Pienk

  • 0

Ben Botha se bloed pomp vanaand blouer as gewoonlik. Oor minder as twintig minute draf sy span op die veld, en hy is nog nie eens naby die stadion nie. ’n Seisoenkaartjie verseker wel jou plek in die Bulkraal, maar vir parkering moet ’n man maar self kop stamp.

Ben swets gedemp. Sy bakkie brul nou ‘n hele ruk straatop en straataf, maar sonder sukses. Al wapper vlae weerskante van die stuurkajuit ook hoe blou, al sing Steve ook hoe hard en al hou hy en Willempie hulle oë wawyd oop, ‘n gaatjie vir die Nissan Hardbody sien hulle nie. En as hy die instruksies van blêddie motorwagte volg en in Bronkhorstspruit gaan parkeer, mis hy die afskop én die Blue Bull Babes, en dit kan nie. Dit mag nie.

Ben Botha en sy blou bakkie is soos kneukels van dieselfde vuis, en hulle ry gewoonlik waar hulle wil. Jagtrip, middestad, voorstede, maak nie saak nie. Hoe anders met ’n enjin met ‘n basstem en ’n bull bar waarop ’n paar beeshorings gemonteer is? Hoe anders as jou gechroomde tow bar met ’n paar plêstiektestikels uit Loftus se ondersteunerswinkel geseën is? Spesiaal so gerangskik dat die Blou in ander padgebruikers se gesigte kan rondswaai wanneer jy voor hulle insny of skielik rem?

Dis vanaand ’n groot game, en die strate rondom Loftus is ekstra besig. Dit lyk na vendusie. Die plakkate. Die braaivleisvure. Die horings. Die gedrang. Die stampede wat stadig maar seker opbou.

"Hier’s plek, Pa," wys Willempie, en Ben swaai onmiddellik die bakkie se neus by die opening in.

"Dink voor jy praat, seun, dis mos ’n blêddie driveway, man!"

"Sorry, Pa," sê Willempie, ook maar angstig om by die veld uit te kom.

Die bakkie luier, die Blou onder die towbar al wiegend na die skielike stop.

Die motorwag staan nader: “Jammer, meneer, maar ...”

"Nou maak dan ’n ander plan, man!"

Die wag glimlag verleë, trek skouers op, en verdwyn in die donker.

Kragtige koplampe skyn dwarsdeur ’n traliehek tot teenaan die garagedeur.

Ben leun skielik vorentoe, voorarms op die stuurwiel, geoefende jagtersoë stip op die bordjie teen die hek:

Raymond & Rodney Hair Creations. No parking in front of gate, please.

"Mag ons hier stop, Pa?" wil Willempie weet.

Ben antwoord nie, brom net iets van “moffies se moer” terwyl hy die enjin afskakel. Met ’n apologetiese gebaar maak hy Steve stil en rangskik haastig die slagorde van vlae en horinghoede.

Rodney kuier die naweek by sy ma in Durban, en Raymond wag dat die irriterende gedruis hier buite stil raak voordat hy ’n pizza gaan koop en ’n DVD uitneem. Hy sal lankal terug wees voordat die strate weer begin krioel met ’n klomp bulkende barbare.

Terwyl hy haastig ’n bietjie after shave aanplak en hom in ’n dun truitjie, jeans en ’n paar slip-ons wikkel, dink Raymond momenteel aan die helder ligte wat hy ‘n paar oomblikke gelede by die motorhek gewaar het.

Met die oopmaak van die garagedeur word Raymond se ergste vrees bewaarheid: ’n Blou bakkie gryns ewe brutaal vir hom deur die traliehek.

Raymond is op die daad kwaad. Hy is vir minstens tagtig minute gestrand, en boonop was hy by vorige geleenthede onder dieselfde vorm van beleg. Die bordjie teen die hek is van geen hulp nie. Kan hierdie common spul ooit lees?

Hy staan vir ’n paar oomblikke besluiteloos met die Chico se sleutels in sy hand. ’n Ingewing laat hom studio toe storm.

 Met ’n flits in die een hand en ’n pienk spuitkannetjie in die ander glip Raymond by die traliehek uit. Soos blits is hy by die agterkant van die bakkie.

Die motorwag sien wat gaande is en dink aan netnou se afjak. Hy hou die petalje glimlaggend vanuit die donker dop.

Raymond mik eers na die “Gee dit horings”-logo teen die bakwerk, maar dan val sy oog op die gruesome twosome wat laer af hang.

“Don’t fuck with a hairdresser,” sis hy.

Iewers op die hoofpawiljoen, terwyl die Bulle ten aanskoue van ’n hoogs tevrede Ben Botha en ‘n grootoog-Willempie die laaste bietjie binnegoed uit die opposisie bliksem, ervaar Ben Botha skielik ’n vreemde sensasie in sy kelderverdieping. Vreemd, maar nie onaangenaam nie. Koelerig, effe strelend.

By die huis berei Truida ’n ware tuiskomsmaal van gemarineerde Blou Bul-steak en tjips voor. Die manne in haar lewe gaan honger wees wanneer hulle vanaf die front terugkeer.

Sy weet hoe die res van die Saterdagaand gaan verloop: Kort na ete sal sy sorg dat Willempie sy ore was voordat Ben hom kamer toe boender. Dan sal Ben die opname van die wedstryd bestudeer terwyl sy haar in die hoek van die rusbank opkrul om half slaperig van drieë en amper-drieë te verneem. Terwyl hy steunend orent kom om vir hom nog ’n bier te gooi, sal sy solank gaan inkruip. Nog later sal hy die badkraan luidrugtig oopdraai en soos ’n seekoei daarin rondplons voordat hy bed toe kom. Dalk met hoë drif, afhangende of die Bulle gewen het.

Die rugby is finaal verby, en Truida lê in die bed en luister hoe Ben die badwater intap. Sy hoor hom inklim, hoe hy van genoegdoening kreun terwyl hy stadig agteroor lê.
Daar is ’n skielike roering in die water, amper soos dié van ’n groot dier wat ’n krokodil gewaar. Dit laat haar regop sit. Sy hoor hom gedemp na haar roep. Dit klink na ’n verdwaasde gebulk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top