Titel: In a Different Time
Outeur: Peter Harris
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415200490
Klik hier om meer oor die boek uit te vind.
Klik hier om die boek by kalahari.net te bestel.
In a Different Time gaan oor die politieke moordenaars wat aan weerskante van die politieke stryd van die jare tagtig werksaam was. Dit is ? boek wat jou sal skud, want dit is nie fiksie nie. Harris vertel op meesterlike wyse die verhaal van ? vyfman-MK-taakmag wat die land binnekom en in opdrag van hulle bevelvoerders geteikende polisiemanne uitwis. Oënskynlik doodgewone seuns van doodgewone ouers wat in die laat sewentigs landuit gevlug het om elders in Afrika en in Europa opgelei te word as soldate van die ANC. Die ouers is mense wat ons ken. ? Huishulp hier, ? hekwag daar, een selfs ? ernstige gelowige.
Die teenkant wat Harris ewe bekwaam skets, deels met inligting wat hy van die taakmag se manne moes kry en deels uit die rekords van die Waarheid-en-versoeningskommissie, skets die werksaamhede van die polisiemanne wat ewe moorddadig hulle teikens identifiseer, volg, vang, martel en uiteindelik vervolg. Sommige word vermoor. Hierdie manne lyk weer eens aan ons bekend. Doodgewone seuns van doodgewone ouers. Hierdie is manne wat saam met ons langs ? rugbyveld gestaan het en kyk het hoe klein seuntjies probeer het om met lomp hande ? rugbybal te hanteer. Hulle het Saterdagaande saam met ons om ? braaivleis gestaan en Sondae langs ons in die kerkbanke gesit.
Wat die twee groepe gemeen gehad het, is die meedoënloosheid waarmee hulle hul opponente uitgeroei het en die ongeërgdheid wat hulle getoon het wanneer onskuldiges in die proses gedood of gewond is. Die name van bekendes duik telkens op: Jacob Zuma. Chris Hani. Pallo Jordan. Ook Eugene de Kock, Dirk Coetzee, Almond Nofomela.
Harris was in 1989 ? prokureur wat gespesialiseer het in die verdediging van ANC-lede wat van ernstige misdaad aangekla is. In In a Different Time vertel hy die verhaal van die Delmas-verhoor waartydens vier ANC-lede aangekla is van veelvuldige moorde. Harris vleg op meesterlike wyse die feite van die twee groepe moordbendes – die ANC s’n en die polisie s’n – deur die feite van die verhoor. ? Belangrike parallelle intrige gaan oor die ontwikkeling van ? komplot om ? bom te maak om ? persoon in Lusaka te vermoor. Die spanning in die boek loop hoër en hoër op; daar is aksie en tragedie op elke bladsy. Die rolspelers se families word betrek. Harris en sy gesin ontsnap nie die pyn en stres van ? moeilike saak in moeilike omstandighede in ? vreemde dorp nie. Sy kliënte se ewe vreemde optrede maak dinge nóg moeiliker. En alhoewel die doodstraf op hulle wag indien hulle skuldig bevind sou word, weier hulle om aan die verhoor deel te neem of om hulle dade te verontskuldig.
As hierdie boek fiksie was, sou ? mens die skrywer wou kritiseer dat hy ? verregaande storie opgemaak het. Maar dit is nie fiksie nie. Ongelukkig is dit nie. Die feite is koud, en maak seer. Moeilike vrae duik op. Hoe het ons land gekom tot die punt waar ons seuns in soldate omskep is deur politieke meesters wat hulle dan uitgestuur het om opponente op onregmatige wyse dood te maak? En waar was die politieke meesters toe vergelding geëis is? Hoe het die Afrikaanse gemeenskap moordenaars van die aard van Eugene De Kock opgelewer? Hoe ongeërg het ons eie mense nie aan die doodmaakproses deelgeneem nie? Lees maar die volgende:
Hierdie is ? boek van nagmerries, van ons donkerste tye. Die geskiedenis moet neergeskryf word, en Harris doen dit soos dit gedoen behoort te word, van binne af, nie vanuit die gemak van ? leerstoel aan ? universiteit nie, maar met eerstehandse kennis en met meegevoel vir die voetsoldate van die lewe.
Ek moet my vooroordeel verklaar. Ek het die skrywer en sy vrou by die Kaapstadse Boekebeurs ontmoet, ? sjarmante paartjie. Maar diep agter in hulle oë bespeur ek vae tekens van die pyn en lyding van die las van ander mense se probleme, dieselfde pyn wat diep agter in elke Suid-Afrikaner se geheue lê, van moeilike tye toe ons teen onsself oorlog gemaak het.
In a Different Time is ? boek wat deur alle Suid-Afrikaners gelees moet word. Veral Afrikaanssprekendes.

