Persverklaring: Vakatures in die SA Akademie se Taalkommissie

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns beoog om van 2022 die aard en werksaamhede van die Taalkommissie te vernuwe sodat meer kundiges in die standaardiseringsprosesse van Afrikaans betrek word en groter inspraak, demografies sowel as geografies met inagname van streeks- en sosiale variëteite uit die breë Afrikaanse taalgemeenskap, verkry word.

Die werksaamhede van die Taalkommissie sal ondersteun word deur (a) ’n adviespaneel en (b) ’n taalbank (digitale repositorium van die SA Akademie se taaldata). Die Taalkommissie van maksimaal sewe lede sal minstens een keer maandeliks virtueel vergader. ’n Jaarlikse openbare webinaar sal gehou word om verslag te lewer van die belangrikste sake waaraan aandag gegee is.

Taalkommissielede sal kontraktueel vir ’n termyn van drie jaar aangestel word en werk op ’n deeltydse grondslag. Vergoeding is beskikbaar.

Aansoeke van belangstellende kundiges word tans afgewag vir die volgende vakante poste in die Taalkommissie:

  • Hoofredakteur
  • 2 x taalkundiges (spesifiek in die morfologie, sintaksis, semantiek of sosiolinguistiek)
  • 2 x taalpraktisyns
  • 1 x rekenaarlinguis (met kennis en ervaring van korpus- en leksikonverwerking, programmering in Perl/Python, en VB en Microsoft Excel)
  • 1 x nuwemediaspesialis (met taalkunde- en sosialemediakennis en goeie skryfvaardighede)

Aansoeke sluit op 25 November 2021.


 

Stuur aansoeke met ’n volledige CV en rig navrae aan die Hoof- Uitvoerende Beampte by ambeukes@akademie.co.za.
Aansoekvorms is verkrygbaar by linda@akademie.co.za.


 

Meer inligting oor die Taalkommissie

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, ’n multidissiplinêre organisasie wat, benewens die bevordering van die wetenskap, tegnologie en literatuur in Afrikaans en die kunste, ook die gebruik en gehalte van Afrikaans deur sy Taalkommissie bevorder.

Die Taalkommissie is ’n besluitnemingsliggaam van die SA Akademie wat sedert 1914 die Afrikaanse taal bereël deur taalnorme vir die gebruik van geskrewe Afrikaans vas te stel met inbegrip van die spelling, skryfwyse, punktuasie en grammatika daarvan. Hierdie werksaamhede sluit advies en voorligting in oor Standaardafrikaans aan die SA Akademie en die breë publiek. Elf uitgawes van die gesaghebbende Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) opgestel deur die Taalkommissie het reeds oor die afgelope honderd jaar verskyn. Oor die jare het denke en vertrekpunte oor standaardisering telkens verskuif na gelang van veranderde omstandighede en taalbeskouings.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top