstitusionele sake) skade aangedoen; moontlik selfs in die linkse politieke geledere waar hy ’n mate van aanhang het. Ek sê dit na aanleiding van sy skrywe op 8 deser op sy webwerf Constitutionally Speaking. In sy teks oor Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) sê hy niks nuut oor die grondwet nie. Wat daar oor hierdie saak in die wet staan, is algemeen bekend. Omdat dit hom pas, kritiseer hy nie die grondwet nie. Daar kan beweer word dat van sy opmerkings tong in die kies bedoel is. Maar die oorheersende indruk wat die trant van sy teks by my laat, is dié van ’n Afrikaanssprekende wat aan ’n eentalige Engelse universiteit (Kaapstad) sy kulturele wortels ontken en politiek-korrek in die mode wil wees.
Hy is sinies oor die wittes wat sedert 1994 voel dat hulle benadeel word. Maar dit is ’n feit dat die ANC-regering werkreservering toepas deur te vereis dat twee groepe, naamlik swartes en vroue, by die vulling van poste en by bevordering bevoordeel moet word. Daar is hier geen sprake van ’n nie-rassistiese en nie-seksistiese nuwe Suid-Afrika nie, al word daar deurlopend pogings aangewend om dit as sodanig te propageer. Die veelgeroemde grondwet verbied nie rassediskriminasie nie. Rassediskriminasie teen wittes is statutêr geoorloof; dit word eintlik vereis. Die huidige beleid bring mee dat mense aangestel en bevorder word nie omdat daardie indiwidue bekwaam is nie, maar omdat hulle aan die genoemde twee groepe behoort. Dit is die kernrede waarom dienslewering deesdae so klaaglik misluk. Wittes wat ten spyte van hierdie dwase beleid ’n huis met ’n swembad en ’n luukse voertuig het, word deur De Vos verkwalik, maar dit is items waarvoor hulle waarskynlik gewerk het. Hulle het dit nie weens korrupsie of as aalmoese van die owerheid ontvang nie. Dit is uiters bedenklik dat hy net Afrikanerstudente met die misbruik van rooi wyn assosieer.
Angs oor die afskaling van Afrikaans aan die US is volgens De Vos onnodig. Diegene wat hieroor bekommerd is, word voorgestel asof hulle opportunistiese, brawe Afrikaners is wat na die goeie ou dae van apartheid verlang. Dit is egter voor die hand liggend dat ’n universiteit (anders as die ANC-regering – vorige paragraaf) rassediskriminasie (en daarmee apartheid) kan afskaf en enige persoon (dus afgesien van sy ras of kleur) as student of personeellid kan toelaat. Dit is wat die US reeds jare lank doen. Dit behoort voldoende te wees as ’n universiteit in hierdie opsig toeganklik is. Hierdie ontdaning van apartheid hoef nie tot twee- of meertaligheid in onderrig te lei nie. Om praktiese redes het die oorgrote meerderheid universiteite in die wêreld ’n enkele voertaal. Die US hoef geen uitsondering te wees nie. Die ANC-regering wil hê dat die US naas Afrikaans ook onderrig in Engels moet aanbied. Ingevolge elementêre verantwoordelike universiteitsbestuur moes die US vereis het dat die owerheid eers voldoende addisionele fondse bewillig voordat dit enigsins oorweeg sou word om die duur pad van onderrig in nog ’n taal te betree.
Johannes Comestor

