Persverklaring: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

  • 0

20 August 2012

Tydens die uiters geslaagde minisimposium wat Donderdag 16 Augustus 2012 by die Groenkloofkampus van die Universiteit van Pretoria deur die SA Akademie oor finansiering van hoër onderwys aangebied is, het die SA Akademie opnuut sy kundigheid aangebied om hierdie soort onderwysprobleme te help oplos.

  • Dr Theuns Eloff (visekanselier van Noordwes-Universiteit) het oor "Universiteite, markkragte en markmeganismes – die finansieringsparadoks" gepraat en onder meer beklemtoon dat ’n universiteit nie ’n doel op sigself is nie. Die klem moet nie net op navorsing wees nie, onderrig moet vanselfsprekend kwaliteitgedrewe wees en die subsidie van die staat moet beide komponente in ag neem. Daar moet ’n haalbare middeweg tussen onderrig en navorsing gevolg word. Prestasie moet beloon word en afstandonderrig uitgebrei word.
  • Prof Antony Melck (uitvoerende direkteur, Universiteit van Pretoria) se bydrae was oor "Aktuele vraagstukke ten opsigte van universiteitsfinansiering" en hy het betoog dat die leningsfaset aan studente aan uitsette gekoppel moet wees. Die raakpunt tussen koste en aanbod moet realisties wees en subsidies op studente se aanvraag baseer word. Die toename in studentegetalle moet in aanmerking geneem word by die toekenning van staatsubsidies.
  • Dr Jean van Rooyen (navorsingsgenoot van die National Education Finance Conference van die VSA) het onderstreep dat ervaring en die kwaliteit van die onderwyser deurslaggewend moet wees ten opsigte van kosteberekening in die hoër onderwys.

Die SA Akademie het opnuut bewus geword van die tydigheid van hierdie soort minisimposiums en het reeds versoeke ontvang om in die toekoms soortgelyke geleenthede te reël.

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns beklemtoon net graag dat die kundigheid van die 1 000 lede van die SA Akademie beskikbaar is om te help met die oplos van probleme in die land. Ons staan nie op die kantlyn en kritiseer nie. Ons wil ook daar wees waar gewerk word.

Dr Dion? Prinsloo
HUB van die SA Akademie
dprinsloo@akademie.co.za
012-328-5082; 082-464-6953

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top